Slaggate in winkel Print E-mail
News - Briewe
Friday, 24 June 2011 14:38
Untitled Document

Esmé Fick van Bashewa skryf:
Deur die jare het ons al gewoond geraak aan slaggate op ons paaie, maar slaggate in ’n winkel se vloer?

Op 18 Mei, nadat ons vroeg gaan stem het, stop ons by die Shed om gou grondboontjies vir die papegaai te koop en omdat ons gereeld daar koop, weet ek presies waar om die grondboontjies te kry en loop flink in die betrokke gangetjie af net om die volgende oomblik in ’n groot gat in die vloer te trap, my enkel te swik en hard met moeder aarde kennis te maak.

Ek het dadelik gevra om die eienaar te sien, maar is net kortaf meegedeel dat hy nie beskikbaar is nie. By verdere ondersoek het ek nog twee ander gate in die vloer ontdek en ook een voor die koeldrankyskas wat klaar herstel was.

Nou wil ek weet: Is daar nie wette wat bepaal dat ’n besigheid ten alle tye veilig moet wees vir kliënte nie?

Brief verkort –Red

Eienaar reageer
José de Sa van Farmers Shed sê hy is bewus van die voorval en is verskriklik jammer daaroor. Hy was nie by die winkel toe dit gebeur het nie. José sê hy sal regtig niks doelbewus doen om sy klante te beseer of te beledig nie.

Sedert hulle by die nuutgeboude perseel ingetrek het, het hy agtergekom dat die kontrakteur brouwerk met die vloer gedoen het. Alle pogings om die kontrakteur so ver te kry om sy fout te herstel, het tot dusver misluk.

Dit gebeur van tyd tot tyd dat die vloer op plekke verkrummel, maar hy sal dit regtig nie slaggate noem nie, sê José. Hulle herstel die vloer intussen so gou as wat hulle bewus word van ’n stukkende plek.

Hy wil sy klante om verskoning vra vir enige ongerief wat hierdeur veroorsaak word. Intussen sal waarskuwings aangebring word as daar gate is.

 

© 2020 Die/The Bronberger