Print E-mail
News - Briewe
Saturday, 23 July 2011 00:18

Daan Jamneck van Mooiplaats skryf:
So sit ek nou in my kantoor en luister na 'n reën- en donderbui van formaat. So het ek ook vanoggend wakker geword met 'n donderslag wat breek en die vensters en my Duitse hond wat rittel en beef. Dit was 3-uur en dit het aangehou met sporadiese tussenposes tot ek netnou van die huis af weg is.
En die enigste rede wat my iets daaroor laat sê is dat dit dan in die middel van die winter is! Maar koud vanoggend is dit nie. In teendeel, toe ek vanoggend by die huis weggaan is dit 12 grade in stede van die laaste paar dae se vyf en minder.

Miskien het die regering dit nou ook opgefoeter? Ek bedoel nou, die klimaat en reënvalstreke. Ons gaan miskien nou 'n winterreënvalstreek word. Daar is hoeka mense in my omgewing wat begin wingerd plant. Dit gaan dalk maak dat die bos in Boschkop, 'n agtervoegsel tot Stellen- word. Dan gaan ek die regering wragtig dankbaar wees, want weet julle wat kos wingerdgrond? Baie meer as pêregrond, dit kan ek julle sê.

Maar reën in die winter is gemaak vir kaggelvuur, goeie musiek, goeie geselskap en goeie wyn. Definitief nie vir 'n koue kantoor nie.
 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger