Gert Mossie vertel, ’n vriendin
van hom met ’n Amerikaanse
agtergrond vra anderdag wat
’n mens ’n ‘cow patty’ in Afrikaans
sou noem. ‘Cow patty,’ kan jy glo?
Hy voel hom toe genope om haar
te antwoord:
“Miskoek, my mens. En ’n miskoek
is nie sommer ’n hierjy nie. ’n Miskoek
is jou maatjie. Dis ’n Afrikakultuurkoek
wat nie ligtelik opgeneem
moet word nie en hoegenaamd
nie te versmaai is nie,” vertel
Gert Mossie driftig.
“Volgens my is die beskrywing van
die verskynsel, miskoek, ook baie
raak. Onthou, dat ‘patty’ vir die
Afrikaner van toet hoogstens ’n
Ingelse meisienaam was. ’n Koek, al
kon dit dalk ook beskrywend van
voorgemelde gewees het, was iets
wat elke Afrikaner geken het.
“En dis net ’n bees, in die verwysingsraamwerk
van onse mense van
weleer, wat iets vergelykbaar met ’n
koek kon, uhm, neerlaat. Aan die
ander kant is dit net die chauvinistiese
Amerikaanse pioniers wat met
hulle benaming van die edele miskoek,
daarop sou sinspeel dat dit
die vroulike geslag is wat al die mis
veroorsaak. Cow patty; bid jou dit
aan. Dit lyk seker wel na daai plat
frikkadel wat hulle op hulle hamburgers
sit en dit proe waarskynlik
ook amper so,” sê Gert Mossie.
“Die beskeie miskoek se rol in
die ontwikkeling van ons land
word skreiend misken (pan
ge-intent). Dis die einste
miskoek wat oor die eeue
heen die belangrikste
bemesting vir gewasverbouing
was en waarskynlik
vandag nog die beste is.
“Jy kan maar sê die miskoek
voer die mense van
Afrika. En dit het niks daarmee
te doen dat ons sekerlik
die wêreld se bevolkingsgroep(e) is wat by verre die
meeste ‘mis’ moet opvreet en dit
daarom die heel beste kan doen
nie.
“Onthou ook dat die miskoek boumateriaal
verskaf wat informele en
formele huise, paleise en pondokke
oor die ganse Afrika van mure, vloere
en energie voorsien. Van altyd af
en nou nog. Dit dien vermeld te
word dat goed soos modder, klei,
perskepitte, gras, riete en latte ook
hier ’n rol speel. Maar ’n aanvullende
en ondergeskikte rol,” sê
Gert.
“Die toegerypte velde van die Wes-Transvaal en die gevriesde vlaktes
van die Vrystaat sou waarskynlik
glad nie sonder die veelsydigheid
van die trekos en die melkkoei se
miskoeke getem kon word nie.
Want die miskoek was die volhoubare
energiebron wat die pot aan
die kook gehou het en wat die kinnertjies
uit die kroepgewende kloue
van die ongenaakbare koue gehou
het,” vertel Gert Mossie.
“Die meeste van ons kan in ’n
oomblik van ootmoed, dankie sê
aan die miskoek oor hy iewers ’n
voorgeslagtelike bloedjie met sy hittegewende
beskerming lewend
gehou het om sodoende ’n nageslag
en ’n ons tot die gevolg te hê. Sê
dit: Dankie, oom Miskoek.
“Ek wou nog vertel hoe my oorle pa
se knaende miskoekstorie my as
kind gebelg het. Oom Frik het telkens,
as hy meen ons kinders het dit
te maklik, vertel hoe hy as brose
kind ’n miskoek-kenner geword het.
“In die bibberende koudgeit van die
Wes-Transvaalse winter kon die
kleine Frikkie op ’n afstand van 100
treë bepaal of ’n miskoek in die
veld droog en bekwaam genoeg is
om te loop optel vir die vuur in die
hert en die een in die stoof.
En, moes ons darem altyd weet,
daai miskoek-optel is sonder teëpraat
en boonop met kaalvoete in
die vroegoggend se kou en ryp,
deurgevoer,” vertel Gert Mossie.
By hom bestaan geen twyfel daaroor
dat hierdie donker kontinent
van ons veel vroeër sy agterent sou
sien, as dit nie vir die beskeie miskoek
was nie. Hy dink ons moet
iewers ’n massiewe standbeeld vir
die miskoek oprig. |