Die era van hoed-dra was vir my ’n mooi
en ’n edele een. Kyk jy vandag na ou
moevies of ou Suid-Afrikaanse nuus-films,
sal jy nie ’n enkele man sonder ’n hoed sien nie.
Kaalkop buite in die openbaar was heiligskennis.
Jy kon veel eerder sonder ’n broek op straat verskyn
as sonder ’n hoed.
Hoed-dra het eensgesindheid onder mans bevorder. Dit kon gesien word as ’n soort uniform
vir jintelmanne, met die hoedlig-groet as ’n saluut
van die ordentlikes.
’n Man wat sy sout werd was het minstens drie
hoede aan die kapstok in die portaal by die
voordeur gehad: Sy plaashoed, sy dorpshoed en
sy kerkhoed.
Vriend Rudie Thirion vertel hy kon kleintyd nie
wag om eendag groot te word sodat hy ook ’n
dorp- of kerkhoed soos die groot ooms kon dra
nie. Een met so ’n mooi gekleurde veertjie in die
band. En as ’n oom tot die kerkraad verkies
word, skaf hy vir hom ’n swart hoed aan om by
die manel te pas.
Die laaste ding wat ’n oom doen voor hy by die
kerk instap, is om sy hoed af te haal en die eerste
ding wat hy doen as hy by die kerkdeur uitstap, is
om dit weer op te sit.
In Stella se wêreld vertel hulle ’n storie uit daai
hoeddradae, sê Rudie. Dit was die gebruik dat ’n
diaken altyd ná die diens in die konsistorie moes
afsluit met gebed. As dit jou diensbeurt is,
organiseer jy die diakenwerkies vir die dag. Soos
wie neem die kollekte waar op en wie staan by
waffer deur en so. En na die tyd sluit jy af met
gebed. In die konsistorie.
Nou was diaken Soois Reinecke ’n redelike
skaam en ingetoë man, vertel Rudie. Vir ou Soois
het die biddery glad nie spontaan gekom nie. As
sy diensbeurt aankom, het Soois dan maar die
aand voor die diens sy afsluitingsgebedjie
op ’n stukkie papier neergeskryf. Dan sit
hy die papiertjie binne in die boom van sy
hoed vas.
In die konsistorie het elke diaken en
ouderling se hoed sy eie hangplek aan ’n
kapstok gehad en elkeen het presies
geweet waar sy persoonlike hoed moet
hang. As dit dan ou Soois se bidbeurt was,
het hy sy hoed gevat, dit in die hand
gehou – wat sommer terselfdertyd ’n
gebaar van die nodige respekte was – en
dan het hy met gebuigde hoof die gebedjie
in die hoed afgelees.
Nou was diaken Louw le Roux alom in die
distrik bekend as ’n regte platjie. As Louw
in die omtrek is, moet ’n man oop oë
loop, vertel Rudie.
Op dié betrokke Sondag van Soois se
diensbeurt, kies Louw kortpad deur die
konsistorie na sy kollektedeur toe en in die
verbygaan ruil hy ou Soois se hoed met die
gebedjie in, met ’n ander hoed om.
Hulle sê toe die skaam Soois op dié dag
hoed in die hand gereed staan om die
afsluitingsgebed voor te lees, het dit só
verloop: Soois hef met aanvanklike styf
toegeknypte oë aan: “Onse dierb’re
Hemelva’er . . .” En toe volg daar ’n lang,
baie ongemaklike stilte voor Soois dit
uitbulder:
“Dissie my
blêrrie hoed
hierrie nie!” |