Hy is graanboer se grootste nagmerrie PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 21 September 2009 14:25
Untitled Document

Dié voëltjies is ’n graanboer se grootste nagmerrie. Hulle is al beskryf as die sprinkane van die voëlfamilie en kan in kwetterende swerms van miljoene voorkom wat langer as vyf ure kan neem om in gesinkroniseerde golf-bewegings verby te vlieg.

Wanneer ’n miljoen rooibekkwelea op ’n kleingraanoes neerdaal, vreet en mors hulle tot vier ton per dag. Volgens Nico Vermaak van Graan SA, mors vretende voëls soms net soveel as wat hulle vreet omdat halfgevrete graan op die grond val.

Al waarvoor ’n graanboer kan hoop, is dat dié nomadiese swerms nie op sy grond kom broei nie. Kwelea vreet gewoonlik nie verder as ’n kilometer van hul broeiplek af nie. Die rooibekkwelea maak nes in groot kolonies van ongeveer 300 000 voëls. Die broeisiklus is gekoördineer en ’n groot hoeveelheid voëls daag uit die bloute gelyk op en begin dadelik nesbou. Wyfies lê ’n gemiddeld van drie ligblou eiers op ’n keer, wat na 12 dae uitbroei.

Die kuikens word met insekte gevoer vir ongeveer 20 dae, waarna hulle onafhanklik begin voed aan grassade en graan. So ’n broeisiklus kan binne 35 dae voltooi word en die kolonie word gewoonlik binne ses weke verlaat. Rooibekkwelea kan drie keer per seisoen broei, van Oktober tot April.

Buite broeiseisoene kan kwelea 40 km na ’n voedingsbron aflê en weer terugkeer na dieselfde slaapplek. Dié is egter nomadiese voëltjies wat veel verder as 40 km trek agter kos aan. Volgens die Direktoraat Migrerende Plaagbeheer, kom groot swerms kwelea gereeld vanuit die noordelike buurstate by ons aan.


’n Swerm Rooibekkwelea in ’n boom
Foto: Wikipedia

Beweging
Daarom skakel die onderskeie Departemente van Landbou van SADClande maandeliks met mekaar om onderling inligting uit te ruil oor die beweging van die swerms. Bewyse is gevind dat kwelea uit die Vrystaatse graanlande migreer tot in Malawi en Zambië. Die omgekeerde tendens is natuurlik ook waar.

Masker
Die rooibekkwelea, Quelea quelea, is ’n weweragtige voëltjie wat teen 11-13 cm omtrent so groot soos ’n mossie is. Hy weeg 15-20 gram. Die broeiende mannetjie is onmiskenbaar en het ’n swart masker omring met pienk van sy kroon tot bors, alhoewel die masker en pienk gedeelte baie kan wissel in individue. Hy het ’n helderrooi snawel en bene. Sy boonste vere is swart en vaal gestreep en sy onderste vere witterig.

Die broeiende wyfie het ’n gelerige snawel. Sy het dieselfde swart en vaal strepe as die mannetjie, maar het ’n grys-bruin kleur om die kop en ’n roomkleurige wenkbrou. Rooibekkwelea is monogaam en kies net een maat, maar sal ’n ander een kies as die maat doodgaan. Hulle is volwasse op een jaar, maar baie wyfies gaan dood voor hul volwassenheid bereik.


’n Swerm rooibekkwelea
Foto: Wikipedia

Nes
In die broeiseisoen begin die mannetjie om ’n ovaalvormige raamwerk uit gras uit vir die nes te vleg. As die wyfie voel die tyd is amper reg om eiers te lê, voltooi die twee die nessie saam. Dié nessie lyk baie soos gewone wewer-neste, maar is nie mooi afgerond nie en hordes los stukkies gras steek na alle kante toe uit. Die nes het ’n sy-ingang, met ’n soortvan dakkie bo-oor die ingang en word baie naby aan mekaar gebou. Tot 3 000 nessies kan in een groot boom gebou word.

Graanboere met kwelea-probleme moet die slaap- of broeikolonies se ligging bepaal en dit rapporteer aan die Rooibekkwelea Beheersentrum. Dié sentrum sal die naaste beheerbeampte laat weet en hy sal ’n besluit neem oor die beheermetode nadat die ligging van die voëls en die omgewing verken is.


Rooibekkwelea

Verjaag
Soms is dit nie moontlik om beheeraksies uit te voer nie, en is dit beter om die swerm te verjaag sodat ’n nuwe broei- en slaapplek, waar beheer wel moontlik is, gevind kan word. Vliegtuie, fluitjies en ander lawaaimetodes is al gebruik in pogings om swerms te laat skuif, maar as die wyfies eers begin broei het, skuif die swerm nie maklik nie.

Volgens die Departement van Landbou, is die doel van kweleabeheer om die skade aan oeste tot die minimum te beperk en nie om die totale bevolking van dié spesie uit te wis nie. Maatreëls word getref dat beheeraksies die minimum impak op ekosisteme het. Kontak die Rooibekkwelea Beheersentrum by 012-319-7568.

 

© 2019 Die/The Bronberger