Print E-mail
News - Briewe
Monday, 28 February 2011 07:34
Untitled Document

André Erasmus van Zwavelpoort skryf:
Op Saterdag 12 Februarie het Jan Burger, ’n baie groot liefhebber van ons omgewing, ’n man betrap wat vullis op ’n leë gedeelte van plot 81 gestort het. Hy het die man gevra om sy vullis weer op te laai en na die stortingsterrein te neem.

Mnr Burger het my geskakel om my te vertel wat gebeur het. Ek besluit toe dat ek graag die persoon wil ontmoet wat sulke dade doen. Ons het hom probeer opspoor maar tevergeefs. Hy was skoonveld.

Op pad na mnr Burger het ek opgemerk daar lê vullis langs die pad en gesien dit is dieselfde soort vullis wat agtergebly het by die vorige plek. Die roofstorter het die gemors mooi netjies opgelaai en dit net so 300 m langs die pad, reg voor plot 473 weer afgelaai en weggery.

Ek en mnr Burger het so ’n bietjie deur die vullis gesif en op baie interessante papiere afgekom. Telefoonnommers en so aan. Ons het toe die oorspronklike eienaar van die gemors gekontak om hom mee te deel dat hy sy vullis moet kom optel.

Hy het ons vertel hy het ene Ettiene Rudolf, tel: 076-669-6837 (Grys bakkie reg no VXV063GP) gekry om sy vullis te verwyder en Rudolf is die een wat die gemors daar gelaat het. Ek het vele oproepe gemaak om hom mooi te vra om die rommel te verwyder, maar ná drie dae is geen poging aangewend om dit te verwyder nie.

Ek doen ’n beroep op Bronbergers om nie die man te gebruik vir enige skoonmaak-dienste nie, want hy verwyder blykbaar jou vullis net om dit op jou buurman se voorstoep te gaan stort.

 

© 2020 Die/The Bronberger