Biltong is in die gene PDF Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 24 June 2011 13:12
Untitled Document

Vreethans van Heerden, Die Bronberger se kuierplek- en kosresensent, praat in hierdie winter-uitgawe
oor biltong, beesstert en slagters in die Bronberg-gebied

As die dae begin korter word en die veldgras word vaal, word ’n opregte Suid-Afrikaner se biltonglus onwillekeurig groter. Dit is ’n lus wat baie geslagte lank al met ons is. Dit sit stewig in ons gene, kan jy maar sê.

Want wintertyd was van die begin jare af vir ons voorgeslagte ook biltongtyd. Sonder die luukse van biltongdroërs, waaiers en selfs onderdak kon dit ook nie anders nie. Vir biltongmaak het jy koue, droë toestande nodig. Dié dat ek nog nie kan glo ’n Kapenaar kan lekker biltong maak nie.

Dié tyd van die jaar eet ek baie biltong en ’n redelike hoeveelheid droëwors. En omdat ek nogal gereeld en wyd in die Bronberg-gebied rondry en oor ’n ou nooit weet waar en wanneer die smagting na ’n stukkie biltong jou beetpak nie, het ek al ’n menigte slagter in ons gebied se produkte beproef. Ook al sedert die jag vanjaar oopgemaak het.

Die meeste het ek geniet. En hier en daar is die biltong en/of droëwors puik - na my smaak. Onthou dat smaak met biltong verskil soos met mooi of lelik. Dis moeilik om biltong op te dinges. Die resep wat amper almal gebruik is basies dieselfde. Dis net ’n geval van hoeveel sout of salpeter, asyn of nie en peper en/of koljander, met bruinsuiker of daarsonder en so.

Hier en daar het ’n slagter ’n ‘geheime’ ietsietjie wat hy ekstra opsit of doen, maar meestal werk dié geheimpies nie vir my nie. Wat ’n verskil maak is die snit wat gebruik word en dié verskil lê meestal in die tekstuur eerder as in die smaak.

Blykbaar is die oorspronklike biltong wat die oumense gemaak het, uit die boud van die bees of bok gemaak. Die woord biltong is ’n Nederlandse samevoeging van ‘bil’ (boud) en ‘tong’ (strook). As jy half puntenerig is soos ek, sal jy soek vir ’n stukkie garebiltong tussen die stukke wat in jou slaghuis hang. Dit is die biltong gemaak van die strook sagte vleis wat weerskante van die ruggraat afloop. As jy onseker is, vra jou slagter – gewoonlik is hulle gretig om te help. Gewoonlik.

Soos ek sê, in die afgelope tyd het ek wyd biltong by verskillende slagters aangekoop. Ongelukkig onthou ’n ou net presies hoe smaak die heel lekkerste en die heel teleurstellendste. Maar ek wil weer beklemtoon: Biltongsmaak is soos met mooi en lelik. Ek wil vandag net ’n paar slaghuise in ons gebied uitsonder waarvan die biltong se lekkerte my bygebly het. Ek gee sommer ook hulle onlangse prys per kilogram biltong. Net vir die interessantheid gee ek ook daai ander lekker winterkos, beesstert (oxtail) se prys soos dit op 14 Junie was.

Boma Slaghuis in Tierpoort se beesbiltong.
Ek hou telkens by Boma stil of ry selfs uit my pad uit om nog van dié biltong aan te skaf. Droog of nat, dié biltong is vir my so naby aan presies reg soos wat kan kom. Dit kos R164.99 per kg. Boma se beesstert het op 14 Junie R72.99 per kg gekos.

Rayton Biltong en Braai se wildsbiltong.
Hulle maak in die winter ’n sout-en-peper-koedoebiltong wat ek onweerstaanbaar vind. Hy sal miskien vir baie ouens ’n bietjie skerp op die tong wees, maar ek kan nie genoeg daarvan kry nie. Die koljander- weergawe en die beesbiltong tel ook onder die beteres vir my. Alle biltong by dié slaghuis het R149.95 per kg gekos. Hulle oxtail was R64 per kg.

Bronberg Vleismark in Zwavelpoort.
Wilhelm se biltong het in die Wes-Transvaal bykans legendariese status gekry toe hy en Petro ’n slaghuis op Hartebeesfontein gehad het. Ek ry nie sommer verby die ou Zwavelpoort-sentrum sonder om ’n kerfseltjie te gaan aanskaf nie. Wilhelm se biltong en droëwors kos R155.50 per kg. Sy beesstert was R58.45 per kg.

Pryse per kilogram op 14 Junie by ‘n paar ander slagters in die gebied was:
Uitkyk, Silverton: biltong R136, oxtail R69.99. Eagles Nest, Rayton: biltong R150. R & R Slaghuis, Cullinan: biltong R140, oxtail R70. Hokaai, Faerie Glen: biltong R159.95, oxtail R70. Pick & Pay Olympus: biltong R170, oxtail R69.95. Faerie Glen Slaghuis Cliffendale: biltong R159.95, oxtail R79.95.

 

© 2019 Die/The Bronberger