Rayton-honde ly in voertuie Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 21 April 2011 17:26
Untitled Document

E. Bosman van Rayton skryf:
Wat is dit met mense wat hulle diere saamneem winkels toe en dan "vergeet" van tyd en die dier in die warm son laat sit? Vandag het ek ’n vrou uit ’n restaurant by die Raytonwinkelsentrum gaan haal nadat sy haar babahondjie wat nog nie ses weke oud is nie in haar wit Nissan bakkie se kajuit toegesluit het. Slegs die venster van die kappie agterop die bakkie en die tussenvenster was oop. Ek het my hand deur die oop venster gesteek en gevoel dat die hitte daar reeds so hoog was en dat die hondjie sou doodgaan van ontwatering.

Verskeie mense het reeds om die bakkie saamgedrom en was besorg oor die hondjie. ’n Man het gevra waarom die eienaar van die bakkie die hondjie op so ’n wyse wil laat doodgaan? ’n Ander "slimjan" het beweer die hondjie tjank slegs omdat hy na sy eienaars verlang. Gelukkig kon ek inligting kry wat my op die "oortreder" se spoor geplaas het. Terwyl sy en haar dogtertjie lafenis in die restaurant gaan soek het was die hondjie aan sy lot oorgelaat.

Dankie vir die groot aantal mense wat my ondersteun en gehelp het en die paar wat my optrede veroordeel het; julle is net so skuldig. Dit is die tweede keer dat ek binne ’n maand by dieselfde kompleks ’n hondjie in ’n motor kry.

Die vorige keer het ek vir ’n uur by die dame se motor bly staan. Toe sy eindelik met haar waentjie vol kruideniersware opdaag het sy beweer sy was slegs vir 10 minute weg. Sy het my waarskuwings met stilswye geïgnoreer, haar kruideniersware in die motor gepak en weer die winkels ingevaar.

Ek het tevergeefs vir Wet Nose gebel maar iemand anders het gelukkig die DBV in kennis gestel. Sulke mense behoort aangekla te word van dieremishandeling.

 

© 2020 Die/The Bronberger