Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 19 May 2011 15:12
Untitled Document

Dries Herbst van Bashewa skryf:
Nasionale Tesourie en die Wetgewer vereis dat munisipaliteite se begrotings op hul webwerwe gepubliseer moet word. Daar word ook ’n bepaalde formaat voorgeskryf waarvolgens dit opgestel moet word.

Dit is noodsaaklik sodat openbare deelname kan plaasvind alvorens die begroting gefinaliseer en goed- gekeur mag word.

Daar is nog tot 31 Mei om insette te lewer. Indien die begroting nie op 31 Mei goedgekeur is nie, moet die raad elke week vergader tot en met 30 Junie. Indien die begroting nie op 30 Junie goedgekeur is nie, moet provinsie intree.

Op die Kungwini webblad is daar geen begroting gepubliseer nie en ook geen kennis is gegee van waar die begroting elders besigtig kan word nie. Ek het nou al twee keer vir hulle geskryf en e-posse gestuur. Geen antwoorde word verskaf nie.

Nou verneem ek van die Nasionale Belastingbetalersunie dat so ’n verandering aan die begroting met belasting en dienste sonder openbare deelname, onwettig is en nie afdwingbaar is nie. Voorts bepaal die tesourie dat begrotings binne die inflasiekoers van 3% tot 6% moet bly.

Hoe op dese aarde kan hierdie mense verwag dat ons sommer 400% ekstra moet opdok vir geen dienste nie. Vir niks dienste moet ons astronomies betaal! Dit is mos gekheid!

Binnekort gaan ’n klomp, veral pensioentrekkers, nie meer hulle woonplekke kan bekostig nie. Ook sal jy nie jou plek weens munisipale tariewe uitbuitery verkoop kry nie. Wat dan?

Bronbergers sal nou moet saamstaan en die probleem kragdadig as ’n gemeenskap aanspreek. Begin asseblief deur beswaar te maak oor die begroting nie op hul webblad gepubliseer is nie. Ek weet nie of dit dalk in die biblioteek geplaas was nie, maar ek twyfel.

Hierdie onding mag nie gebeur nie. Asseblief.

Brief verkort. - Red

 

© 2020 Die/The Bronberger