Die verskriklike droogte PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 21 April 2011 15:52
Untitled Document

Beste neef Allies, Ons het lanklaas gesels, met dié dat jy nou daar onder in Ossieland sit.

As die telefoon deesdae lui dan weet ek dadelik dis nie jy nie, al hoop ek elke keer dit is. Ek kan maar weet dis al weer ou Piet Bank oor die ewige overdraaft, of dis die ou skoonma. En as ons deesdae braai sit ek maar nog elke keer jou stoel uit, al weet ek hy gaan leeg bly staan en moreoggend vaal van die vuur se as lê.

Ek wou jou nou bel daar anderkant, maar Marietjie vra of ek mal is. Sy sê dis agtuur in die aand. Ek sê ek het hom nog altyd agtuur in die aand gebel. Sy was juis besig om die wekker op te wen vir more oggend, en toe kom sit sy die ding hier voor my neer en sê; "tel nou ses ure vorentoe, as jy so ver kan tel, en bring die wekker saam as jy kamer toe kom."

Ek kon sweer sy het haar kop geskud toe sy hier uitloop. Marietjie kan deesdae baie naar met my wees, ou neef. Hier by my op die plaas is dit al hoe lank droogte. Dis ’n hengske ding as die landerye droog lê, die dam tot oorlopens toe voel is, maar die sluise word strafregtelik toegehou.

En dit is alles erger gemaak deur die vervlakste merriegourount. Dis die merriegourount en daai simpel Freek van Staden en die dominees se skuld dat die naargeit en die verskriklike droogte nou nog nie gebreek is nie. Die hartseer hier op Vlakplaas loop só diep, ou neef, dat die babafoto's teen die slaapkamermuur soms in trane uitbars.

Soos ’n brommer wat ’n vars dinges geruik het, het die merriegourount woerts-warts hier op die dorp se skougronde ingetrek en die hele distrik was in rep en roer.

Ek wou nie gaan nie, maar ’n vrou is mos met die hef in die hand gebore en ter wille van die kinders en met die hoop dat die trippie dorp toe dalk die vreeslike droogte kan breek, sit ons op die Saterdag af mallemeule toe.

"Jy gaan nie wegloop nie, Flip Nel, en jy gaan vir jou gedra. En jy bly weg van daai biertent af," het Marietjie vir my gesê toe ek die bakkie voor die biertent (toevallig) parkeer. Sy en die kinders is weg merriegourount toe en my plan was om maar solank ’n sak sout by die koöperasie te loop laai.

Maar dit was warm en wat kan enetjie nou skade doen? Binne in die tent het ek ’n onskuldige koue een bestel, maar voor ek my oë kon uitvee staan daar nog een voor my. Freek van Staden was ook daar, met sy laaitie. Sy vrou is mos die hairdresser op die dorp en sy het gewerk, sodat die mammies mooi kan lyk vir die mallemeuledinges.

Ou neef, Freek van Staden is nie ’n ou wat iemande met inborste, soos ons, aspris ’n vrind sal noem nie. Maar dis vandat al my neefs en maters oorsee gefoeter het, na die saliger aanbeweeg het, of iewers ’n kantoorjop gekry het, dat ek maar vir Freek begin verdra het. ’n Man is immers nie ’n eiland nie.

Kyk, ’n kind hoort nie in ’n biertent nie. En ’n omgesukkelde man, soos ek, wat heeltemal te lank op stal staan, seker ook nie. Die kind hardloop rond en gil en jil, en Freek dink dis te oulik. Soos Freek vroliker raak, raak die kind meer luidrugtig. Meer as sy pa.

Nou kyk, die oumense het gesê "van lekker lag, kom lekker huil". En kort voor lank is die kind in trane. Sy pa sê vir hom om stil te bly. En hoe meer Freek paai en raas en Coke koop, hoe harder huil die stomme kind.

Ek het vier kinders grootgemaak, en ek weet hoe lyk ’n kleintjie wat moeg is. Ek stel voor Freek vat die kind huis toe dat hy kan loop slaap. Seg Freek mos vir my ek moet my eie "besigheid maaind". Want ek dink ek is so oulik en so belangrik en almal moet altyd na my pype dans, maar almal weet van my 'droogte' en van my skuld.

En toe bars die frustrasie van die droogte deur die ordentlikheid van die opvoeding en ek pot hom. Laaits out.

Ek weet nie waar die predikant vandaan gekom het nie, maar die volgende oomblik staan hy langs my. Broer . . . begin hy. Dis toe dat ek vir hom sê: "Dominee, as u nie volgende gepot wil word nie dan hou u liewer u smoel." Toe draai ek om en loop my tromp-op in Marietjie vas.

Wat my nou so beswaard maak is nie omdat ek onder kerklike sensuur is nie. Dis oor die droewige droogte, ou neef. Die leivoor is vol water maar die sluis bly toe. Dankie dat ek met jou kon praat. Groete, jou neef, Flip Nel

(Met dankbare erkenning aan Alwyn Nel van Perth)

 

© 2019 Die/The Bronberger