PDF Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 19 May 2011 13:34
Untitled Document

’n Kuiertjie by Kitty Hawk op ’n sonnige herfsdag, is iets waarvoor baie mense baie ver sal ry. Gelukkig is dit vir Bronbergers nie nodig om die lang pad aan te durf vir dié voorreg nie.

Die grootste vliegveld in private besit wat die suidelike halfrond het om te bied, sit vlak onder ons neuse ingewig tussen die mooi en rustige rante van Boschkop.

Oor naweke word die rustigheid sporadies afgewissel deur ’n vliegmasjien of twee wat opstyg of kom sit, of ’n toertjie wat in die blou lug bokant Boschkop uitgevoer word. Iets om na te kyk terwyl jy onder die sonsambrele met ’n koffie of ’n kouetjie in die hand sit.


’n Lekker kuier tussen Boschkop se rante en vliegmasjiene

Die restaurant by Kitty Hawk se klubhuis is op die oomblik ‘tussen vlugte’, kan jy maar sê. Nico en Lynette Breytenbach het besluit om af te klim en niemand het tot nou toe weer aan boord gegaan nie. Maar met ons besoek aldaar kon jy nog ontbyt en ligte etes bestel. En dit sou bitter jammer wees as die grootste vliegklub en –veld in private besit nie meer sy unieke kuier kans met die gemeenskap sou deel nie.

Ons hoor daar is sprake dat die beheerraad, of wie en wat dit ookal is wat die besluit moet neem, nog die groen- of dalk rooi lig moet wys oor die kuierplek se voortbestaan. Maar intussen kan jy nog ’n lafenis en ietsie ligs te ete geniet en dis wat ons gedoen het. Ons het dit geniet. Die ontbyte bestaan uit die Jabiru (kleinerig), Boeing (groot) en Airbus (lekker groot).

Ek het die kaasburger bestel en ek het lanklaas ’n lekkerder burgerfrikkadel raakgeloop. Dit is lekker los aanmekaargesit en baie geurig. Dit kom saam met tjips en kos R43. Metgesel se hoenderburger was van die gewone soort wat jy gevries in die Pik & Petaal kan koop. Dit kos R38.

Ons kan maar net hoop dat nuwe mense die eetplek oorvat wat die gehalte van Nico en Lynette se eetgoed kan ewenaar, maar intussen bly ’n besoek aan Kitty Hawk meer as die moeite werd.

 

© 2019 Die/The Bronberger