Pienaarspoorters betoog teen mynmaatskappy Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 24 January 2011 06:28
Untitled Document

Pienaarspoorters het vroeg in Januarie betoog, omdat ’n mynmaatskappy volgens hulle drie waterbronne in die Magaliesberg uitmekaar geskiet het, sonder ’n waterlisensie myn en ’n vleiland vernietig. Die gemeenskap het Delfsand by die Departement van Waterwese verkla.

Volgens Petro Lemmer, omgewingskundige van Pienaarspoort, mors Delfsand se alluviale silika sandwerke oor die afgelope 20 jaar reeds die vleiland op. “Waarom kla die gemeenskap nou eers, noudat die vlei klaar vernietig is?”

Petro sê ook dat die gemeenskap verward is oor watter mynmaatskappye die dinamiet afskiet. Delfsand is die alluviale sandmaatskappy wat die sand in die bedding van die Edendalespruit ontgin het.

Infrasors Holdings Limited, die sambreel maatskappy waaronder Delfsand val, se ander maatskappy, Pienaarspoort Silica, gaan die myn bedryf waaroor die inwoners betoog het.

Volgens Petro het Infrasors reeds in Februarie 2008 ’n mynaansoek ingedien. Die omvangstudie-verslag is op 12 Februarie 2008 by die Departement van Mineraal- en Energiesake ingedien, en die omgewingsimpakstudie is in Augustus 2008 ingegee.


Die lugfoto wys die Magaliesberg agter Mandela Village waar die myn bedrywig is. Die horisontale lyn is die Cullinan spoorlyn wat deur Pienaarspoort loop. Die skuins wit lyn naby die regterkantste hoek is
die Nooitgedacht grondpad

’n Openbare deelnameproses is gedoen, waarin kwessies soos oppervlak- en grondwaterbesoedeling, die invloed op vleilande, die afskiet van dinamiet en stof- en geraasvlakke bespreek is.

Petro het ook ’n afskrif van die fauna en flora spesialisverslae aangevra. Sy sê dat bykans geen van die mense “wat nou so tekere gaan, hulle aan die deelnameproses gesteur het nie. En nou dat Infrasors met die myn wil begin, skree almal.”

Volgens Karen Yssel, lid van die Eko-groep van die Rayton-gemeenskapsvereniging, het die mynmaatskappy, ondanks pleidooie en ’n prokureursbrief van AfriForum, voortgegaan om een van die gemeenskap se drie waterbronne met dinamiet te skiet in hul soektog na silika.

Karen het gesê dat die Eko-groep die kwessie van ’n waterlisensie vir mynboubedrywighede by Phillemon Mahlangu, streekverteenwoordiger van die Departement van Waterwese, aangegee het.

Petro sê dat dit nonsens is dat daar drie waterbronne is. Die Magaliesberg bestaan uit afwisselende lae sandsteen, kwartsiet en skalie. Die berg se water vergaar op die skalielae, soos ’n rotsgevulde ondergrondse meer.

Volgens Relien Badenhorst van die Cullinan-bewarea word die gemeenskap se regte vertrap en hul water word deur onverantwoordelike mynboubedrywighede bedreig. Relien sê dat die gebied se brulpaddas weg is sedert Delfsand daar begin myn het. Volgens haar is ’n groot deel van ’n vleiland in die gebied uitgemyn en het Delfsand besoedelde water in die res daarvan gepomp.

Petro sê dat daar beslis nog brulpaddas in die gebied is en dat die besoedelde water die Edendalespruit se water is waarmee die sand gewas is. Die gevolglike slurrie - ’n geel kleiagtige substansie - het groot dele van die Edendalespruit toegeslik. Daar is volgens haar geen bykomende besoedeling nie.

 

© 2020 Die/The Bronberger