Bronbergers maak harte oop vir dowe brandslagoffers Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 23 July 2011 00:25
Untitled Document

‘n Gesin van ‘n hoewe naby Cullinan is binne ‘n oogwink van hulle inkomste beroof toe ‘n veldbrand op Saterdag 2 Julie die plot verwoes het.

Die familie, waarvan drie doof is, verkoop vuurmaakhout en hulle houtvoorraad, bloekomplantasies en gereedskap is vernietig. ’n Houthuisie, stoorkamer, werkkamer en ’n buitegebou het ook afgebrand.
Lede van die Pienaarspoort Conserv-gemeenskap het die brand help blus en toe ‘n beroep op ander gemeenskapslede gedoen om die familie by te staan. Die groter Conserv-gemeenskap is binne ure gemobiliseer en 25 mense het daardie aand met genoeg kos vir twee weke, warm klere, komberse en selfs beddens opgedaag. 

Volgens een van die familielede het die brand op ‘n buurplaas ontstaan, binne oomblikke die hele veld oorgeneem en hulle 13 ha plot afgebrand. Die doofstom Schalk Oosthuizen, wat in ‘n Wendy-houthuisie gebly het, se huis het afgebrand en hy het al sy besittings verloor. Schalk kon egter daarin slaag om sy suster Tinka Pretorius, ’n dowe, senior administratiewe klerk van die Cullinan-polisiekantoor en haar dowe man, Lukas wakker te maak.


Derek Oosthuizen wys hoe die familie se plot afgebrand het. Derek het van Pretoria af gekom om sy familie ná die brand by te staan. Hy was besig om drade reg te maak toe dié foto geneem is

Tinka en Lukas het in ’n buitekamer geslaap en kon die veldbrand nie hoor aankom nie. Die res van die gesin was in die hoofhuis vasgekeer en die vlamme was so naby dat die vensters begin bars het. Die volwassenes kon uit die huis kom om die veldbrand met emmers en skottels water te probeer weghou tot hulp opgedaag het. Dié hulp het gesorg dat die hoofhuis gered is.

Die plot behoort aan Tinka, Schalk en Derek se ouers, Neels en Martie Oosthuizen, wat in die hoofhuis woon. Neels is op vroeë mediese aftrede van die gevangenisdienste, waar hy al die jare gewerk het. Hulle pensioen-inkomste is deur houtverkope aangevul.

Volgens Mike Strange van die Mooiplaats-Zwavelpoort-Tierpoort Conserv-gemeenskap (MZT) was daar vyf kinders, dogtertjies van 13, agt, vyf en vier jaar oud en ‘n seuntjie van agt jaar oud, asook ‘n jong ma met ‘n agt-maande-oue baba in die huis.

Tinka en Lukas is ná die brand hospitaal toe geneem vir behandeling. Sy moes ook hul hare afskeer omdat dit gebrand het. Van die ander volwassenes se voete, hande en arms het gebrand. Van die kinders moes vir rookinaseming behandel word. Mediese hulp is gereël vir een van die kinders wat longontsteking opgedoen het.

Die MZT-gemeenskap het die gesin se verbrande boorgatkabel, waterpype wat deur die brand beskadig is en elektrisiteit herstel. Mike sê dat die MZT-gemeenskap twee keer in die week ná die brand by die gesin aangedoen het en beplan om hulle weekliks daarna te besoek om te sien watter behoeftes hulle het.

Die maatskaplike werker op Cullinan, Mariza Nel, is die kontakpersoon vir die familie.  Persone wat ‘n bydrae wil lewer kan haar kontak by 012-734-1156 of stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

 

© 2020 Die/The Bronberger