Daar is krokodille in die Zwavelpoortspruit Print E-mail
News - Artikels
Monday, 26 January 2009 23:00
Untitled Document

Daar is krokodille in die Zwavelpoortspruit. Nee, dit is nie ’n swak poging tot ’n voortydige Aprilgek-grappie nie. Dis ’n feit soos ’n koei, of soos ’n krokodil, dan. En die bewys daarvan lê veilig ‘in transito’ in ’n eendehok op ’n Zwavelpoortplot; ’n uitgevrete Nyl krokodil van by die twee meter lank. Toe Charl van der Merwe laat in verlede jaar ’n reuse vanghok begin bou om die krokodille, wat maai onder die vis in sy foreldam, te vang, het almal vir hom gelag. “Ou Charl het seker ’n likkewaan of ’n groot baber gesien,” het hulle gespot.


Die ?skerpkant? van Zwavelpoort se krokodil is iets waarmee ?n mens liewer nie wil slaags raak nie

Maar die Bronberg se eie ‘Crocodile van der Merwe’ het hom nie laat afsit nie. Hy het sy “custom-made” vanghok in die dam gestel en in die tweede week van die nuwe jaar, ná een byna katastrofiese, mislukte poging, het hy ta veilig agter tralies gehad.

Met die jong krokodil wat verlede week nog in sy tydelike hok met ’n diep eendedammetjie gewag het om oorgeplaas te word na die veiligheid van ’n bewaringsgebied, is Charl nou op die spoor van sy maat. En dan is berig ontvang van nog twee krokodille in Douw Venter se dam verder stroom af.

Waar die krokodille nou skielik vandaan kom, is ’n raaisel waaroor ’n paar teorieë bestaan. Een daarvan is dat sekere mense van Mooikloof, verder stroom-op, klein krokodilletjies as troeteldiere aangehou het en toe die gediertes ongemaklik en gevaarlik groot begin raak, hulle met die vryheid van die Zwavelpoortspruit beloon het.

’n Ander moontlikheid waaroor bespiegel word, is dat die krokodille op ’n manier van ’n krokodilboerdery anderkant Bashewa ontsnap het en in die spruit beland het.


Charl (Crocodile) van der Merwe by die Zwavelpoort-dam waar krokodille kom nesskop het

Lankal
Charl meen egter die reptiele kon bes moontlik al lankal hier onder hulle neuse nesgeskop het. Ses jaar gelede kon hy sweer hy het ’n krokodil in die spruit gesien, maar omdat dit só verregaande geklink het, het hy homself wysgemaak dat dit seker maar ’n likkewaan was.’n Bietjie meer as ’n jaar gelede het Billy le Roux, bestuurder by ’n groot hardeware-onderneming, op ’n dag forel in Charl se dam gevang toe hy ook sy kop-op-’n-blok kon sit dat hy’n krokodil in die dam gesien het.

Dié keer het Charl ook soos die ander skeptikusse gereken ou Billy het seker maar ’n likkewaan gesien. Maar dinge het regtig begin roer toe die 13-jarige Dirk Stofberg ’n bietjie meer as ’n maand gelede met’n vlot op die dam gevaar het. Die dam lê gedeeltelik op sy pa, dr. Tiaan Stofberg, se hoewe en gedeeltelik op Charl se plot. Charl se foreldam is net met ’n wal van dié dam geskei. Dirk het grootoog kom vertel dat ’n krokodil vlak teen die vlot langs hom verby is.


Die gekamoefleerde vanghok lê gereed in die vlakwater
.

Net twee van die baie werkers wat kom help het, was in die begin bereid om Morgan die vanghok te help uithaal

Dis toe dat Charl se seun, Morgan, besluit het om te gaan ondersoek instel en met ’n kano kruis en dwarsoor die damme gery het. Sy verkenningstog was suksesvol en sommer gou het Morgan en sy vriende twee krokodille raakgeloop.

Charl het besluit die nuwe dambewoners het nou lank genoeg weggelê aan sy forelle en aan die swartbaars in Tiaan Stofberg se dam. Die dieet van krokodil se kind bestaan immers 70 persent uit vis. Verder vreet hulle paddas, insekte, voëls en as hulle groot genoeg is – wie weet?


Die hok met sy vreesaanjaende inhoud word weggesleep

Veilig in die versterkte vanghok

.

Hok
Operasie hokbou is aangepak en gou het ’n pasgemaakte krokodilvanghok gereed gestaan, kompleet met ’n meganisme wat die valhek laat toeslaan as ou skubbe voor aan die aas (goedgunstiglik verskaf deur Kobus (Hoender) Jacobs) sou hap. Die hok is gekamoefleer en in die vlak waters langs die dam se oewer gestel. En toe begin die wagtyd.

Elke oggend het Charl ’n draai gemaak by die hok, maar telkens was dit leeg. En toe, half drie een oggend, was Morgan besig met sy plotwagrit toe hy besluit om ’n draai by die hok te gooi en daar sit meneer, of mejuffrou, dalk. Morgan het vir pa Charl by die opstal loop haal en saam het hulle die hok met vangs en al tot op die oewer gesleep.

Die gevangene was glad nie ingenome met sy lot nie. Hy het woes gespook en toe met ’n aanloop van die een punt van die hok na die ander gestorm en ’n gat dwars deur die valhek gehardloop. Weer op vrye voet, het hy die pad gevat terug water toe.


Die krokodil in sy tydelike tuiste voor hy na ?n bewaringsgebied verskuif is

Dit het volgens Charl ’n hele gedoente afgegee. Fergus, die Van der Merwes se vreeslose Jack Russel, het nie op hom laat wag nie en keffend al om die krokodil gehardloop. Op ’n plaat klippe reg langs die water het krokodil se kind voor die blaffende Fergus vasgesteek.

Dis toe wat Charl vir Morgan net betyds gekeer het en ’n moontlike katastrofe in die kiem gesmoor het. Want Morgan het gedink hy moet op die krokodil se rug spring en hom tot oorgawe stoei. Die krokodil is toe soos blits weer die dam binne. Die hok is verstewig en weer gestel en ’n week later het die krokodil hom weer vasgeloop. Dié keer het Charl hom op sy vroegoggendinspeksie gekry en al wat ’n werker is op Charl en al die bure se plotte het kom help om die hok op ’n bakkie te laai en die krokodil veilig in sy tydelike tuiste te vestig.

Oud
In Suid-Afrika word ’n volwasse mannetjies krokodil tot vier meter lank en die wyfie tot 2,5 meter. As Zwavelpoort se krokodil ’n wyfie is, kan sy amper volwasse wees en as dit ’n mannetjie is, kan dit ses of sewe jaar oud wees, sê die mense wat weet.

Een manier om vas te stel watter geslag ’n krokodil is, is glo om jou vinger in sy agterent te druk en te voel. Só dapper, sê Charl van der Merwe, is hy nie. ’n Krokodil kan 70 jaar oud word in gevangenskap en rondom 50 jaar in die natuur. Die oudste Nyl krokodil bekend is 107 jaar oud.

Hoeveel krokodille nog in die Zwavelpoortspruit bly is ’n ope vraag, maar die feit dat hulle kan oorleef en floreer dui daarop dat die spruit “gesond” is. Charl sê as iemand las van een het, of van enige ander wilde gedierte, kan hulle hom nader om dit aan te keer.


Die lang vanghok wat Charl geprakseer het om ?n krokodil te kan vang

Charl en Morgan van der Merwe by Fergus, die vreeslose Jack Russel wat eiehandig ?n krokodil wou aanvat
 

© 2024 Die/The Bronberger