Het jy gehoor? / Have you heard? - Mar 2011 PDF Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Monday, 21 March 2011 16:56
Untitled Document

Huurders in Zwavelpoort se bekende ‘kliphuis’ is erg omgekrap oor hulle krag afgesny is en omdat hulle teen saktyd geglo het dat die eienaar hulle kennis gaan gee om voor die einde van die maand uit te wees. Sommige meen die eienaar wil van hulle ontslae raak omdat hy stoorplekke daar wil bou. Volgens een omgekrapte huurder gaan hulle nêrens nie. Hulle meen dit is ‘onwettig’ om hulle te wil ‘uitskop’. Dit blyk dat die krag afgesny is weens ’n kwaai agterstallige rekening. Die rede vir die reuse rekening is glo grootskaalse ‘diefstal’ van krag. Die kraglyn na die huis word glo jare reeds ‘getap’. Die kliphuis staan skuins oorkant die berugte plakkerskamp, onderkant die steengroef.

xxx

Die ma raak bietjie moeg vir haar student-dogter se streke, en gooi haar uit die huis. Blyplek is egter nie dadelik bekombaar nie, en sy slaap maar in haar motor. ’n Week later mag sy egter weer terugtrek. Ironies genoeg, daar bars die geyser reg bokant die ma se slaapkamer. Plafon, hangkas, vloere, alles daarmee heen. Die ma moet nou uittrek totdat herstelwerk klaar is. Nou ja, sy het mos ’n motor. Haar dogter moet haar net inlig waar die beste oornagparkeerplekke is. (Ware verhaal)

xxx

The Bronberg area is hosting a series of equestrian events that will become bigger than the Avis Derby. The first leg of the Pro Show Jumping Series will be held on 2 April at Burgh Equitation Centre, plot 140, Mooiplaats. Admission to the public is free. The Pro Series is made up of three legs and eight teams which include South Africa’s top 24 show jumping riders.

xxx

Elrine Spies, hoofsanger vir die groep Jazz Assassins en stem-afrigter, bied vanaf 19 April twee kursusse in ons kontrei aan. Die sangkursus, ‘Born To Sing’ word Dinsdag-aande en ‘The Songwriters Toolkit’ op Woensdag-aande by Die Werf in Olympusrylaan aangebied. Die sangkursus fokus onder andere op stem-ontwikkeling, mikrofoon-tegniek en improvisasie. Die liedjie- skryfkursus spesialiseer in die skryf van kwaliteit-lirieke. Die kursusse eindig met ’n groot konsert in Johannesburg, waarheen platemaatskappye en agente in die bedryf genooi word. Vir meer inligting, skakel 082-621-1305 of besoek www.borntobefamous.co.za.

xxx

Liberty Stalle het laat weet dat die skoue waarvoor voorberei word die SANEF skole-skoue is. Dit staan al vir ’n paar jaar nie meer bekend as SANESA, soos genoem in ‘Dinge om te doen’ nie. SANEF staan vir die ‘South African National Equestrian Foundation’ wat in 1957 gevorm is deur ’n aantal perde-streekverenigings. Hulle het vandag omtrent 4 750 lede.

xxx

Op Sondag 5 Maart het Ekhuruleni Metro-amptenare by die westelike deel van die Bapsfontein informele nedersetting opgedaag om die ongeveer 1 000 mense wat in Desember en Januarie geweier het om verskuif te word, te verwyder. Volgens amptelike statistieke moes 3 080 van dié Bapsfontein- inwoners geskuif word, maar volgens syfers wat deur die plaaslike kliniek gehou word, is die aantal mense nader aan 8 000. Die skuiwery is dieselfde Sondag tot ’n halt geroep toe ’n vroueregte organisasie ’n hof interdik gekry het om die ‘rooimiere’ – soos die gevreesde verskuiwers genoem word – te stop.

xxx

Shammah Huis vir Getraumatiseerde Persone in Cullinan bied op Sondag 27 Maart, as deel van hulle fondsinsamelingsprojekte, ’n spitbraai teen R50 per persoon aan. Die ete word beplan vir 12:00 en sluit slaaie en nagereg in. Die voorafgaande spesiale erediens deur die Kerk op Wiele motorfietsryers begin om 9 vm. Shammah Huis is ’n plek van veiligheid waar 67 mense, van klein kinders tot ou mense in rolstoele, woon en drie maaltye elke dag kry. Vir navrae oor die ete, bel vir Babsie by 082-825-5343.

 

© 2019 Die/The Bronberger