Geen water uit Cullinan se krane Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 19 May 2011 15:17
Untitled Document

Elsabé Maré

Cullinan se wekelange water krisis het menige inwoner hoog en droog en erg omgekrap gelaat. Dié krisis het niks met ’n tekort aan water te doene gehad nie, maar met probleme in die watervoorsieningstelsel.

Sedert Saterdag 23 April het inwoners van nuwe dorp, die laaste uitbreiding van die oorspronklike dorp, net dan en wan ’n straaltjie water uit die pype gekry. Die toestand het geleidelik versleg en het op Dinsdag 3 Mei krisisvlak bereik. ’n Watertenk het dié dag van straat na straat gery sodat inwoners kanne en emmers kon volmaak.


Munisipale werker, Dan Mabisha, wag vir reaksie van Magalieswater

Water het egter aanhou uitborrel op die hoek van Vierde Straat en Range Road. Die myningenieur van Petra Diamonds, André du Plooy, en sy span het Dinsdagoggend gaan kyk of hulle nie kan hand bysit nie. Magalieswater, wat die dorp se reservoir bedryf, het die mynspan versoek om die terrein dadelik te verlaat. André se woorde, “dit kan nie nog so staan nie,” som die verslaentheid van die omstanders op.

Intussen het die munisipale werkers staan en wag vir Clifford Matlala by Magalieswater se reservoir om water deur te laat sodat hulle die waterkleppe kon regmaak. Dit is blykbaar ’n gespesialiseerde diens van ’n vakman wat die kleppe wat gelyk met die watervlak gestaan het, moes uitlig sodat hulle nie verder roes nie.


Kontrakteurs Carl Stofberg en Thomas Guke kry water by ’n watertenk bo in Oaklaan

Woensdagmiddag 4 Mei het daar steeds geen water uit krane gekom nie en teen vroegaand het die water nog op drie plekke in die woon buurt uitgeborrel; in Koppielaan, naby die begraafplaas langs die pad na Refilwe en in Negende Straat. Die hopeloosheid van die toestand is bevestig toe die watertenk om sewe-uur in die donker strate op en af ry met aankondigings dat water by die tenk beskikbaar is.

Daardie nag het die water bruin en met ’n gespoeg begin deurkom, maar toe lê die ellende vir die niks vermoedende oudorp nog voor. Kontrakteurs wat bo in Oaklaan aan elektrisiteit by ’n eiendom werk het klaarblyklik ’n kabel beskadig. Tshwane Munisipaliteit moes die krag op Woensdag 4 Mei afsny.


Kontrakteurs Korrels Grundlingh en Roelf van Graan by Gregory von Gordon van die Tshwane Munisipaliteit se elektrisiteitafdeling

Hierop volg ’n ellende by die reservoir, want die opgaardamme was vol, maar omdat daar nie krag was nie, kon die water nie na oudorp uitgepomp word nie. Gevolglik het die wateroperateur van Magalieswater vir die Wilgerivier-pompstasie, ongeveer 26 kilometer suidoos van Cullinan, opdrag gegee om nie meer water deur te laat nie omdat dit die dam sou laat oorloop.

Gregory von Gordon en sy span van die Tshwane Munisipaliteit se elektrisiteitafdeling het die beskadigde kabel Donderdagmiddag geïsoleer, kragtoevoer is herstel en Magalieswater kon weer water uit die reservoir begin pomp.


Inwoner Buks Booysen, links, en die mynspan, Fanie Matshaba, Daan Pretorius, André du Plooy en Piet Pienaar, by die borrelende water op die hoek van Range Road en Vierde Straat.

Ten tye van die krisis was daar geen antwoord by Nokeng se munisipale kantore nie. Sommige inwoners se nuutste munisipale rekenings dui ongekende waterverbruik vir dié tydperk aan.

 

© 2020 Die/The Bronberger