Ons klagtes oor myn is wel geldig Print E-mail
News - Briewe
Monday, 28 February 2011 07:39
Untitled Document

Reline Badenhorst van Nooitgedacht skryf:
Re: 'Pienaarspoorters betoog teen mynmaatskappy' in Die Bronberger se Januarie-uitgawe: Ek wil net die volgende regstelling maak oor die uitlatings van Petro Lemmer. Delfsand is in 1995 deur Francois Roets en sy skoonpa begin. Hulle het toe net bousand gelewer. In 1999 het hulle met silica begin en ’n "processing plant" gebou. Dus het die besoedeling van die vleiland eers na 1999 begin.

Die waterbron waarna Karen verwys is die watertafel aan die voet van die Magaliesberg. Dit is waar Pienaarspoort Silica hul kwarts-silika wil myn. Die kwarts-silika word deur plofstof losgeskiet en dan verwyder. Ons as gemeenskap is nie honderd persent seker dat daar wel ’n watertafel daar is nie, maar die voorlopige toetse deur ’n geohidroloog lyk positief. Verdere toetse word afgewag. Dus bedreig die mynbedrywighede wel ons waterbron.

Die kwessie van die brulpaddas bevraagteken ek ook. Delf het in 2006 op ’n gedeelte van Pienaarspoort 55 begin delf. Die swaar voertuie het baie brulpaddas doodgery. Hul habitat is versteur. Indien die brulpaddas teruggekeer het, weet ek nie daarvan nie. Ek sal verheug wees as dit wel gebeur het.

Die feit oor die besoedeling van die vleiland: Die Edendalespruit loop deur die genoemde vleiland. Ek het foto-bewyse waar Delf hul slurrie in die vleiland pomp. Dan net ’n paar vrae: Indien Petro weet dat die vleiland deur Delf vernietig word, hoekom het sy geen aksie geneem nie? Karen het binne drie weke vir DWAF ’n ondersoek laat doen. Hulle het bevind dat Delf geen waterlisensie het nie. DWAF het aan Delf ’n direktief uitgereik.

Ek het Afriforum geskakel en deur Solidariteit en hul prokureurs probeer ons Infrasors stop om in ons omgewing te myn. Daar was ook reeds ’n vergadering met die myninspekteur waar bevind is dat daar nie geohidrologiese toetse deur Infrasors gedoen is nie. Hulle moet nou die nodige toetse laat doen alvorens hul mag voortgaan. Ons sit dus nie stil en skree omdat Infrasors wil begin myn nie.

 

© 2020 Die/The Bronberger