Duisend Boeregesinne volg tref-en-trap oorlog-leier na Mexiko PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 29 July 2013 02:51
Untitled Document

Angie Kleijn

Een van die Boeregeneraals wat hier in ons kontrei aan die veldslae van Donkerhoek (Diamond Hill) en Witpoort deelgeneem het, het ná die Engelse oorlog ‘n Boere-kolonie in Mexiko begin.

Die Afrikaanse kolonie in Argentinië is wyd bekend, maar min mense weet dat ongeveer ‘n duisend Boeregesinne hulle tussen 1903 en 1905 in Chihuahua, ‘n deelstaat in die noorde van Mexiko, gevestig het.

Dié gesinne het Generaal Ben Viljoen gevolg, ‘n man wie se lewensverhaal soos ‘n avontuur lees – van veldslae en krygsgevangenskap tot ‘n oorlog-sirkus; van vriendskap met die Amerikaanse president tot vertroueling van Mexiko se revolusie-leier.


Benjamin Johannes Viljoen
Foto: Meyer Ltd. Pretoria

Gebore
Benjamin Johannes Viljoen is op 7 September 1868 in ‘n grot in die Kaapkolonie se Wodehouse-distrik gebore. Dié grot was die Viljoen-gesin se tydelike woning terwyl hulle ‘n plaashuis gebou het.

Ben het op die plaas Varkiesdraai naby Umtata, Transkei, grootgeword. Hy is in 1889 op Umtata met sy eerste vrou, Helena Beatrix (Lenie) Els, getroud en hulle het vyf kinders gehad: Eugene W; Ockert Bertrand; Benjamin Villion; Sylvanus Wilhelmus; en Wilhelmina Helena.


Ben Viljoen sit voor, tweede van regs, in die tyd van sy kolonie-onderhandelings
Foto: Vertroue in God en die Mauser

‘n Jaar na Ben en Helena se troue het hulle na Johannesburg verhuis, waar hy ‘n prominente rol in burgerlike sake en joernalistiek begin speel het. Hy het die Krugersdorpse Vrywilligerskorps in 1896 gestig en het die stryd teen die Jameson-invallers (Desember 1895 tot Januarie 1896) aangepak.

Ben was ‘n Krugersdorpse lid van die Volksraad, waar hy knap voor die Engelse Oorlog (1899-1902) die stelling gemaak het dat dit tyd was om vertroue in “God en die Mauser” te sit.


Ben Viljoen in die tyd van die Engelse Oorlog
Foto: Wikipedia

Ben, sittend, en sy sekretaris, J Visser
Foto: Wikipedia

Oorlog
Toe die oorlog uitbreek, het Ben as vegtende kommandant van die Johannesburgse Kommando in Natal diens gaan doen. Daar het hy op 21 Oktober 1899 saam met twee vrywilligereenhede, die Duitse- en Hollandse korpse, aan die Slag van Elandslaagte deelgeneem.

Met die Boere se terugval deur die Biggarsbergreeks, ná die aflossing van die beleg van Ladysmith, het Ben by Van Tondersnek naby Pomeroy stelling ingeneem om Lord Dundonald se aantog te stuit.


Ben Viljoen se kommando in die Engelse Oorlog. Is dit regtig ‘n bobbejaan wat voor sit met ‘n vuurwapen?
Foto: Vertroue in God en die Mauser
.


Ben het die Boere-nedersetting in die noorde van Mexiko met president Theodore Roosevelt se ondersteuning begin
Foto: Wikipedia

Ná dié front se disintegrasie is Ben Transvaal toe om die Britse opmars teen Pretoria te probeer stop.

Ben en sy Johannesburgse Kommando en generaal De la Rey en sy Lichtenburgse Kommando was op 26 Mei 1900 daar toe die Britse generaal Ian Standish Monteith Hamilton die Vaalrivier oorgesteek het. Ben het ook deelgeneem aan die Slag van Donkerhoek (Diamond Hill) en die Slag van Witpoort.


Vandag staan Hacienda Humboldt as Plaza Julimes bekend
Foto: "Kekox" Panoramio.com

Guerrilla-oorlog
Tog het Ben se groot suksesse eers begin met die langdurige guerrilla-fase van die oorlog, wat in September 1900 begin het. Hy was een van die eerste Boeregeneraals wat die tref-en-trap-tegniek, veral teenoor spooraansluitings, toegepas het.

Ben het sy gesin na Europa gestuur en daarná met 'n kragtige guerilla-kommando van burgers uit Noord- en Oos-Transvaal, Johannesburg, Krugersdorp en Boksburg die oorlog verder gevoer.

Hy is in November 1900 tot assistent kommandant-generaal bevorder, die naas hoogste rang in die Boeremagte, en was verantwoordelik vir die voortsetting van die Boereweerstand in 1901, ’n jaar waarin vele oorgegee het. Ná verskeie noue ontkomings is Ben uiteindelik op 25 Januarie 1902 by Lydenburg in ’n lokval gelei en gevange geneem.


Ben en Mexikaanse revolusie-leier, Francisco Madero, in 1911
Foto: Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging, V2, No. 9

Francisco Ignacio Madero
Foto: Wikipedia
.

Hy was tot Mei 1902 ‘n krygsgevangene in die Broadbottom-kamp op St Helena en het dié tyd gebruik om ‘n boek te skryf, ‘My Reminiscences of the Anglo-Boer War’.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy geweier om Britse burgerskap te aanvaar. Anders as die meeste boere het Ben geen grond besit nie en dit, saam met die feit dat hy gekrenk was deur die ophef wat oor De la Rey en De Wet gemaak is, het Ben laat besluit om die land te verlaat.


Ben Viljoen, links, en Kommandant Willem Snyman, stigters van die Boere-kolonie
in Santa Rosalía, Chihuahua, Mexiko
Bron: persistentfrontiers.com

Verlaat
Ben en Boerekrygsmanne, soos kommandante Joubert, WD Snyman, Fouché, Niemann, W Malan en Kritzinger, het die land ná die ondertekening van die Vrede van Vereeniging verlaat en het via New York na Mexiko gereis om die gebied te verken.

Tussen 1903 en 1905 het Ben, met die ondersteuning van president Theodore Roosevelt, ‘n Boere-nedersetting in die noorde van Mexiko by Hacienda Humboldt in die munisipaliteit van Julimes in Chihuahua begin.


Julimes is een van die 67 munisipaliteite in Chihuahua in noordelike Mexiko

Chihuahua, ‘n betreklik droë en yl bevolkte streek van 24 5000 vk km groot, is Mexiko se grootste deelstaat.

President Roosevelt het twee mans gehuur om die grond te help kies en om eiendomsonderhandelings te doen. Hulle was ‘n Roosevelt familie-vriend, Marshall Latham Bond, en die man van ‘n Roosevelt-familielid, Edward Reeve Merritt.


Ben vergesel Francisco Madero en generaal Roque González Garza in San Antonio, Texas in 1910
Foto: terra jaarverslag 2010

Een van vele boeke oor Ben Viljoen
.
.

Sirkus
Ben het intussen in 1904 saam met generaal Piet Cronjé deelgeneem aan die Louisiana Purchase Exposition, informeel bekend as die St Louis World's Fair, in St Luis, Missouri. Hulle militêre vertoning het as die ‘Boere-oorlog Sirkus’ bekend gestaan. Frank Fillis het dit as die grootste en mees realistiese militêre skouspel in die wêreld se geskiedenis bemark. Daar was ‘n Britse kamp, verskeie Afrika statte wat Zoeloes, Boesmans, Swazis en Ndebeles uitgebeeld het en ‘n 61 000 m²  arena waarin soldate deelgeneem het aan parades, sport en perderesies. Die hoof veldslae uit die Engelse Oorlog is twee keer per dag uitgevoer.


Die Vrymesselaar-begraafplaas by Las Cruces, Dona Ana-distrik, New Mexiko
Foto: Margaret

Elke veldslag het twee tot drie ure geneem en verskeie generaals en 600 veteraan-soldate uit beide Boere en Britse geledere het deelgeneem. As die hoogtepunt van die skouspel het die Boeregeneraal Christiaan de Wet op ‘n perd ontsnap deur vanaf ’n hoogte van 11 meter in ‘n poel water te spring.

Toegangsfooie het gestrek van 25 sent tot $1 en toegang tot die statte was ‘n verdere 25 sent. Dié produksie het $48 000 gekos om op te rig en die opvoering het ‘n totale bedrag van $630 000 ingebring en omtrent $113 000 tot die St Louis World's Fair se koffers bygedra – die mees winsgewende militêre skouspel by die geleentheid.


Ben se grafsteen is 'n eenvoudige, gegraveerde vaas
Foto: Glenn Joiner
.

Die inskripsie op Ben se graf in die Vrymesselaar-begraafplaas by Las Cruces, Dona Ana-distrik, New Mexiko
Foto: Glenn Joiner

Kritiek
Die ‘Boere-oorlog Sirkus’ was baie gewild in die VSA, maar het hewige kritiek vanuit Suid-Afrikaanse geledere ontvang. Ook het Ben se vrou Lenie, wat hy vir drie jaar in die oorlog skaars gesien het, geweier om Suid-Afrika te verlaat. Ben en Lenie is geskei en hy is later met ‘n Amerikaanse vrou, Myrtle Dickerson, getroud.

Sy ouers, broer en een van sy seuns was deel van die ongeveer duisend Boeregesinne, hoofsaaklik uit Transvaal, wat by Ben se Mexiko-kolonie aangesluit het.

Later jare het Mexiko se ambassadeur in Suid-Afrika, Cassio Luiselli, vertel hoe dié Chihuahua Boere-koloniste deur die owerheid verwelkom is en watter belangrike bydrae hulle tot die ontwikkeling van landbou in Mexiko gelewer het.


Dié spotprent oor die Engelse Oorlog-skouspel was in die ‘Richmond Planet’ van 25 February 1905
Bron: persistentfrontiers.com

Landbou
Hy het gesê dat die Boere 83 000 akkers grond ontvang het, en dat 34 gesinne hulle aanvanklik op die Santa Rosalia-landgoed in die munisipale gebied van Julimes, suidoos van Chihuahua, hoofstad van die deelstaat met dieselfde naam, gevestig het.

Later het die Boeregesinne begin instroom en hulle het die Hacienda Humboldt gestig waar hulle hoofsaaklik graan verbou het en met katoen en tabak geëksperimenteer het. Die plan was om ses aangrensende plase as basis vir die Boere-kolonie aan te lê.

Die Chihuahua-distrik se grond was vrugbaar en die plaaslike bevolking het ’n tradisie van ontvanklikheid vir vreemde kulture gehad, wat beteken dat die Boere hulle eie lewenswyse kon voorsit.


Die program vir die Engelse Oorlog-skouspel by die ‘World’s Fair’, St Louis in 1904. Lord Roberts is links onder en Generaal Cronjé regs onder
Bron: Wikipedia

Ramp
Alles het soos ‘n sprokiesverhaal verloop tot 1910 toe 'n groot deel van die Boerebevolking van Chihuahua deur oorstromings van die Conchos- en die San Pedrorivier uitgewis is. Dié ramp en die Mexikaanse revolusie, wat in ’n uitgebreide burgeroorlog ontwikkel het, het tot die verbrokkeling van die Boere-kolonie gelei.

Volgens Cassio Luiselli is die lotgevalle van die Boeregemeenskap ná die aanvang van die revolusie, en hoe en waarheen hulle uitmekaar gedryf het, nie werklik bekend nie.

Hy sê dat daar, sonder noukeurige aanduidings, melding gemaak word van ’n aantal gesinne wat hulle in die omgewing van die deelstaat Sonora in die weste van die land gevestig het. Ander het na die hawe Tampico aan die Golf van Mexiko getrek.

In die Mexikaanse revolusie, vanaf 1910, het Ben aan die kant van Mexiko se revolusie-leier Francisco Ignacio Madero, geveg. In April en Mei 1911 het hy aan die Slag van Ciudad Juarez deelgeneem.

Madero het in 1911 president van Mexiko geword en in 1912 het Ben sy militêre raadgewer geword. Hy het dié pos beklee tot die sluipmoord op Madero in 1913.

VSA
Ben het intussen na die aangrensende VSA-streek, New Mexiko, getrek waar hy Boere-kolonies in Doña Ana in Berino, Chamberino en La Mesa gestig het en by plaaslike politiek in die Mesilla Vallei betrokke geraak het.

In sy tyd as Madero se adviseur, het hy ‘n kommissie as majoor in die Mesilla Vallei se gebiedsmag se eerste regiment van infanterie aanvaar. In 1911 het Ben, George Curry en Albert Bacon Fall na Washington gereis as deel van die afvaardiging om die New Mexiko-streek staatskap te gee. New Mexiko is in 1912 tot die Unie toegelaat as die 47ste staat.

Ben het ‘n groot invloed op landbou in die Mesilla Vallei gehad en het nuwe gewasse en boerderypraktyke bekendgestel. Hy het in die ontwerp van die ‘Elephant Butte Dam’ belanggestel en het besproeiingstelstels vir die vallei ontwikkel.

Sy boeke, ‘Under the Vierkleur’ en ‘An Exiled General’, is hier geskryf. Hy het Amerikaanse burgerskap aanvaar, en ‘n goeie vriendskap met Theodore Roosevelt en New Mexiko se goewerneur, George Curry, opgebou.

Ben was ook vir ‘n ruk VSA konsul in Duitsland. Hy het toe reeds gesondheidsprobleme ondervind en het op sy plaas naby La Mesa afgetree, waar hy op 14 Januarie 1917 oorlede is. Ben is in die Vrymesselaars-begraafplaas in La Mesa begrawe.

 

© 2014 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online