Soek raad van dr Liesel Print E-mail
News - Briewe
Friday, 24 June 2011 14:37
Untitled Document

‘Bekommerde egpaar’ skryf aan dr Liesel van der Merwe:
Dr Liesel, ons geniet jou maandelikse rubriek in Die Bronberger elke maand. Ons is dringend opsoek na raad met ons drie-jaar-oue Basset. Sy het in Desember 2010 bosluiskoors gekry met erge komplikasies. Sy het die bosluiskoors oorwin maar toe begin daar vog opbou tussen haar hart en die hart se sakkie.

Ons het toetse laat doen om vas te stel wat die oorsaak is. Sy is getoets vir kanker en lewerfunksie. Altwee het negatief terug gekom. Daar is vir ons gesê dat sy moontlik ’n kroniese hartsiekte het. Vog is gereeld om die hart afgetrek. Sy het verskriklik begin swel in haar buik.

Sy het op ’n stadium begin om baie minder te eet. Ons het weer toetse laat doen. Die keer is bevind dat haar lewerfunksie maar 22% is. Daar is vir ons gesê dat ons dit moet oorweeg om haar uit te sit. Ons het op die Internet gelees van ‘milk thistle’. Sy het goed gereageer op dit en al hoe meer begin eet. Die laaste toetse wat gedoen is het gewys haar lewer is weer normaal.

Ons groot bekommernis is dat sy nog steeds baie water in haar buik het. Ons gee vir haar waterpille en kruie op ’n gereelde basis. Nog iets wat ons pla is dat sy gereeld bewerasies kry. Dit het al begin toe sy bosluiskoors gehad het. Kan jy ons asseblief raad gee?

Dr Liesel antwoord:
Vog wat in die hartsakkie versamel is redelik algemeen. Die gewone oorsake is kanker in die sakkie of hartwand wat vloeistof vorm, al is die kanker self nie baie groot nie, of inflammasie van onbekende oorsprong wat vog laat versamel.

Met erge bosluiskoors kan die bloedvate begin lek weens inflammasie. Vloeistof is dan geneig om in alle liggaamsholtes (soos die borskas, buik en hartsakkie) te versamel.

Die buik swel gewoonlik op omdat die hart nie mooi funksioneer met al die vloeistof om hom nie. Sodra die drukking verlig word deur die vloeistof te dreineer, kan die hart weer ordentlik bloed pomp en die oortollige vloeistof sal binne ’n paar dae uitgeskei word deur urine. Met bosluiskoors is die versameling nooit soveel dat dit hartfunksie sal affekteer nie en dit herstel gewoonlik vanself. ’n Ander belangrike oorsaak van vloeistof-versameling in die buik is lewerprobleme - gewoonlik sirrose.

Sommige leweraandoenings, soos erge inflammasie of blootstelling aan toksiene, kan veroorsaak dat die lewer herstel met die formasie van fibreuse weefsel wat min bloed-deurvloei toelaat. Hierdie druk wat opbou laat vloei stof versamel in die buik.

Dit is ongelukkig ’n hele interaksie van probleme wat aanleiding gee tot vloeistof in die buik. Die hele prentjie moet ondersoek word. Ek neem aan dat die vog-versameling om die hart opgeklaar het? Verdere toetse sou benodig word om hierdie probleem op te klaar.

Praat met jou veearts; as hulle nie self verdere toetse in hulle praktyk kan doen nie, sal hulle jou kan verwys na ’n spesialis praktyk wat wel verdere ondersoek in die saak kan doen.

 

© 2020 Die/The Bronberger