Nog ‘n blink knewel by myn gekry PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 April 2019 13:05
Untitled Document

‘n Bielie van ‘n diamant is op 29 Maart by die Cullinan-diamantmyn gevind. Die steen is ‘n 425,10 karaat D-kleur Tipe II edelgesteentegehalte diamant.

Volgens Petra Diamonds se woordvoerder, Marianna Bowes, is dié vonds ‘n verdere bewys dat daar steeds stene van dié aard in die Cullinan-myn beskikbaar is. Sy sê dat dit ‘n teken is van die myn se vermoë om die volledige spektrum van diamante uit te haal.


Die knewel wat op 29 Maart by die Cullinan-diamantmyn gevind is
Foto: Petra Diamonds

Dié fonds het ‘n welkom hupstoot aan Petra Diamonds gegee en die maatskappy se aandele het met sewe persent gestyg toe die nuus gebreek het.

Petra Diamonds is ‘n onafhanklike diamantmyngroep en ‘n verskaffer van edelgesteentegehalte ongeslypte diamante aan die internasionale mark. Die maatskappy se portfolio sluit drie ondergrondse myne in Suid-Afrika in (Finsch, Cullinan en Koffiefontein) en ‘n oop-put myn in Tanzanië (Williamson).


Die steen is ‘n 425,10 karaat D-kleur Tipe II edelgesteentegehalte diamant
Foto: Petra Diamonds

Die Cullinan-myn se naam is verewig toe die grootste ongeslypte diamant ooit, die 3,106 karaat Cullinan-diamant, in 1905 daar gevind is. Frederick Wells, oppervlakbestuurder van die Premier Diamantmyn, het dié diamant op 2 Januarie 1905 gevind. Blykbaar het ‘n mynwerker vir hom gewys dat die sonstrale ‘n blink voorwerp vang.

Verskeie diamante is uit dié steen geslyp en vorm vandag die Britse kroonjuwele. Die grootste hiervan is ’n geslypte diamant van 530.2 karaat wat bekend is as die Ster van Afrika en een van 317.4 karaat.


Die vroeë dae by die Premiermyn
Foto: Cullinan-mynargiewe

Daar is destyds bespiegel dat die Cullinan-diamant ’n afgebreekte deel is van ’n klip wat meer as twee keer so groot in sy oorspronklike vorm was en dat die ander, groter deel nog ontdek moet word.

Cullinan is ook die plek waar die grootste geslypte diamante in die wêreld, die ‘Golden Jubilee’ teen 755 karaat rof en 545.67 geslyp, in 1985 ontdek is.


Fred Wells wys waar hy die Cullinan-diamant in 1905 gevind het
Foto: Cullinan-mynargiewe
.


Thomas Cullinan, links, neem die diamant wat na hom vernoem is van William McHardy, middel, en Fred Wells staan regs
Foto: Cullinan-mynargiewe

Cullinan se myn het al meer as 700 diamante groter as 100 karaat opgelewer en is verantwoordelik vir meer as ‘n kwart van die wêreld se stene groter as 400 karaat.

Sedert Petra se oorname van die myn in 2008 is etlike diamante ontgin wat die wêreld se aandag opnuut op Cullinan gevestig het. Dit sluit blou diamante van 39 karaat en 26 karaat en ‘n allemintige wit diamant van 507 karaat in. Hy was een van die 20 grootste hoë kwaliteit diamante wêreldwyd en is in September 2009 uitgehaal.


Die myn se put vandag
Foto: getyourguide.com

Dié diamant is teen 35,3 miljoen Amerikaanse dollar verkoop, die meeste wat ooit vir ‘n ongeslypte diamant betaal is. Die knewel is gekry saam met drie ander diamante van onderskeidelik 168, 58.50 en 53.30 karaat.

 

© 2019 Die/The Bronberger