Onthou jy die dae? ?n Terugblik op die mense van toeka Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 24 September 2010 08:05
Untitled Document

Onthou julle wat oom Francois van Nkwe of tannie Willa van Onbekend vir ons oor toeka se dae in die Bronberg-distrik vertel het? Hier kyk ons weer hoe Mooikloof gebore is uit bankrotskappe, ons maak ’n draai by Grootfontein se Erasmusse, The Willows se Strubens, Donkerhoek se villa, Pretoria se eerste kuierplek en bekendste boemelaar.

Nkwe en die Annandales
Die storie van Nkwe is die storie van die Annandales – ’n familie wat ten tye van ons April 2003 uitgawe al 108 jaar lank in Tierpoort gebly het. In dié uitgawe het die 84-jarige Oom Francois Annanadale vir ons die oorspronklike 1895 kaart en transport van sy grond en die Anglo-Boere-oorlog oorblyfsels wat hy in die verskansings op die berg agter sy huis gekry het, gewys.

Die dam net bokant Nkwe-oord se bekende swemgat is geskep toe oom Francois se pa, George Annandale, die wal in 1930 gebou het om sy landerye te besproei. Die plaas was 385 morg groot met landerye tot onder by Lynnwoodweg. Oom Francois het in 2003 nog oor ’n 100 morg aan weerskante van die Tierpoortteerpad, besit.

Hy het vertel dat mense toe reeds 45 jaar lank in die poele van die Pienaarsrivier swem oor naweke. Nkwe-oord het homself gemaak, het hy gesê en al wat hy en sy vrou Bettie gedoen het, was om ’n toegangsprys te begin vra.

Tannie Willa van Onbekend
Hans en Hannie van Staden het die plaas Onbekend in 1924 gekoop. In Junie 2004 het ons vir die eerste keer by hulle dogter, die 86 jaar oue tannie Willa Dreyer, gaan kuier.

Volgens tannie Willa is haar familie uit hul regmatige rykdom uit verneuk. Haar pa Hans was ses jaar oud toe hy gesien het hoe die hoofgoudrif aan die Witwatersrand in 1886 ontdek is op sy oupa, Gerhardus Cornelis Oosthuizen, se plaas Langlaagte. Die feit dat die goud daar ontdek is deur sy skoonseun, Hermanus Johannes van Staden, was vir jare lank onbekend. Daar is geglo dat Peter Bernardus de Ville dié goud ontdek het.

Die Paarlse Sindikaat het die plaas van Gerhardus Cornelis Oosthuizen gekoop vir £6 000 en de Ville was een van die mans wat namens die sindikaat sake gedoen het. Die sindikaat het vir oupa Oosthuizen ’n pragtige Bybel gegee, versier met egte goud wat uit die plaas gehaal is, maar selfs dié goud het hulle verloor toe oupa ’n tweede keer trou met ’n Bester-vrou wat na sy dood vort is met die Bybel.

Mooikloof gebore uit bankrotskappe
Die storie van Mooikloof begin met die afsterwe van Daniël Jakobus Elardus Opperman in die 1930’s, vertel ons in Februarie 2005. Mooikloof, een van vier dele van die oorspronklike plaas, is deur ’n ontwikkelaar aangekoop wat vinnig bankrot gespeel het.

Die plaas is deur die bank terug geneem, maar dieselfde ding het seker ’n goeie drie of vier keer daarna nog met Mooikloof gebeur en Volkskas het met die grond opgeskeep gesit tot dit aan die Bester-broers verkoop is. Toe die Bester-koninkryk begin wankel, het die broers die volgende plan beraam om hulle uit die moeilikheid uit te kry: Hulle wou Mooikloof as ’n grys dorpsgebied ontwikkel waar 20 100 mense op 4 800 enkelwoonerwe en in 360 groepswooneenhede gevestig sou word.

Omliggende ploteienaars was hierteen gekant en veldtogte teen die verklaring van Mooikloof as vryevestigingsgebied is in 1989 geloods. Toe die idee laat vaar is, het die Besters finaal bankrot gespeel en Mooikloof is deur Leorand Eiendomsmakelaars oorgeneem. Leorand het die landgoed in 1994 begin bemark as tema-ontwikkeling.

Grootfontein se Erasmusse
In Julie 2006 berig ons dat ’n lugfoto wat ons die vorige maand geplaas het, stories oopgekrap het oor die Erasmusse van die plaas Grootfontein.

Erasmus-afstammeling Elta Viljoen en haar man Frans bly steeds op ’n deel van die oorspronklike plaas wat haar oupagrootjie, Generaal Daniël Jacobus Elardus Erasmus, met ’n perd in Paul Kruger se tyd uitgemeet het. Sy seun Petrus Johannes Ernst, Elta se oupa, het die grond by hom geërf en op sy beurt nagelaat aan sy seun Pieterman, wat saam met sy vrou Sannie op die foto verskyn. Pieterman se seun Danie het die deel van die plaas waarop die 1880 familie-opstal is, geërf. Hy het ’n deel van sy grond verkoop en dit is waar die landgoedontwikkeling Grootfontein gebou is. Danie het 30 ha van die grond oorgehou en het ten tye van ons berig steeds in die opstal gewoon.

’n Ander deel van die plaas het aan Kokkie Erasmus behoort. Hy het ’n perderesiesbaan gebou wat vandag as Sinovichrylaan, wat van Garstfonteinweg- verlenging tot by die Delmaspad loop, bekend staan.

Die Sinovich groep van maatskappye het in 1997 ’n deel van die plaas by die Erasmus-familie gekoop om Rietvlei View Landgoed in 1999 te ontwikkel. Kokkie het 15 hektaar van sy plaas uitgehou, waar hy gebly het tot hy in 2004 oorlede is.

Bekendste boemelaar
In Augustus 2007 vertel ons die verhaal van Paul August Moes, ou Pretoria se bekendste boemelaar. Ou Moes se voorliefde vir drank en mooi meisies het hom blykbaar op ’n jong ouderdom reeds die afdraande pad laat loop. Hy is in die Wes-Indiese eilande as die erfgenaam van ’n sigaarfabriek, wat hy so amper-amper weggedrink het, gebore. Sy familie het hom weggestuur Suid-Afrika toe waar hy as tolk ingespan is. Hy was Nederlands, Duits, Frans, Engels en ’n bietjie Spaans magtig.

Moes se gesegdes het ’n legendariese formaat aangeneem. Met die afsterwe van ’n drinkebroer het die skilder Hendrik Pierneef besluit dat dit ’n gulde geleentheid is om vir Ou Moes te preek oor die euwels van drank. Hy het Ou Moes gevra of hy besef dat sy vriend dood is van te veel drink. Ou Moes se kommentaar was: “Ga, dat heb’t je nu van amateurs!”

Later het dit so sleg met die verslete Ou Moes gegaan dat hy snags in ’n leë klavierkas geslaap het. Op die vraag of die muskiete hom nie te veel pla nie, het hy gesê: “Nee, nooit. Jy sien, in die eerste helfte van die nag is ek te dronk, en in die tweede helfte van die nag is hulle te dronk.”

Donkerhoek se villa
In Junie 2008 berig ons dat Donkerhoek se trotse ou villa uit die 1800’s deur ’n destydse lid van Paul Kruger se volksraad, JMA (Donkie) Wolmarans gebou is. Groot dele van die struktuur van die Wolmaranshuis, soos die houtsneewerk, vensters, balke, vloere, deure en kaggels, is uit Engeland en Europa verskeep en met ossewaens na Pretoria gebring. In die tweede Vryheidsoorlog is die huis deur die Engelse opgekommandeer om as hospitaal te dien.

In 1916 is die gedeelte van die plaas met die huis op deur ’n seun van Donkie, Jacobus Wolmarans, aan ’n sakevennoot van Sammy Marks, J Levin, verkoop. Die huis en grond is in 1924 deur JB Wouda gekoop en sedertdien woon sy nageslagte daar.

JB Wouda was Dave Brink, wat sy hele lewe nog daar bly, se oupa. Dave se ma, Ella Brink, was ’n bekende in die omgewing en het die grootste deel van haar lewe, tot en met haar afsterwe ’n paar jaar gelede, in die ou opstal gewoon.

Ella het vir jare die Avondson Hotel bedryf. Die hotel is langs die ou Bronkhorstspruitpad op die plaas gebou. Ella se ma was in die vroeë 1900’s die eienaar van die bekende Wouda losieshuis in Pretoria.

Pretoria se eerste kuierplek
In die mid-1880’s was daar ’n kroeg genaamd Gaiety Bar op Kerkplein waar President Paul Kruger se seuns bekende gesigte was, berig ons in Mei 2009.

Die Gaiety Bar was deel van Albert Broderick, die eerste kroegeienaar en winkelier op Kerkplein, se winkelkompleks, genaamd Hole in the Wall. Dié het sy naam gekry omdat die kroeg ’n oop ingangsgedeelte gehad het. Hole in the Wall is deur Albert se vriend, die bekende kunsskilder, ontdekkingsreisiger en fortuinsoeker, Thomas Baines, verewig toe Thomas vir hom ’n skildery gemaak het as betaling vir sy kruidenier skuld.

Albertus Broodryk, soos die Boere hom spottenderwys herdoop het, het met alles onder die son handel gedryf. Later was hy betrokke by in- en uitvoere en het aandele in die mynbedryf, en verskeie plase in Transvaal gehad. Hy het as kandidaat vir die Volksraad gestaan en het die verkiesing met ’n enkele stem verloor.

Albert se bundel humoristiese verse was die eerste boek wat in die Transvaal gedruk en uitgegee is. Albert het sy vermoë om met woorde te speel ingespan om mense na sy winkel te lok. Sy produkte was bekend as goedere van die “Kaap van Goedkoop”.

The Willows se Strubens
In Januarie 2010 vertel ons die verhaal van die Struben-plaas, ‘The Willows’, die Strubenbroers Harry en Fred, en ’n mislukte boerdery wat tot die ontdekking van goud gelei het. Harry het ‘The Willows’, geleë langs ’n buurplaas genaamd ‘Hazeldean’, in 1862 gekoop en sy broer Fred het as sy assistent gewerk. Op ‘The Willows’ het Harry vele mislukte boerderypogings met volstruise en beeste gehad. In 1870 het hy besluit om met skape te begin boer en sit af Aliwal-Noord toe met sy gesin en ’n wavrag vol ivoor wat hulle vir skape geruil het.

Dit is toe dat hulle hoor van die ontdekking van diamante, die skape verkoop en diamantveld toe is. Daar het bykans almal van hulle siek geword en hulle is terug na ‘The Willows. Harry het sy belange in die diamantvelde verkoop en begin reis. Toe die Eerste Vryheidsoorlog uitbreek, is ‘The Willows’ verwoes.

Intussen het Fred in 1892 in Barberton goud gesoek, nie gekry nie en is terug na ‘The Willows’. Die twee broers sou binnekort platsak wees en het besluit om na New Zealand te emigreer. Net voor hul dit kon doen het ’n vriend wat saam met Fred in Barberton was, daar aangekom met ’n klip wat hy op sy plaas, Wilgespruit, gekry het. Fred was seker dat dié klip goud kon bevat en hy het Harry oortuig om die buurplaas, Sterkfontein, met sy laaste geld te koop. Op die tweede dag het Fred daar tekens van goud gevind en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger