Lees lekker uit die buiteland Print E-mail
News - Briewe
Friday, 24 June 2011 14:37
Untitled Document

Alwyn Nel van Perth skryf:
Wel, dit is nou al ’n geruime tyd dat ek Die Bronberger lees. As ek reg onthou was ek een van die eerste lesers wat die Bronnie aan-lyn gelees het. Sedertdien het die publikasie van krag tot krag gegaan, en “dit wil gedoen word”, soos die Afrikaanse spreekwoord sê. Knap gedaan, julle!

Vir ons wat nie meer binne die grense van die RSA lewe nie, is dit nie altyd so maklik nie. Ons verlang na ons mense, ons kultuur, en ons mis ons taal geweldig. Hier vul Die Bronberger ’n geweldige gaping, want dit hou ons in voeling met ons land en ons taal.

Dit is vir ons ’n absolute ondervinding om weg te breek vir ’n kuier Suid-Afrika toe, as die finansies dit toelaat. Dit is seker moeilik om te glo, maar ons gedy om in ’n groep Afrikaanssprekendes te kan opeindig waar jy nie tweemaal hoef te dink oor wat jy sê nie. Jy kan maar net jouself wees en jou taal praat.

Dit is hoekom ek geweldig opgewonde is oor die vae moontlikheid dat ek weer aanstons in goeie ou SA kan kuier. Op 9 September mag ek myself dalk in Lydenburg (Tvl.) bevind. Dit is nou die plek waar my agterstewe meer slae gekry het as wat my mond kos gekry het. Dit is ook die plek waar ek met groot moeite matriek moes skryf. Die plek waar ek ses jaar van my lewe in ’n koshuis gebly het. En die plek waarvan ek met alle geweld wou wegkom sodat ek nou grootmens kan word en my eie geld verdien.

Is dit nie ironies dat ek na 34 jaar nie kan wag om die plek en die ou gesigte weer te sien nie? Want die Hoërskool Lydenburg vier sy 90ste bestaansjaar hierdie jaar. Die skool nooi glo een en elk uit wat ooit betrokke was by LHS om gesig te wys by die skool daai dag.

Ek is opgewonde, maar ek is ook bang. Gaan daai mooi prentjie wat ek in my kop het nou onherroeplik verander word? Wat het verander in 34 jaar? Is die koshuis nog dieselfde? Ek sal moet loop kyk - 9 September 2011, Hoërskool Lydenburg.

 

© 2020 Die/The Bronberger