Bewerings dat rou riool in
‘groot volumes’ in die Zwavelpoortspruit
en in sy damme
beland weens ’n foutiewe rioolstelsel
by die Bluewater Creek ontwikkeling
in Zwavelpoort is deur ’n
buurman van die ontwikkeling in ’n
brief aan Kungwini se gesondheidsdepartement
gemaak.
Die buurman, Douw Venter, sê in
die brief sy klagte is teen die ontwikkelaar,
Lebra Developments, die
huiseienaarsvereniging van
Bluewater Creek en ook “sommer
teen diegene wat verantwoordelik is
by Kungwini vir die afteken van
sulke ontwikkelings en hulle voorwaardes”.
Douw sê sy “grootste probleem” is
dat sy boorgat laer as sy damme sit
en dat hy in hierdie stadium “rioolwater”
in sy damme het. Dit is volgens
die brief, ná ’n doktersbesoek,
vasgestel dat ’n vrou van ’n naburige
hoewe E. coli parasiete in haar gestel
het weens die verswakte gehalte
van die drinkwater.
Volgens Douw het die huiseienaarsvereniging
van Bluewater Creek en
mnr W Cawood wat vir die onderhoud
van die rioolstelsel se pompe
verantwoordelik is, hom verseker
dat foutiewe pompe vervang is.
Hulle het hom ook meegedeel dat
“swaar weer” deels verantwoordelik
is daarvoor dat riool in sy damme
beland het.
Hy het talle gesprekke gehad met
Henk Botha en sy pa, Phillip Botha,
van Lebra Developments in verband
met skade, maar hulle voel volgens
Douw “blykbaar nie verantwoordelik
nie”.

Een van die foto’s wat Douw Venter aan Kungwini se gesondheidsdepartement
gestuur het om die besoedeling van die Zwavelpoortspruit
te wys
Douw noem ook in die brief dat
beloftes wat deur die ontwikkelaar
gemaak is oor maatreëls soos ’n
opgaartenk wat sou keer dat rioolwater
“ontsnap” as die pompe
onklaar raak, nie nagekom is nie.
Ander beloftes oor die opgradering
van toegangspaaie is volgens hom
ook nie gehou nie.
Henk Botha van Lebra sê dat alles
wat hulle voor die ontwikkeling
onderneem het om te doen, gedoen
is en alles is volgens voorgeskrewe
riglyne gedoen. Henk sê hy raak
moeg daarvoor dat sy naam telkens
met probleme in die gebied
“beswadder” word.
Die dag toe hy as ontwikkelaar die
projek aan die huiseienaarsvereniging
oorgegee het, moes sy verantwoordelikheid
daarvoor vir alle
praktiese doeleindes geëindig het,
sê Henk. Hy voel hom egter as
grondeienaar in die projek nog
genope om te help met enige probleme
wat opduik.
Die rioolstelsel is soortgelyk aan die
Lilliputstelsel waar rou riool afgebreek
word tot aanvaarbare vlakke
voor dit vrygelaat word.
Dit is juis destyds besluit om so ’n
stelsel te gebruik, omdat Henk
gemeen het dat Franse putstelsels vir
elke woning, soos in Mooikloof,
besoedelingsprobleme sal veroorsaak.
Al die nodige riglyne is gevolg
voor ’n buitemaatskappy die stelsel
ingesit het.
Volgens Henk het die stelsel vir vyf
jaar sonder probleme gewerk. Die
uitermatige baie kragonderbrekings
in die afgelope tyd, iets wat niemand
kon voorsien nie, het egter
veroorsaak dat probleme wel ontstaan
het. Om dié probleem uit te
skakel is nou besluit om ’n noodkragopwekker
aan te skaf, sê Henk.
Douw maak verder volgens Henk
aantuigings sonder dat hy dit met
feite kan grond. Henk gaan die
water in die spruit bokant die ontwikkeling
laat ontleed en ook die
spruitwater stroomaf van Bluewater
Creek, sodat met sekerheid gesê
kan word waar die besoedeling vandaan
kom en of dit op onaanvaarbare
vlakke is. |