Brandwet kan jou in die tronk laat beland Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 24 June 2011 14:44
Untitled Document

Elke winter word groot dele van die Bronberg-gebied verwoes deur weghol veldbrande. As jy nie aan die begin van Junie jou voorbrand-stroke gereed gekry het nie en so ’n brand beweeg oor jou grond, is die kanse goed dat jy vir ’n jaar tronk toe kan gaan, ’n swaar boete kan kry of beide. Dit maak nie eers saak of die brand op jou grond begin het nie.

Voorbrandstroke moet lank en wyd genoeg wees om te verhoed dat ’n veldbrand van jou grond na naburige grond beweeg, maar dit mag nie gronderosie veroorsaak nie. Dié voorbrand kan gemaak word deur die strook te brand, te skoffel, skraap of ploeg.


Verlede jaar se veldbrand by Argyle in Saintsstraat, Zwavelpoort

’n Brand in die Mooiplaatsomgewing in 2007
.

As jy beplan om vir langer as 14 dae in die brandseisoen weg te gaan, moet jy jou kontakbesonderhede vir alle aangrensende bure gee. Die wet vereis dat elke grondeienaar die nodige toerusting, beskermende klere en opgeleide personeel moet hê om veldbrande te kan beheer. As jy nie by die huis is nie, moet daar verantwoordelike persone op of naby jou eiendom wees wat kan help om veldbrande onder beheer te bring.

Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande van 1998 is een van die min wette wat jou outomaties as skuldig sien tot jy onskuldig bewys word as jy dié reëls verbreek.

Tog is daar ’n manier om jouself te beskerm. Hoofstuk twee van die Brandwet bepaal dat grondeienaars wat aansluit by ’n Brandbeskermingsvereniging (BBV) as onskuldig beskou sal word totdat daar met redelike sekerheid in ’n siviele saak bewys is, dat hulle nalatig was.

Dit is egter net as die grondeienaar of grondbesetter ’n lid van so ’n plaaslike geregistreerde BBV is wat gestig is onder die Brandwet.


Die groot 2008 brand by Kitty Hawk langs die Boschkop-pad

Bestry
’n BBV bestaan uit grondeienaars, grondbesetters en instansies wat saamwerk deur strategieë vir brand bestryding daar te stel om die veld, bosbou en omgewing te beskerm teen moontlike brandgevaar.

’n Lid van ’n BBV word nie outomaties as nalatig beskou in die geval van siviele eise waar ’n brand vanaf die lid se grond skade aan ’n ander se eiendom of grond aangerig het nie. Die lid moet eers skuldig bewys word.

’n BBV mag self regulasies skep om by spesifieke omstandighede aan te pas. Dié buigsaamheid van die wet is egter onderhewig aan ’n aansoek van die BBV aan die minister.


Ná ’n 2006 veldbrand op Grootfontein-landgoed, neffens Garstfonteinweg-verlenging

Betree
Dié Wet sê dat ’n BBV-lid in die proses van brandbestryding enige grond mag betree, enige bome, gras, oesgewasse of ander plantegroei mag vernietig, by enige perseel mag inbreek, en enige voertuig of ander implement mag verwyderdingsaksies.

Boonop is dit so ’n lid se reg om almal tussen die ouderdomme van 16 en 60 te beveel om te help met brandbestryding. Met die uitsondering van munisipaliteite en die staat is lidmaatskap van ’n BBV vrywillig en die lede moet toesien dat die BBV in hulle gebied volgens die wet gestig en onderhou word.


Die 2006 brand in Rietvlei View

Elke BBV moet ’n veldbrandbestuurstrategie vir die voorkoming en bestryding van veldbrande ontwikkel en ontplooi. Minimum standaarde, wat lede moet onderhou in ooreenstemming met alle aspekte van brandvoorkoming en gereedheid, moet daargestel word.

So ’n BBV is verantwoordelik vir gereguleerde en beheerde brande om die eko-sisteem te bewaar en die brandrisiko te verminder. Die BBV moet opleiding in brandbestryding, brandbestuur en brandvoorkoming verskaf aan lede.

Die BBV moet ook bystand aan die gemeenskap verleen en inligting voorsien oor toerusting en tegnologie vir die voorkoming en bestryding van brande. Vir meer inligting kontak die Departement van Waterwese. Die tolvrye navrae nommer is 0800-200-200. Hulle is in Schoeman straat 185, Pretoria.


Die groot Cullinan-veldbrand trek op Maandag 6 Junie deur die veld suid van Oos- Zonderwaterweg
Foto: Elsabé Maré

 

© 2020 Die/The Bronberger