Geluk by die nagapie-ongeluk PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 21 March 2011 17:33
Untitled Document

Metgesel onthou dat iemand op ’n mooi dag gesê het, as jy jouself nou regtig wil bederf, moet jy op ’n Sondag by Galagos loop ontbyt eet. Ek het lus om onsself te bederf en ons sit op ’n onlangse Sondag af soontoe.

Galagos sit binne in ’n digte, uitheemse wattelbos neffens die afdraaipad na Kleinfontein, vanaf die hoofpad na Rayton.

As die naam Galagos by jou beelde van romantiese Griekse eilande oproep, soos dit by my het, sou jy, soos ek, baie ver van die teiken af wees. Galagos is die geletterde naam vir ’n nagapie, of soos die Ingelse sê, ’n ‘bush baby’.

En bykans soos ‘babes in die bush’ het ons gevoel toe ons gelukkig per ongeluk by ‘day visitors’ staan parkeer het en nie die wye draai omgery het om neffens die ontbyteetplek te parkeer nie.


Die dek in die wattelwoud by Galagos

Jy stap langs waterstroompies en spuitfonteine met ’n geplaveide kronkelpaadjie deur die wattelwoud. Die mense van Galagos het die onmiddellike omgewing van die wandelpad met inheemse en ander bome en struike beplant. Oral is afdraaipaadjies na stegies en inhamme met dammetjies en waterlopies wat volgens Metgesel werklik ‘magic’ is. En oukei, volgens my ook.

Ons eindbestemming is ’n imposante en groot uitspanplek op stelte wat hulle ‘Windjammers’ noem. Jy moet daai ‘windjammers’ op Ingels sê. Niks te doen met ’n wind waarvoor jy moet jammer sê nie. ’n ‘Windjammer’ is ’n eertydse seilskip en met die baie ruim restaurant se ewe ruim, verhewe dek, kan jy met net ’n bietjie verbeelding sien hoe die kop gewerk het wat die naam uitgedink het.

Ons word deur ’n vriendelike kelner na ons gerieflike tafelplek op die ‘skeepsdek’ begelei en gou kry die ‘wind’ in Windjammers sigbare gestalte. Dis op dié mooi Sondag ’n vriendelike, matige wind wat die wattelbome se toppe net rustig buig en roer en ruimskoots tot Metgesel se ‘magic’ bydra.

Windjammers by Galagos sit ’n selfhelp (buffet) ontbyt op ’n Sondag voor. ’n Kelner met sindelike wit handskoene is byderhand om jou koffie aan te bring en is deurgaans naby, maar nooit lastig nie, om die tafel skoon te hou en op enige moontlik vrae of versoeke te reageer.


Op stelte tussen die boomtoppe sit Windjammers

Duidelik is ons erg beïndruk met die plek, sy atmosfeer en sy personeel. Maar soos die Ingelsman tereg sê: Die proef sit in die poerring. Wat van die kos?

Galagos se verskeidenheid hou kers vas met die meeste plekke wat buffet-ontbyte in ons gebied voorsit en die keuse is ruimer as die meeste. Jy kan begin met graankos of jogurt of vrugteslaai, of gestoofde vrugte en vla, of jy kan daarmee afsluit, sou jy wou. Bekers met ’n heel smaaklike vrugtedrankie staan oral reg vir selfhelp. Ek hou verby oor ek wil probeer om ’n bietjie van alles van die res te beproef, sodat ek vir julle daarvan kan vertel. En ek gaan dit nou doen.

Vir die meeste van ons is eiers sinoniem met ontbyt en soos die meeste selfhelp-ontbytplekke het Galagos roereiers in ’n warmhoubak. Maar hulle het ook ’n kranige ‘eiersjef’ aan boord wat in ’n kits jou bakeier of omelet na jou smaak op ’n bakplaat omtoor. As ek weer gaan sal ek van die eiersjef se dienste gebruik maak. Die roereiers in die warmbak is bleek en smaakloos afgewater. Gelukkig kan jy dit met die baie gebottelde souse gestalte gee.


Wandelpaadjies, waterlope en woud op pad na Galagos se ontbytplek

Spek (bacon) wat in ’n toe bak warm gehou word, neig maar oral om nie te aptytwekkend te lyk nie. Behalwe as dit tot ’n dieper kleur gedwing word deur dit bloot ’n bietjie langer te braai. Galagos se ‘bacon’ was eweneens nie baie mooi nie, maar met die smaak kan jy as reël by winkelspek nie veel fout vind nie.

Die kaasworsies is ’n saak van ’n heel ander kleur en geur. Niks fout te vind daarmee nie. Dit lyk, ruik en smaak trouens beter as die meeste waarmee ek nog te doen gekry het. Ek kan ook dieselfde sê van die baie lekker bak-aartappelgereg met sy bykans perfekte gekaasde witsous.

Die groot swart sampioene het ook effe deurgeloop deur die warmhouproses, maar was vir ons baie smaaklik. Hulle was kwaai geknoffel en ons hou van knoffel – hou liewer verby as jy ná brêkfis nog moet kerkloop.

Die mieliepap was ’n heerlike, oordoende poetoe wat amper neig na krummel. Die sous daarmee saam was ’n ‘tjakalaka’ met ’n stewige rissieskop. Ek sou kon sweer dit kom uit ’n blikkie uit, maar wat weet ek?

Hoenderlewertjies is een van Metgesel se gunsteling ontbytkosse. Sy hou ook van ’n lekker peri-peri-lewertjie op sy tyd en by ontbyt, met matigheid. Galagos se lewertjies was op dié betrokke Sondag iets wat verkieslik nie sonder ’n verpligte brandgevaarwaarskuwing voorgesit behoort te word nie.

Ek het die kaasverskeidenheid vir ’n ‘afspoelentjie’ geniet en Metgesel meen die kolwyntjies was vars en heerlik.

Ons het die besoek aan Galagos en die ontbyt genoegsaam geniet om ons as ‘bederf’ te beskou en dit vir jou aan te beveel. Jy moet bespreek, sê hulle. Die nommer is 082-823-1812.

 

© 2019 Die/The Bronberger