Hofbevel sê Zwavelpoortse pompstasie moet af Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 19 May 2011 15:41
Untitled Document

Dele van Zwavelpoort sal voortaan van 8 uur elke weeksaand tot 5 uur elke oggend sonder water wees. Oor naweke is water slegs beskikbaar van 10 vm tot 2 nm.

So sê André Erasmus van die Zwavelpoort Huiseienaarsvereniging. Hy sê dat dié maatreëls, en ook die feit dat die pypwater die hele Paasnaweek af was, die gevolg is van ’n skikkingsooreenkoms waar Kungwini munisipaliteit deur sy prokureurs, Moima & Associates, ooreengekom het om die pompstasie elke aand af te sit.

Hofsaak
In Januarie het ons berig dat die Zwavelpoort Huiseienaarsvereniging op 20 Desember ingelig is oor ’n hofsaak wat deur inwoners wat reg agter die pomphuis bly, teen Kungwini ingestel is.

Die inwoners, Prinsiena Petronella Aletta Fourie en Jacobus Johannes Fourie wat in die Boardwalk Meander Landgoed in Olympus woon, sê dat die pomphuis se geraas hulle pla.

Hulle het aanvanklik gevra dat Kungwini munisipaliteit die pomp na ’n ander plek moet skuif óf die pomphuis in die grond moet laat sink en met akoestiese materiaal omhul onder toesig van ’n ingenieur wat in akoestiek spesialiseer.


Foto’s van die binne en buite kant van die pompstasie wat deel van die hofdokumente uitmaak

Geboutjie
Die Fouries het in November 2004 daar ingetrek en gesien dat daar ’n bouvallige klein geboutjie op die sypaadjie langs hul tuinmuur staan, maar het aangeneem dat dit ’n mini-elektrisiteit substasie is.

Volgens die Fouries het die pomp nie voor Augustus 2009 aanhoudend geloop nie. Hulle het egter jare voor dit reeds elke keer as die pomp aangeskakel word, beswaar aangeteken. Kungwini het aan die Fouries verduidelik dat dié ’n versterkingspomp is wat seker maak dat pypwater hoewe-bewoners bereik. Om hom af te sit sou alle Zwavelpoorters wat van pypwater gebruik maak, hoog en droog laat.

Skuif
Die Fouries se prokureur sê egter dat hulle nie aanvanklik gevra het dat die pomp afgesit moet word nie, maar dat Kungwini hom moet skuif of met akoestiese materiaal moet laat omhul. Tot Kungwini aan dié versoek voldoen moet die pomp sekere ure afgesit word.

Gevolglik het Kungwini se prokureurs en die Fouries met die nagtelike afsluiting van die pomp geskik en het dié skikking op 14 April ’n hofbevel van regter Bertelsmann geword.

Daar is ooreengekom dat Kungwini en die Fouries die saak sal probeer oplos en regter Bertelsmann is bereid om hulle op 31 Mei weer aan te hoor as hulle nie ooreen kon kom nie.

Onwettig
Die Zwavelpoort Huiseienaarsvereniging het regsadvies ingewin oor moontlike stappe om te volg om dié skikkingsooreenkoms tot niet te laat verklaar. Op Dinsdag 3 Mei het inwoners dokumentasie op die Fouries en hul prokureurs en op Kungwini laat beteken om die saak te onttrek anders gaan inwoners die hof nader om die saak onwettig te laat verklaar omdat die inwoners wat van die pypwater afhanklik is, nie in die saak geken is nie.

Volgens André neem dit die pomp ses ure om genoeg druk op te bou om almal wat pypwater moet kry, te bereik. Sodra die pomp behoorlik op dreef is, word hy weer afgesit vir die nag.

Ontwerp
André sê die probleem is te wyte daaraan dat die waterpypstelsel verkeerd ontwerp is. Die waterpype is op sekere plekke nie wyd genoeg nie. Daar is ’n ongeveer 75 meter styging van die pompstasie tot by die hoogste punt in die pypstelsel en die bestaande pomp lewer nie genoeg druk om die water teen die bult uit te kry nie. Die pompstasie is onlangs opgegradeer met twee groter pompe en nuwe toerusting, wat nooit gekoppel is nie.

Die pompstasie se water word ontvang van water wat die Olympus reservoir voed. As daardie reservoir vol is, sluit die kleppe outomaties en geen water word na die pompstasie deurgelaat nie.

André sê dat die hof ingestem het om die pompstasie elke dag af te sit omdat daar beweer word dat Zwavelpoort nog ’n landbougebied is wat van boorgatwater gebruik maak.

Tog keur Kungwini deesdae ontwikkelings van 44 eenhede per hektaar in Zwavelpoort goed, ten spyte van die gebrek aan infrastruktuur.

 

© 2020 Die/The Bronberger