Bronbergers betaal binnekort baie meer vir niks Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 21 April 2011 17:54
Untitled Document

Bronbergers se grondbelasting gaan binnekort met tussen 75% en 400% styg.

Ná die munisipale verkiesing van 18 Mei word die munisipale gebied van Kungwini en Nokeng Tsa Taemane by Tshwane ingelyf. Die Tshwane raad het reeds kennis gegee van hulle voorneme om verhoogde tariefskale in te stel.

Hoewebewoners gaan geen baat vind by die aanwending van die fondse nie - nie in die vorm van infrastruktuurontwikkeling nie, en ook nie met die lewering van die meeste algemene munisipale dienste nie.

Tog is dit hoewebewoners wat die grootste verhoging in grondbelasting gaan betaal; ’n viervoudige verhoging in tariewe. As jy nie kan bewys dat jy jou plot vir landboudoeleindes gebruik nie, gaan jy die volgende verhogings moet betaal: ’n Plot van R1,5 miljoen se belastingkoers gaan verhoog van 2010 se R0.00150 tot R0.01209. Die bedrag per maand gaan styg van R187.50 tot R949.57 wat ’n R762.07 of 406%, verhoging beteken.

’n Residensiële woning met ’n waarde van R1,5 miljoen se belastingkoers gaan verhoog van 2010 se R0.00600 tot R0.01209. Die maandelikse bedrag gaan styg van R520 na R950, wat ’n R429.82, of 83% verhoging, beteken.

’n Leë erf ter waarde van R1,5 miljoen se belastingkoers gaan verhoog van 2010 se R0.02400 tot R0.05370. Die maandelikse bedrag gaan styg van R3 000 tot R6 713 wat ’n R3 712.50, of 124%, verhoging beteken.

Volgens Lex Middelberg en André van der Walt, raadslid kandidate in die Bronbergwyke 91 en 101, is die gemeenskap se behoeftes soos telkemale aan Kungwini voorgelê nie in die gekonsolideerde Tshwane ontwikkelingsplan opgeneem nie. Andre van der Walt, huidige raadslid vir Kungwini wyk twee, sê dat die gemeenskap se insette oor die afgelope jare na Kungwini se ontwikkelingsplan glad nie opgeneem is in die Tshwane gekonsolideerde ontwikkelingsplan nie.

"Hoe kan jy ’n verhoging eis as jy nie eers jou onkoste komponent, soos in die ontwikkelingsplan vervat, bepaal het nie?"

By ’n onlangse openbare deelname vergadering, waarheen verteenwoordigers van die Bronbergwyke nie eers uitgenooi is nie, het inwoners wat wel daarvan gehoor het by die vergadering kapsie gemaak oor die verhoging. Van die besware wat geopper is, is die veeltalle foute op die evaluasie rol wat, indien dit reggestel word, nie sulke drastiese verhogings sal regverdig nie. Daar is baie eiendomme wat nie eens op die rol voorkom nie, terwyl ander te hoog geëvalueer is.

Inwoners meen dat die definisie van landbougebruik hersien moet word. Volgens die Tshwane definisie moet jy ’n bona fide boer wees (by SARS geregistreer as een) voordat jy kan aanspraak maak op die 75% verlaging in belasting.

In effek beteken dit dat iemand op ’n kleinhoewe wat nie ’n SARS-geregistreerde boer is nie, aangeslaan gaan word asof hy in die stad bly.

 

© 2020 Die/The Bronberger