Rayton rowers molesteer tieners Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 21 April 2011 17:44
Untitled Document

’n Huisrower het ’n vrou van Rayton verkrag en haar twee tienerdogters gemolesteer terwyl hy en sy vier makkers die huis beroof het.

’n Dag ná dié ondervinding in Maart het een van die tieners twee van die mans herken nadat hulle by ’n sjebien skuins oorkant die huis uitgestap het. Sy en haar ma se lewensmaat het die mans agterna gesit in hulle bakkie. Die mans het by ’n plot ingehardloop waar hulle met die plot-eienaar se hulp vasgetrek is.

Die ma en kinders het die twee mans, albei onwettige immigrante van Zimbabwe, by ’n uitkenningsparade uitgewys as van hulle aanvallers. Die een is na bewering die verkragter.

Die mans het in die Cullinanse landdroshof verskyn en staan tereg op aanklagte van verkragting, onsedelike aanranding, die pleeg van seksuele dade voor kinders, roof met verswarende omstandighede en dat hulle onwettig in Suid-Afrika is.

Die tieners se vyf-jaar-oue sussie en hulle ma se lewensmaat se kleinkinders, ’n sesjarige meisie en 11-jarige seun, was in die huis met die nagmerrie ondervinding. Die twee kleuters is in die gang met geskeurde lakens vasgebind en onderklere is in hulle monde gedruk.

Die kinders is met vuiste geslaan, met messe gedreig en die twee ouer meisies, wat met bra's vasgebind was, is met ’n vuurwapen in die gesig en oor die kop geslaan.

Die rowers het die huis geplunder en besittings uitgedra. Toe al vyf rowers buite was, het die 15-jarige meisie haarself losgewikkel, die deur gesluit en die noodknoppie gedruk.

 

© 2020 Die/The Bronberger