Kiesers moet nou registreer Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 24 January 2011 06:35
Untitled Document

Kieserregistrasie in die Bronberg- gebied vind op die naweek van 5 en 6 Februarie plaas. Alle stasies sal van 8 vm tot 5 nm oop wees. Charlotte Engelbrecht, verkiesingprojekkoördineerder van Kungwini, doen ’n beroep op inwoners, veral in die nuwe gebiede, om te gaan registreer of her-registreer, sodat hulle die verkiesing by hulle korrekte stemlokale kan stem. Sy sê dat dit baie belangrik vir kiesers is om in die plaaslike verkiesing by hulle regte stemlokale te stem omdat hulle vir ’n wyksraadslid gaan stem.

In September verlede jaar het ons berig dat Kungwini se verkiesingswyke verander. Wyk twee en drie het saamgesmelt om een groot wyk 101 te vorm. Die ou wyk een se naam het na wyk 91 verander en Woodhill het in dié wyk inbeweeg.

Die nuwe wyk 101 strek ongeveer van Hans Strijdomrylaan tot anderkant die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad, verby Witpoort tot by Yzervarkfontein. Dit sluit gebiede in soos: Silver Lakes, Tygervallei, Tweefontein, Zwartkoppies, Mooiplaats, Boschkop, Kleinfontein, Rhenosterfontein, Tweedracht, Tierpoort, Rietfontein, Klipkop, Kameelzynkraal, Vlakfontein, Roodekopjes, Witpoort, Dorstfontein en Elandsvallei.

Die nuwe wyk 91 strek van die Rietvlei Natuurreservaat, Rietvlei View, Grootfontein, Mooikloof, gedeeltes van Zwavelpoort en Olympus tot by Woodhill Gholf Landgoed.

Daar het ’n paar nuwe stemlokale bygekom. Inwoners van wyk 91 kan nou ook by B-House Building Supplies op die hoek van Garstfonteinweg-verlenging en Blesbokstraat, en by Maotla Hotel in Grootfontein Landgoed gaan registreer.

Wyk 101 het ook twee nuwe lokale bygekry. Inwoners van Olympus en Zwavelpoort wat tussen Ajax en Erosstrate en tussen Atterburywegverlening en die Bronbergrif woon, kan nou by Doxa Deo Oos Kampus gaan registreer.

Inwoners tussen die Ou Bronkhorstspruitpad en Lynnwoodweg, af met Hans Strijdomrylaan, kan nou by The Venue gaan stem. Dié plek is reg agter Fly Lounge en gebruik dieselfde ingang.

Stemlokale soos Tygerpoort, Boschkop en Witpoort Laerskole, die R25 Square in Onbekend, Patt Projekte uit op Garstfonteinweg-verlenging in Bashewa, Leribisi Lodge op plot 82 Tierpoort en die Silver Lakes klubhuis, bly soos voorheen.

Die verkiesingsdatum in April of Mei sal ná die registrasie naweke bekend gemaak word. Sodra die datum vir die verkiesing geproklameer word, sluit die kieserslyste vir daardie betrokke verkiesing.

Die volgende registrasienaweek is 5 en 6 Maart.

Vir meer inligting, bel vir Charlotte Engelbrecht by die Kungwini-kantoor by 013-932-4948/50.

 

© 2020 Die/The Bronberger