Ons moet saamstaan Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 19 May 2011 15:11
Untitled Document

Carl Alant van Zwavelpoort skryf:
Ek wil net ’n bepaalde kwessie on der die Bronbergers in Zwavelpoort, Tierpoort, Boschkop en Mooiplaats se aandag bring. Vanaf November laasjaar is ons gemeenskapsekuriteit in die Zwavelpoort- Tierpoort omgewing verskerp, en inwoners het self ingespring om te help met die veiligmaak van ons omgewing.

Daar is lede wat dit al jare doen, en ons is dankbaar vir hulle volgehoue bydrae. Die resultaat is nie geen kriminaliteit nie, maar dit is so dat ons kan opnoem wat gesteel is - ’n skootrekenaar, bande en ’n TV. Dis waarvan ek weet, verskoon my asseblief as ek iets uitgelaat het. Die diefstalle was by nie-lede.

Daar was een kaping van ’n lid op patrollie. Die diewe is gevang; hulle is jammer.

Ek praat met daardie ander lede wat die vrugte pluk. Julle weet wie julle is; die mense wat lekker slaap as ons in die nag en in die dag brande blus (ja, ons het ons eie brandweerwa), reageer op ongelukstonele, diere na veiligheid bring, krag laat regmaak, watertekorte aanspreek, kabeldiewe vang en, mees belangrik, kriminele uit ons omgewing hou.

Daar is tans in die Bronberg-gebied ongeveer 300 lede, en ons is almal in radioverbinding met mekaar. As een van ons lede om hulp roep is almal daar vir mekaar, maar ons is in ’n groot gebied, en ons is yl gesaai oor die omgewing.

Ons dra die las van baie mense wat nie weet waarom sy bakkie nog nie die jaar gesteel is nie, of waarom sy mooi LCD TV nog in sy sitkamer is nie.

Kom sluit asseblief aan by ons. Dit kos R100 per maand vir die infrastruktuur. Daar sal ’n nuwe wêreld vir jou oopgaan as jy sien hoeveel mense omgee vir mekaar. As jy nou terugsit en dink jy gaan niks doen nie, onthou dat ons jou beter kan oppas as jy help om die las te dra.

Kontak gerus vir Petro Anderson by 083-604-0074. Sy is hart en siel gefokus op die welsyn van ons gemeenskap. Vind uit hoe jy kan help. Anders ry gewoon in by iemand met ’n Conserv-bord op sy hek. Julle is altyd welkom by ons.

 

© 2020 Die/The Bronberger