Kungwini wil almal bevorder Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 28 February 2011 07:47
Untitled Document

Planne van Kungwini se stadsraad om almal in sy diens voor die voet met een posvlak te bevorder, is verlede maand ‘tydelik’ opsygeskuif. Die dokument waarin die plan van massabevordering uiteengesit word, is terugverwys na bestuur net voor dit op ’n spesiale raadsvergadering voorgelê en waarskynlik deurgevoer sou word.

Die meesterplan is blykbaar beraam omdat die ANC-raadslede erg bekommerd is oor hulle die steun van die amptenary wat lede van die munisipale vakbond Samwu is, kan verloor.

Die bevordering sal terugwerkend tot Julie 2007 wees wat belastingbetalers eenmalig R25 miljoen uit die sak sal jaag en ’n verdere R2 miljoen per maand.

Kungwini het ’n ooreenkoms oor bevordering met lede van die ander munisipale vakbond, Imatu, bereik wat in die dokument vervat is.

Die raadslede veg vir oorlewing in die nuwe bedeling as Kungwini ná die komende munisipale verkiesings by Tshwane ingelyf word en wil duidelik in die vakbonde se goeie boekies bly.

Een manier om dit te doen, is blykbaar geredeneer, sou wees om almal te bevorder en die rekening in Tshwane se hande te laat. Self boer Kungwini jare reeds op die rand van bankrotskap en moet telkens deur die provinsie uit die gemors gehelp word.

 

© 2020 Die/The Bronberger