Sportkyk verg fikse breinselle PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 21 March 2011 19:28
Untitled Document

Hy verstaan nie hoekom mense hulle tyd so mors met sportkyk op TV nie, sê ou prof Jeebee (Pie) Brink. ’n Mens moet eerder iets leersaam lees en jou breinselle oefen as om rusbankaartappel te speel en sport te kyk, meen prof JeeBee.

Dis halftaaim by die Super rakbie in Kaapstad en besteltyd by die drinkgat in die Bronberg. Gert Mossie kyk sy geleerde vriend kopskuddend met meewarige simpatie aan. “Iemand wat sport kyk, is g’n ’n aartappel nie, hoor,” sê Gert.

“Dis ’n hoogs gespesialiseerde wetenskap wat jarre se bloedswetende opleiding verg voor jy kan kwalifiseer om selfs jou bas op daai sportkykrusbank neer te plak. En dan moet jy ast’ware eers graad vang en minstens jou meesters baasgeraak het, voor jy verdien om jou bek van daai rusbank af te mag oopmaak. As jy die ref byvoorbeeld vloek, moet hy verstaan hoekom hy ’n dinges is, anders maak jy dalk van jouself een.”

“Wat jy, en ander ouens wat dink onverstaanbare handboeke is pret, nou seker nie sal weet of verstaan nie, is dat dit hoogs gevorderde breinselle verg om sport in die diepte van sy wese en die menigte, ingewikkelde buitefasette daaraan verbonde, te begryp. Dit verg breins en dit verg intense studie en dit verg veral deusettingsvermoeë. Niemand het gesê ware, vervullende plesier is maklik nie,” sê Gert Mossie.

“Maar as jy eers die kuns van sinvolle sportkyk, baasgeraak het, is dit al die moeitevolle werk werd. Jy is in totale beheer van jou omgewing en jy is in beheer van alles wat op die veld voor jou - komplimente van die kassie - gebeur. Jy weet wanneer die kommentator al weer strooi gepraat het en jy kan dit vir hom sê, sonder vrees vir teenspraak.

Jy weet as dit ’n haaitêkkel of ’n forwirdpaas was en jy weet wie die aap was wat die bôl nie gepaas het toe hy moes nie. Jy kan dit driftig met die moed van jou oortuiging aan die wêreld en sy grootmoer oordra, want jou breinselle is fiks.”

“En onthou, dit gebeur alles terwyl jy, as opgeleide sportkyker, jou breinselle nog verder moet rek met noodsaaklike en ingewikkelde newe-aktiwiteite soos; dopskink en -drink, die biltong kerf, insit en kieskou. Dit doen die bekwame sportkyker sonder om ’n druppel of ’n krummel te mors en dit terwyl hy die ref vloek en die mannetjie van die ander span verwens sodat hy moet mis skop,” sê Gert.

“Net die ervare, slim sportkyker weet hoe om ’n dringende draai te loop in presies die tyd wat dit ’n bloedbeseerde voorry vat om vervang te word en dan nog die regte geluide te maak as die vrou of kinders jou onsinnige, onverwante vrae vra of mededelings staan maak net as jou span lyk of hulle wil ‘score.’ Dié dinge verg nie net die beste breinsel-oefening denkbaar nie, dis ook ’n oefening in ‘multitasking’ van onvergelykbare omvang,” sê Gert Mossie.

“Maar jy gaan die vervullende voorreg daarvan nooit ervaar solank jy ’n pissie bly wat eerder boeke oor onbeduidende goed soos wetenskap aanhang nie.”

 

© 2019 Die/The Bronberger