Self-opgeleide sendeling-seun word befaamde voëlkenner PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 16 November 2010 09:01
Untitled Document

In 1879 het ’n Britse sendeling in Pretoria aangekom wat vir Eugene Marais skoolgehou het, kaptein van die dorp se heel eerste rugbyspan geword het en later Aartsdeken van die Anglikaanse kerk was. Tog het die grootste rede hoekom dié eerwaarde se van wêreldwyd bekend geword het, te doen met sy seun se liefde vir voëls. Ons ken die naam ‘Austin Roberts’ as dié van Pretoria se bekende voëlpark, maar min mense weet presies hoe dit gebeur het dat Austin, wat geen formele opleiding gehad het nie, kurator van ’n museum geword het en later internasionale erkenning ontvang het vir sy kennis van voëls.


Bekende voëlkenner, Austin Roberts
Foto: Wikipedia

Sendeling
Dié is ’n storie wat in die middel 1800’s in Brittanje begin. Austin se pa, Alfred, wou van kleins af ’n sendeling word en is daarvoor opgelei by die St. Augustine’s Missionary College in Canterbury Engeland.

Toe hy sy studies voltooi het, sluit die 25 jarige Alfred in 1878 as vrywilliger by Biskop Bousfield se geselskap na Suid Afrika aan. Hulle het by Durban se hawe aan wal gegaan en van daar af het die tog Pretoria toe vier maande geduur.

In Durban het Edda, ’n weduwee Jacobs, by die biskop se geselskap aangesluit. Wat alles langs die pad gebeur het, weet ons nie. Ons weet net dat die geselskap op 7 Januarie 1879 in Pretoria aangekom het en dat Alfred en Edda teen die einde van daardie jaar getroud is. Edda het as onderwyseres by St. Etheldreda’s, wat vandag bekend staan as St Mary’s Diocesan School for Girls, begin werk en Alfred is as hoof van St. Birinus Seunskool, beskryf as ’n klein rietdakhuisie buite Pretoria, aangestel.

Een van Alfred se bekendste leerlinge was die digter Eugène Marais. Blykbaar het Eugène hier so goed leer Engels praat dat hy later sonder probleme na ’n Engelse skool in die Paarl kon oorgeplaas word.


Alfred en Edda Roberts
Foto: Rosa Swanepoel

Sport
Alfred se ambisie was om sendeling te wees en hy is so half teen sy sin by die skool aangestel. Hy het egter besluit om die beste van die saak te maak en het leerlinge aan allerhande sportsoorte bekend gestel en self kaptein van Pretoria se heel eerste rugbyspan geword. Volgens Rosa Swanepoel se Ou Pretoria Geselsbrief het Alfred sy leerlinge krieket, rugby en ook waterpolo in die hondekuil by die Apiesrivier, leer speel.

Met die beleg van Pretoria in die Eerste Vryheidsoorlog is Alfred en sy leerlinge saam met die res van Pretoria se inwoners na kampe gestuur waarvandaan hulle elke dag skool toe geloop het. Teen daardie tyd was die skooltjie by die St Albans Katedraal.

Alfred word later Aartsdeken van die kerk op Potchefstroom, waar Edda en Alfred se drie seuns grootgeword het. Inligting oor die derde broer ontbreek, maar ons weet dat Noel in 1880 in Pretoria gebore is.

Hy het later sy pa se voetspore in die bediening gevolg en sy vrou het ook aan dieselfde skool, St. Etheldreda’s in Pretoria, as haar skoonma, Edda skoolgehou.


Austin se broer, eerwaarde Noel Roberts
Foto: St Luke’s

Familie
Austin is op 3 Januarie 1883 in Pretoria gebore. Hy het blykbaar van heel kleins af belanggestel in voëls en besoeke aan sy ma se familie in Natal se middelveld het dié liefde aangemoedig.

Sy ma, Edda, was ’n nooi Fannin wat in 1845 in die Kaap Kolonie gebore is as die 12de kind van Ierse immigrante wat in die 1840’s in Suid- Afrika aangekom het. Sy het in 1867 met eerwaarde Eustace Wilberforce Jacobs, ’n oud weermagkapelaan van die Karkloof gemeente in Howick, getrou. Hulle het na Engeland, waar eerw Jacobs aangestel is as Kanon van Winchester, verhuis. Na ’n kort siekbed, sterf Kanon Jacobs in 1871, maar Edda het tot 1874 in Engeland gebly waar sy in South Kensington, London kuns- en orrellesse geneem het.

Later jare het Austin bykans elke skoolvakansie by Edda se Natalse familie, Meredith en Mary Fannin, gaan kuier. Vandag is dié ’n gasteplaas, genaamd Old Kilgobbin in die Dargle vallei, wat as ’n voëlkykerparadys beskou word en met trots hul verwantskap aan Austin Roberts verkondig.


Pretoria se eerste rugbyspan in 1879. Die latere Anglikaanse Aartsdeken Alfred Roberts is die kaptein en staan derde van links in die agterste ry. Links van hom staan Biskop Bousfield, saam met wie Alfred na Suid-Afrika gekom het, se oudste seun Harry
Foto: Rosa Swanepoel se Ou Pretoria Nuusbrief

Kundige
Toe Austin se pa, die Aartsdeken Alfred Roberts, Potchefstroom toe verplaas is, het Austin nog iemand ontmoet wat ’n groot invloed op sy lewe gehad het. Thomas Ayres was Suid-Afrika se eerste amateur voëlkundige.

Hy is in 1828 in Brittanje gebore en het in 1850 saam met sy familie Suid-Afrika toe gekom. Hulle het in Pinetown in Natal gebly waar Thomas begin voëlspesies versamel het wat hy Engeland toe gestuur het. Menige van sy proefskrifte oor dié spesies is ook daar gepubliseer.

Hy is in 1852 Australië toe om goud te soek, maar het met leë hande teruggekom. In 1865 het Thomas en sy broer Jack Potchefstroom toe getrek waar hulle gejag het en sake gedoen het met die boere in die omgewing. Thomas het baie legendariese jagters op hul ekspedisies in Afrika vergesel. Dié jagtogte was vir hom ideale geleenthede om voëls te versamel.

Die goudkoors het hom egter nie gelos nie en in die vroeë 1870s het Thomas by Lydenburg begin prospekteer, waar hy weer onsuksesvol was. Hy het selfs in ’n stadium ’n bierbrouery begin. Dié moes egter toemaak toe die wette verander het en dit onwettig geword het om bier sonder lisensie op ’n kommersiële basis te brou.


Die vrylating van die eerste voël by die Austin Roberts Voëlpark

Ark
Terug in Potch het hy begin voëls, insekte, skoenlappers en motte versamel. Ten minste 60 van dié spesies wat hy rondom Potch versamel het, is vandag baie raar. Thomas se huis in Potch is die Ark genoem omdat dit ’n lang, platdak huis propvol diere en voëls was.

Dié Ark was vir Austin ’n toevlugsoord waar hy vir ure sit en luister het na stories oor die avontuurtogte wat Thomas onderneem het om voëls en diere te versamel.

Dit het Austin gemotiveer om eendag as hy groot is dieselfde te doen. So het dit gebeur dat Austin sy voet in die deur gekry het by die Transvaalse Museum in Pretoria. Hulle het hom vir jare lank vir monsters betaal sonder dat hy ’n vaste pos daar gehad het.


So het die uitsig in 1956 vanaf die voëlpark in Groenkloof se rigting gelyk

Na ’n ongewoon suksesvolle versameltog in 1908 na Portugees Oos-Afrika het die museum Austin blykbaar begin ernstig opneem. Austin het homself geleer en het geen amptelike kwalifikasies gehad nie. Tog stel die Transvaalse Museum hom in September 1910 as kurator vir voëls en soogdiere aan, ’n posisie wat hy behou het tot die dag van sy dood in 1948.

Om navorsing te vergemaklik het hy ’n versameling van ongeveer 30 000 voëls en 12 000 soogdiere vir die museum daargestel. Die Austin Roberts Voëlsaal is na hom vernoem en die tussenvloer in die saal bevat ’n uitstalling van 870 voëls wat numeries gerangskik is volgens Austin se boek ‘Birds of South Africa’.


Die Transvaalse Museum
Foto: Wikipedia

Boek
Dié boek wat in 1940 gepubliseer is, het gou die standaard verwysingsboek vir voëlkykers geword. Vyf herdrukke is gepubliseer, en in 1998 is werk aan die sewende uitgawe van die boek aangepak toe die Percy FitzPatrick Instituut deur die John Voelcker Voëlboekstigting genader is om die boek oor te skryf. Die redakteurs van die nuwe ‘Roberts’ is Phil Hockey, Richard Dean, Peter Ryan en Sharon Maree.

Austin het 46 versamelingsekspedisies in Afrika onderneem en het 117 proefskrifte oor voëls en soogdiere gepubliseer. Hy het gedien as stigter, president, sekretaris en mede-redakteur van die Suid-Afrikaanse Voëlkundige Vereniging. Hy is in 1920 as genoot van die Amerikaanse Voëlkundige Unie verkies, en in 1930 as erelid van die Britse Voëlkundige Unie.

Dié eens self-opgeleide seun het in 1935 ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria ontvang. Hy het die senior Kaptein Scott Gedenkmedalje van die Biologiese Vereniging in 1938 ontvang en het ’n medalje en subsidie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap in 1940 ontvang.

Austin is op 5 Mei 1948 in ’n motorongeluk naby Lusikisiki in Transkei oorlede. Voor sy dood het hy die manuskrip vir ‘The mammals of South Africa’ klaargemaak. Dit is ná sy dood in 1951 gepubliseer.


Die 11,8 ha grootte Austin Roberts Voëlpark met sy opening op 27 Oktober 1956

Voëlpark
Op 27 Oktober 1956 is die Austin Roberts Voëlpark in Nieu Muckleneuk amptelik deur WJ Seymore, toe die burgemeester van Pretoria, geopen. Die opening van die 11,8 ha reservaat was die gevolg van ’n groeppoging deur H Bruins-Lich, toe die stadsraad se direkteur van parke, Dr Gertrude Theiler, dogter van Onderstepoort se stigter, Dr LEW Codd, vorige direkteur van die Nasionale Botaniese Tuine, en K Hyslop, die eerste voorsitter van die Pretoriase Voëlklub.

Die Austin Roberts Voëlpark is in Junie 1970 eers omhein en is op 26 Februarie 1985 amptelik as ’n natuurreservaat geproklameer. Die reservaat is in die Walkerspruit Oop Ruimte Sisteem geleë. Twee strome, die Walker en Argo, voer water in die vleiland wat bestaan uit nege klein seisoenale dammetjies wat ’n verskeidenheid watervoëls lok.


Die park is amptelik deur WJ Seymore, burgemeester van Pretoria, geopen. Dit was die gevolg van ’n groeppoging deur H Bruins-Lich, Dr Gertrude Theiler, Dr LEW Codd en K Hyslop

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online