Rayton-man in sy huis doodgeskiet Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 24 June 2011 14:43
Untitled Document

Leon Otto is koelbloedig by sy huis in Rayton op Vrydagaand 20 Mei doodgeskiet. Die aanvallers het ná die skietery by die agterdeur uitgestap sonder om iets te roof.

Leon is een keer in die kop en drie keer in die onderlyf geskiet terwyl hy en sy vrou Amanda besig was om ’n glasie op hulle huweliksherdenking te klink.

Amanda sê dat sy op haar knieë neergesak het, terwyl hulle vriende wat saam gekuier het, Tienie en Katryn Snyman, agter die TV-kas weggekruip het. Sy sê dat die aanvallers nooit vir Leon, wat op die bank gesit het, kans gegee het om iets te sê nie. Sy meen dat hulle net gekom het om dood te skiet. Twee skote is in Amanda se rigting afgevuur en minstens sewe koeëldoppies is ná die tyd op die toneel opgetel.


Leon Otto

Sy het gesien hoe Leon van die bank af opstaan, hoe hulle hom weer skiet en hoe hy oor die kroeg stoeltjies val. Amanda het die aanvallers met ’n wynbottel gegooi en hulle het toe met leë hande by die agterdeur uitgestap en die deur agter hulle toegemaak. Amanda het vroeër die aand by die agterdeur uitgegaan om die honde se kosbakke te kry en het die deur nie weer gesluit nie. Terwyl hulle gekuier het, het Leon en Amanda se hond, Jackie, aanhoudend gegrom en in die rigting van die agterdeur geblaf.

Amanda en die Snymans het omtrent twee ure lank gesukkel om ’n ambulansdiens op te spoor. Leon is uiteindelik met ’n Netcare 911- helikopter na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem, maar is by sy aankoms daar dood verklaar. ’n Moordsaak word ondersoek. Die 43-jarige Leon, eienaar van ’n vervoeronderneming, laat benewens Amanda ook ’n 20-jarige seun, Leon, en 17-jarige stiefseun, Ryno Botha, agter.

 

© 2020 Die/The Bronberger