Hy lees vanoggend in die
koerant, sê Hans Baard, dat
’n lekker stuk steak, of
skaapboud of ’n varktjop eintlik al
die tyd goed is vir jou. ’n Baie geletterde
navorsingspan van Ingeland
het dit met baie moeite uitgevind
en dis ’n feit soos ’n koei, sê Hans.
Hulle sê dis jare se bog dat steak
jou hart sal aanval of allerhande
ander siektes en kwale veroorsaak.
Dis eintlik goed vir jou hart omdat
dit noodsaaklike 'fêttie êssits' en
yster en goed in het, sê Hans Baard
en hy druk die koerant met die
artikel onder Allen Prentjies se neus
in. Allen Prentjies is ’n vegetariër.
Die ander ouens in die drinkgat loer
oor Allen se skouertjie om eerstehandse
insig oor dié aardskuddende
nuus op te doen.
"Jou wragtag!" sê Gert Mossie. Hy sê
dit mos nog altyd. Wat hom nou erg
die hoenders in maak, sê Gert, is
die ding dat sy vrou hom al onhoudbaar
lank dwing om eerder
pluimvee te eet omdat regte vleis
dan kwansuis nie goed vir hom is
nie.
Grootpiet druk met ’n piesangvinger
op ’n plek in die koerant, wat nog
voor Allen Prentjies op die toonbank
lê. Hulle sê hier, sê Piet, dat ’n
stuk gebraaide vark minder van die
gevaarlike soort vette in het as ’n
gebraaide hoenderborsie. En hulle
sê dat ’n steak gesonder is as ’n
Griekse slaai met kaas in, sê
Grootpiet.
"Daar het jy dit," sê Gert Mossie. En
dan rits Gert dit amper sonder
asemskep af: "Ek het dit altyd geweet.
Dit wys jou nou net. Dis nou
vir jou ’n ding, nè? Sien jy nou? Ek
het jou mos gesê, maar wil jy luister?
Nee. Jy is mos altyd reg. En wat
sê jy nou daarvan?"
Hans Baard wil hierop weet wat
nou met Gert aangaan. Het Gert
nou al sy varkies verloor, of is hy
hoenderkop van die brêndie-en-coke?
"Nee, man. Ek oefen vir wanneer ek
vanaand by die huis kom," antwoord
Gert Mossie. Hy wil by die
deur instap met ’n paar lekker
T-bones, wat hy nou-nou by
Wilhelm Slagter gaan aankoop, in
die een hand en die koerantartikel
in die ander hand. En dan wil hy
die goed sê wat hy nou oefen voor
sy vrou vir hulle die T-bones gaan
gaarmaak.
Sy dierbare wederhelfte het, vandat
hulle ’n bietjie jare en vetjies aangesit
het, erg gesondheidsbeduiweld
geraak, sê Gert. En vandat sy begin
het om al wat ’n vrouetydskrif te
lees, het sy beproewing in erns
begin.
In hulle huis, sê Gert is daar deesdae
net twee soorte kos: Dis die
goed-vir-jou-goed en die sleg-vir-jou-goed. En die nare waarheid is
dat al die goed-vir-jou-goed sleg is
en al die sleg-vir-jou-goed lekker is.
Sy vrou is deesdae baie streng
gesteld daarop dat hy net van die
goed-vir-jou-goed inkry.
Noudat die Ingelse met hulle navorsing
vir een keer weer iets goeds
gedoen het, ná hulle bacon-en-eiers
uitgevind het, gaan rooivleis mos
een van die goed-vir-jou-goed word
en die harmonie en vrede sal na sy
huis terugkeer, sê Gert Mossie.
Dis soos destyds toe ander slim
navorsers uitgevind het ’n enkele
aantal glasies rooiwyn of wieskie is
goed vir jou hart, sê Grootpiet. Van
daardie dag af verstaan sy vrou
dinge ook baie beter.
"Hierdie is ’n groot deurbraak in die
emansipasie van die man. ’n Blye
dag!" jubel Gert Mossie.
"Wag ’n bietjie. Wag ’n bietjie," sê
Allen Prentjies. "Kyk wat sê hulle
hier onder aan die storie."
"Hulle sê Ingelse mans eet ’n gemiddeld
van 96 gram rooivleis per dag,
en solank hulle nie meer as 140
gram per dag eet nie, is rooivleis
goed vir hulle."
Grootpiet meen dadelik dat dit
seker ’n drukfout moet wees. ’n
Steak van 96 gram of selfs 140 gram
bestaan nie. En ’n man wat so min
vleis wil eet, kan sekerlik ook nie
bestaan nie. Dis ’n happie vleis, nie
’n steak nie, sê Piet.
"Dit wys jou nou net weer," sê ’n
verontwaardigde, Gert Mossie. "Jy
kan nooit ’n Ingelsman vertrou nie."
Maar hy gaan hom nie daardeur laat
afsit nie. Hy gaan voort met sy plan.
Vannaand en vorentoe sal daar
rooivleis in hulle huis geniet word,
sê Gert. Hy gaan nog die knipsel uit
Hans se koerant saam met die T-bones
uit Wilhelm se slaghuis saamvat
huis toe. Hy sal net die daai
deel onder aan die storie afknip. |