Die mense van Tierpoort en
Bashewa is geskok oor die
nuwe bergingstenks wat reg
onder hul neuse langs Garstfonteinweg-verlenging opgerig is, sonder
dat hulle daarvan geweet het.
Werkers op dié hoewe-perseel het
vertel dat die installasie van vyf
bogrondse brandstoftenks van
83 000 liter elk plus nog ’n petroltenk in die stoor deur die Garsfontein-gebaseerde Q4 Fuels gedoen
word.
Q4 direkteur, Dreyer van Niekerk,
het bevestig dat die bouery sy maatskappy se projek is. Op Die Bronberger se aanvanklike vrae oor ’n
brandstof-opslagplaas het hy geantwoord
dat ’n omgewingsimpakstudie
wel gedoen is en deur die
relevante owerhede goedgekeur is.
Volgens Dreyer is planne deur ’n
meganiese ingenieur opgestel en
ingedien by Kungwini en is dit
goedgekeur. Hy sê dat die planne
ook goedgekeur en afgeteken is
deur die hoof van die brandweer.
Sy maatskappy het “werklik aan
elke moontlike vereiste voldoen” sê
Dreyer. “Ons het regtig baie geld,
tyd en energie in hierdie projek
ingesit. Ons sien onsself as professionele
mense en sal nie so ’n projek
aanpak en oprig as daar nie aan
elke wetlike aspek voldoen is nie,”
sê hy.
Die gebied waar dié bergingsfasiliteite opgerig is, het voor die
munisipale verkiesing onder Kungwini geval. Amptenare van die
Kungwini-raad kon egter nie bevestig
dat daar hersonering vir industriële
of bergingsdoeleindes hier
plaasgevind het nie. Dit blyk asof
die Tshwane Brandweer, onder wie
dié hoewe nou val, nie bewus is van
enige vorige besoeke aan dié perseel nie.
In ’n e-pos het Tshwane brandweerman,
Willem Prinsloo, gesê dat
sover hy verstaan, SASOL produkte
aan Q4 lewer. Willem was van plan
om SASOL voorlopige kennisgewing
te gee om die produk-aflewering te
staak.
’n Brandstof-opslagplaas hou ’n
potensiële brandgevaar vir ’n omliggende gebied in weens die moontlikheid
van ontploffings. In ’n
hoewe gebied kan die gereelde veldbrande
’n ernstige impak op ’n
brandstof-bergingsterrein hê.

Die Q4 tenks langs Garstfonteinweg-verlenging
Inligting
Die Bronberger het Q4 se Dreyer
hierná gevra vir meer besonderhede
oor die goedkeuringsdokumente
van Kungwini of om besonderhede
van die omgewingskonsultante wat
die impakstudies en openbare
deelnameproses behartig het, te
verskaf.
Dreyer het toe gesê dat hy graag
moontlike misverstande en foutiewe
aannames uit die weg wil ruim en
het verduidelik dat Q4 ’n maatskappy
is wat by verskeie industrieë
betrokke is. Hy het gesê dat slegs ’n
gedeelte van die maatskappy bedrywig
is in die petroleum industrie.
Hulle is ook ’n vervoeronderneming, dryf handel in die galvaniseringsindustrie en is betrokke in die
industrie wat sonneblomolie herwin
en dan die herwinde produkte aan
die veevoermark verkoop.
“Die tenkplaas in Garstfonteinwegverlenging
gaan gebruik word om
sonneblomolie, wat ’n natuurlike
olie is, te herwin asook om ons
trokke wat deel is van ons vervoeronderneming te stoor,” het Dreyer
gesê.
Hy het gesê dat Q4 in ’n baie mededingende mark handel dryf en
dat hulle kompetisie duidelik reeds
probeer om hulle te saboteer.

Die ingang vanuit Garstfontein-verlenging na die perseel
Voorheen
Dié Q4-terrein is in dieselfde omgewing waar MBT Petroleum voor heen ’n brandstof-opslagplaas wou
oprig. Bashewa-inwoners was woedend
oor die idee dat hul landelike
omgewing in ’n gevaarlike industriële
gebied omskep sou word waar
mense en diere se gesondheid in
gevaar gestel kan word deur brandstoflekkasies
en die moontlikheid
van ontploffings as veldbrande uitbreek.
Die planne vir die Bashewa brandstof-opslagplaas is egter in September 2009 laat vaar. Mills en Otten
Omgewingskonsultante, wat die
openbare deelnameproses vir dié
projek behartig het, het belanghebbende partye laat weet dat die omgewingsimpakstudie vir die brandstof-opslagplaas gekanselleer is oor
ernstige omgewingsbeperkings. Dié
beperkings het aangedui dat die
ontwikkeling van ’n brandstof-opslagplaas
in daardie omgewing
nie volhoubaar sal wees nie.
Mills en Otten het ook laat weet dat
die bestuur van MBT Petroleum nie
verantwoordelik gehou wou word
vir die risiko van enige ernstige
omgewingsimpakte nie. Volgens
Johan Fouche, MBT se hoof uitvoerende beampte, is dié projek egter
nie gekanselleer oor die resultate
van die impakstudie nie, maar om
die gemeenskap tegemoet te kom.
Hy het gesê dat hy dit duidelik wou
stel dat MBT omgee vir die gemeenskap.

Die bykans voltooide stoor op dieselfde perseel
Protes
Met MBT se aansoek is inwonersvergaderings gehou en ’n aanlyn
protes-platform is geskep waar
mense kon beswaar maak teen dié
voorgestelde ontwikkeling. Die
Magalies-Bronberg-Grondeienaarsvereniging (MBGV) is hierby
betrek.
Op ’n navraag aan die MBGV oor
die Q4-terrein het Mike Strange
geantwoord dat die MBGV nie
bewus was van enige openbare
deelnameproses oor die Q4-projek
nie. Hy het egter gesê hy vermoed
dat soortgelyke gevalle nog aan die
lig sal kom met Kungwini se oorskakeling
na Tshwane.
Die Q4-perseel, by die ingangsbordjie
Actebis 35c langs Garstfonteinweg-verlenging, val op die grens van
die nuwe Tshwane wyke 101 en 91
wat nou onderskeidelik deur raadslede André van der Walt en Lex
Middelberg verteenwoordig word.
Dié raadslede het ou Kungwiniamptenare
gevra om op te kyk of so
’n projek goedgekeur is, maar kon
nie bevestiging daarvan kry nie. |