Bronberg kurkdroog gelaat deur fuifende Kungwini Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 24 January 2011 06:30
Untitled Document

Bronbergers se pypwater het op 9 en 10 Desember opgedroog toe Kungwini Plaaslike Munisipaliteit versuim het om sy waterrekening by Rand Water te betaal.

Terwyl sowat 15 000 inwoners in gebiede wat strek van Zwavelpoort en Olympus tot Mooikloof en Silver Lakes onder dié waterkrisis gebuk gegaan het, het senior bestuur- en raadslede van Kungwini honde uit bosse uit gekuier op ’n uitspattige jaareindpartytjie op ’n landgoed in Tierpoort.

Volgens André van der Walt, Kungwini wyk twee raadslid, het Rand Water amptenare vir hom vertel dat Kungwini die waterraad op daardie tydstip R3,4-miljoen vir langer as 60 dae reeds geskuld het.

Rand Water het eers begin om die waterdruk tot 40% te verlaag as ’n standaard maatreël. Hulle het met verskeie amptenare by Kungwini se kantore in verbinding probeer tree, maar hulle oproepe is nie beantwoord nie.

Dit is eers nadat die Mooikloofrif Huiseienaarsvereniging ’n hooggeregshof interdik teen Rand Water en Kungwini gekry het, dat waterdruk herstel is. Kungwini het blykbaar ’n gedeelte van die agterstallige rekening betaal.

Zwavelpoorters se waterprobleme het egter nie hier opgehou nie. Toe die waterdruk op 10 Desember herstel is, het ’n klep oorkant die pomphuis in Achillesweg geskeur en water het in Olympusweg afgestroom. Die kleppe is onlangs geïnstalleer in ’n ondergrondse mangat wat op daardie stadium nog nie ’n deksel opgehad het nie. Daar word vermoed dat die kleppe gesaboteer word.

Die Zwavelpoort Huiseienaarsvereniging is op 20 Desember ingelig oor ’n hofsaak wat deur ’n inwoner wat reg agter die pomphuis bly, teen Kungwini ingestel is. Die inwoner wil hê dat die pomphuis toegemaak moet word omdat die geraas hom pla. Dit sal alle Zwavelpoorters wat van pypwater gebruik maak, hoog en droog laat.

 

© 2020 Die/The Bronberger