Gestremde Liza steeds vermis Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 28 February 2011 07:46
Untitled Document

Elizabeth Connoway, ’n gestremde vrou van die plaas Koppiesfontein in die Raytondistrik, is sedert 24 Januarie vermis. Sy is vermoedelik deur iemand wat sy op die selfoonkletsprogram MXit ontmoet het, ontvoer.

Haar ma, Elize Fourie, sê behalwe vir Liza se selfoon is niks anders weg nie. Sy het haar ma en stiefpa die vorige aand gegroet asof sy gereed gemaak het om te gaan slaap, maar sy was nie die volgende oggend in haar kamer nie. Haar hondjie, sonder wie sy die afgelope agt jaar nêrens heen sou gaan nie, is agtergelaat.


Liza Connoway

Dit is nie duidelik watter tyd die aand Liza uit die huis verdwyn het nie. Sy het vermoedelik ’n donker denimbroek met ’n swart sweetpakbaadjie en swart skoene aangehad. Elize sê sy het ’n tyd gelede agtergekom dat haar dogter op MXit is en het haar gewaarsku om daar weg te bly.

Elize se man, Hendrik Fourie, het met hulp die hele plaas gefynkam, maar daar is geen teken van Liza gevind nie. Die voorval is by die polisie aangemeld.

Liza het op 19 Januarie 33 jaar oud geword en is verstandelik sowel as liggaamlik gestrem. Sy het verskeie operasies ondergaan vir heupprobleme en is soms baie onstabiel op haar voete.

 

© 2020 Die/The Bronberger