Stinkende riool uit die Mooikloofrif-ontwikkeling se rioolpompstasie
hou ’n ernstige
gesondheidsgevaar vir duisende
mense in.
Die ontwikkeling se riool pla omliggende
inwoners, ondernemings en
selfs motoriste wat in Garstfonteinweg-verlenging verby ry, jare reeds.
Die probleem het einde Februarie
vererger toe die pompstasie finaal
ingegee het en rou riool langs Garstfonteinweg
begin opdam het en
onder Mooikloof Landgoed se mure
deur tot in die Zwavelpoortspruit
begin stroom het.
Die onbehandelde riool vloei met
die Zwavelpoortspruit tot in die
Pienaarsrivier en bedreig die gesondheid
van duisende mense en
diere.

Riool stroom onder die deure van die Mooikloofrif
rioolpompstasie uit
Foto: Johan van der Merwe
Amptelike klagtes oor die pompstasie
dateer terug na 2009. Een daarvan
is ’n brief wat die eienaar van
Newlands Tuinsentrum aan Kungwini
Stadsraad geskryf het oor die
riool wat in Desember 2009 in
Garstfonteinweg afgeloop het en in
Mooikloof se dam beland het.
Volgens ’n klagte gelê deur Patrick
Cannell, inwoner in die gebied, lê
die probleem nie by die munisipaliteit
nie, maar by die landgoedontwikkelaars,
M&T. Hy sê dat hy met
die sekuriteitswag by Mooikloofrif se
hek gepraat het en dat dié gesê het
dat hy die probleem gerapporteer
het, maar dat niks gebeur nie.
Mooikloofrif se landgoedbestuurder,
Theo van Rensen het op 9 Maart
aan Die Bronberger gesê dat hulle
daagliks besig is om aan die probleem
te werk. Sodra hulle die
pompstasie reggemaak het, breek hy
weer.
Theo sê dat die landgoedbestuur
lankal aan Kungwini sit om die
pompstasie reg te maak, maar blykbaar
trek Kungwini-amptenare hul
skouers op en sê dat die ontwikkelaars,
M&T, nooit die pompstasie
aan Kungwini oorhandig het nie.
Dié rioolstasie is dus nie op hulle
boekie nie, en is nie hulle probleem
nie.

Die pompe binne-in die stasie kan deur die oop deure
gesien word
Foto: Marinus Lindhout
Theo het self gereël dat die Mooikloofrif
landgoedbestuur die pompstasie
laat regmaak. Hy sê dat dit
ironies genoeg Kungwini-kontrakteurs
is wat nou deur die landgoed
betaal word om aan die stasie werk.
Hulle het vir Theo gesê dat die stasie
verkeerd ontwerp is en sal aanhou
breek. Dit sal heeltemal oorgedoen
moet word.
Volgens Theo het Kungwini vir hom
gesê het dat hulle die herontwerpte
pompstasie sal oorneem. Hy wil nie
graag ’n amptelike datum noem
wanneer dit sal gebeur nie, maar
het gesê dat dit dalk voor Die Bronberger se Maart verskyningsdatum
kon wees.

Die rou riool beland in Mooikloof se waterstrome, die Zwavelpoortspruit en
uiteindelik die Pienaarsrivier
Foto: Gert van der Walt
Op 10 Maart het PMJ Ramothwala,
wat instaan as Kungwini munisipaliteit
se direkteur van infrastruktuurdienste,
egter ’n brief aan Theo geskryf waarin hy sê dat die munisipaliteit
tyd nodig het om na te vors
wie wettiglik vir die pompstasie verantwoordelik
is.
In dié brief onderneem Ramothwala
om Mooikloofrif se huiseienaarsvereniging
die bedrag van R5,399.04
terug te betaal as ’n ondersoek sou
bewys dat die probleem die munisipaliteit
se verantwoordelikheid is.
Dit is die bedrag wat Pumptron gekwoteer
het om ’n ondersoek te
doen na die oorsaak van die probleme
by die pompstasie om sodoende
te probeer vasstel hoe om
dit op te los.

’n Opdamming van riool langs Garstfonteinwegverlenging
Foto: Marinus Lindhout
Volgens wyk 2 raadslid, André van
der Walt, is daar soortgelyke probleme
en potensiële probleme by
baie ander rioolstasies in Kungwini-wes.
Hy sê dat die Silver Stream
rioolprobleem daagliks deur
Kungwini amptenare gemonitor
moet word, maar dat dit glo nie
gebeur nie. Blykbaar gebeur dit nie,
omdat meeste van Kungwini se
senior bestuur in die departement
verantwoordelik vir water en riool
op siek- of studieverlof is.
André sê dat die rou riool in die
Zwavelpoortspruit beland en afloop
om selfs in die Pienaarsrivier te
beland.
In Februarie se uitgawe van Die
Bronberger is berig dat rou riool van
’n onklaar suiweringstelsel by die
Bluewater Creek-ontwikkeling glo in
die Zwavelpoortspruit en in omgekrapte
hoewe-eienaars se damme
beland.

Die pad wat die rioolstorting deur Mooikloofrif se
mure volg
Foto: Marinus Lindhout
Lewensgevaarlike e.coli bakteriese
infeksie is by minstens een vrou wat
langs die spruit woon, gevind.
Bluewater Creek maak gebruik van
’n stelsel soortgelyk aan die Lilliputstelsel
wat riool afbreek tot aanvaarde
vlakke voor dit in die spruit
vrygelaat word. In dié stadium is
daar slegs enkele voltooide wonings
by Bluewater Creek terwyl honderde
huise van Mooikloofrif se onbehandelde
riool stroomop in die
spruit beland. |