PDF Print E-mail
News - Artikels
Friday, 22 July 2011 23:14
Untitled Document

Die Grub-gesin van Tierpoort het binne die bestek van een maand 27 vreemdsoortige, bewegende oranje ligte in die hemelruim gewaar. Die raaisel van dié ligte bly steeds onopgelos en die kundiges wat genader is se menings verskil hemelsbreed van mekaar.

Die saga het op 11 Mei begin toe Charlotte Grub sowat 20 sulke oranje ligte net ná 8 nm in die hemelruim sien verskyn en verdwyn het. Die ligte het stil-stil vanuit die noorde ‘opgekom’ en in ‘n oostelike rigting beweeg en het glad nie soos vliegtuigligte geflikker nie. Hulle het so vinnig weer verdwyn dat Charlotte slegs kans gehad het om ‘n paar foto’s met haar selfoon te neem.

Die nag van 10/11 Junie het die ligte weer gekom, en dié keer was Charlotte se pa, Dieter, by. “Ons is net na middernag uit die huis om na ‘n siek perd om te sien. Dadelik toe ons uit die huis kom sien ons die eerste voorwerp op die suidelike horison. Ons het toe nog gedink dat dit ‘n vliegtuig kon wees, maar dit het vinnig nader gekom, al hoe groter geraak sonder om ‘n geluid te maak en ‘n spesifieke vorm aangeneem,” sê Dieter.


Dié reeks foto’s van die sewe oranje ligte wat een vir een verskyn is knap na middernag op 10/11 Junie op Tierpoort geneem. Die maan is ook op sommige foto’s sigbaar

‘Opgekom’
Sewe helder oranje ligte het een ná die ander, sowat 20 sekondes uitmekaar, op die suidelike horison ‘opgekom’ en het teen ’n bestendige spoed al hoër gestyg. Hulle het redelik vinnig in ’n noordwestelike rigting beweeg tot hulle ongeveer 30-40 grade bo die oostelike horison bereik het en het toe in die hemelruim verdwyn.

Volgens Dieter het dit seker nie eers twee minute van horison tot horison geneem nie. Al sewe objekte het teen dieselfde spoed beweeg en het dieselfde baan gevolg.

Hulle het vinniger as kommersiële vliegtuie beweeg; weereens was daar geen klank nie en die ligte se intensiteit was die hele tyd stabiel – nie soos die flikkerende lig van ’n satelliet of vliegtuig nie.
Dieter het aanvanklik gereken dat dié ligte LEO satelliete (low earth orbit) moet wees, maar dié is glo nie na 8 nm sigbaar nie, omdat die omwentelingsbaan te laag is.

Die Bronberger het die foto’s wat die Grub-gesin van dié ligte geneem het, na plaaslike sterrekundiges gestuur en wou uitvind of hulle iets buitengewoon op daardie datums met hulle teleskope waargeneem het.

Fakkels
Die internasionaal bekende amateur sterrekundige, Berto Monard wat ‘n reeks toekennings gewen het vir sy werk vanaf die Bronberg Sterrewag in die Bronberg Bewaria, het dadelik geantwoord. Hy het gesê hy wens dat hy vir dié gebeurtenis nog in ons kontrei was, maar hy het onlangs na Calitzdorp in die Klein Karoo getrek.

Berto het geen sekere verduideliking vir die ligte gehad nie, maar die beskrywing het hom laat dink dat die ligte vanaf die OR Tambo-lughawe in Pretoria se rigting beweeg het. Hy het gesê dat dit dalk toets-fakkels kan wees wat naby die lughawe of van Denel se toets-stasie afgeskiet is.

Die meeste fakkels is oranje of rooi en hulle gee ‘n helder en konstante lig. Berto sê dat toets-fakkels in die lug opgeskiet word en dan saam met die wind beweeg. Hy het vir jare as metroloog in optiese radiometrie gewerk.

Die fakkel-verklaring is een wat in April 1989 die oplossing was vir VVV’s wat talle Kapenaars gesien het. Die Weermag Vloot het ná die tyd bevestig dat dit militêre ligfakkels was wat met geskutoefeninge in Simonstad afgevuur is.

Verlig
Die foto’s is ook aan Richard Wade van die Nkwe-rif Sterrewag in Tierpoort gestuur wat dit op sy beurt aangestuur het na kollegas by Caltech en NASA. Die verduidelikings wat hier vorendag gekom het is dat dit voorwerpe kan wees wat deur ‘n vêraf sodium-lig verlig is.

Volgens Richard kan dit ook die landingsligte wees van vliegtuie wat van die Oos-Kaap af opstyg. Die landingsligte lyk asof hulle al hoe helderder word oor die 30 minute wat dit neem om van die Oos-Kaap na Gauteng te vlieg en hulle vlieg reguit in lyn met Tierpoort.

Die foto wat die groter groep oranje ligte saam wys, het Richard laat dink dat dit weermagtoetse van kleiner vlieënde voorwerpe kan wees. Navrae oor toetsingsdatums van fakkels of vliegtuie by Waterkloof Lugmagbasis, Denel en die OR Tambo-lughawe het geen resultate opgelewer nie.

VVV
Die Bronberger het vir Cristo Louw, stigterslid van die Suid-Afrikaanse VVV Hulpbron, gevra watter verduideliking hy vir dié foto’s sal gee.

“Dit is altyd die moeilikste ding om presies te kan sê wat so iets is of was,” sê Christo. “Al wat ons wel kan doen is om die gewone moontlikhede uit te skakel, en wanneer ons sit met iets wat nog steeds nie verklaar kan word nie, het ons 'n vreemde vlieënde voorwerp (VVV).”

Cristo sê dat navorsing duidelik wys dat hoogs geheime mens-gemaakte tegnologie oor die laaste vyf of ses dekades al so ver gevorder het, dat ‘n mens nie maklik ‘n onderskeid sal kan tref tussen iets wat mens-gemaak is en iets van iewers elders nie.

“Om spesifieke antwoorde te kry, sal ons soortgelyke toerusting en infra-struktuur nodig hê as dit waarmee ons militêre mense sit (wat kom van belastingbetalers se geld), maar ongelukkig deel hulle nie inligting met die publiek nie,” sê Cristo.


Dié foto’s is op 11 Mei met ‘n selfoon geneem toe 20 oranje ligte verskyn het. Een van die foto’s wys die ligte wat oor die horison verskyn met twee helder ligte van ‘n gebou op grondvlak in die voorgrond. Die ander wys van die ligte saam hoër op
Foto’s: Grub-gesin

Raaisel
Dieter Grub sê dat hy nie werklik op dié potensiële verklarings kan kommentaar lewer nie, omdat dit glad nie klink soos die oranje ligte wat hulle gesien het nie. Hy meen egter dat daar wel ‘n rasionele wetenskaplike verduideliking moet wees en dat iemand dit hopelik nog sal verskaf.

“Wat ons gesien het moet mensgemaak wees en ek glo nie dat dit iets militêr-geheim is nie; beslis nie van ons eie land nie. So wat is dit? Sover bly dit nog steeds ‘n raaisel. Dit verbaas my egter dat niemand anders dit ook gesien het nie en ooglopend blyk daar geen instansie in die land te wees met die wil of taak en hulpbronne om sulke verskynsels te ondersoek nie,” sê Dieter.

Lanterns
Op 20 Maart verlede jaar het talle mense in die ooste van Pretoria berig dat hulle net so ná 10 nm rooi/oranje-voorwerpe geruisloos in die lig sien sweef het. Die voorwerpe was minute lank helder sigbaar en deur ’n vêrkyker het dit na groot, ronde balle met helder oranje ligte aan die onderkant gelyk.

Dié raaisel is egter gou opgelos toe André Grobler laat weet het dat dié VVV’s Japanese lanterns was wat om 10 nm op Saterdag 20 Maart by Minnaar en Rozanne Pieters se huweliksonthaal by die Pretoria-buiteklub in die lug opgestuur is.

Berigte oor rooi/oranje ligte word ook elke jaar rondom die Sjinese Nuwejaar, tussen 3 en 18 Februarie, ontvang. Lanterntjies wat met ’n spesiale was-kers die lug in opgestuur word, is ’n ou bekende Sjinese Nuwejaarstradisie.

Geskiedenis
Daar is ‘n paar VVV insidente in die Pretoria-distrik wat wyd deur die media gedek is. Net ná middernag op 16 September 1965 het polisie-konstabels Lockem en de Klerk ‘n VVV op die Bronkhorstspruitpad sien land waar dit “’n 30 voet wye merk met ‘n ses-voet diep impak op die pad gelos het”. Dié insident is deur Luitenant-kolonel JB Brits van die Pretoria-Noord Polisiestasie in ‘n persverklaring bevestig.

In die nag van 7 April 1991 is 'n driehoekige VVV met wit ster-ligte weerskante en 'n rooi sentrale lig deur 'n familie by Baviaanspoort naby Cullinan opgemerk.

Dan is daar ook die bekende insident op 28 Augustus 1996 waar bykans 200 polisiebeamptes ‘n VVV met polisievoertuie en ‘n helikopter gejaag het. Die lig is kort voor 4 vm deur sers Johan Becker van die Adriaan Vlok-polisiekantoor in Centurion gesien terwyl hy en 'n kollega op patrollie was. Dit het naby die aarde oor Erasmuskloof gehang en dit het gelyk of heldergroen tentakels uit die lig gekom het en rooi driehoeke binne-in gevorm het.

Gejaag
Radiobeheer is gebel en voertuie is gestuur. Beamptes van die blitspatrollie, honde-eenheid, polisiekantore in Centurion, Pretoria-Moot en Wonderboompoort het in die rigting van die lig, wat noordoos van Pretoria begin beweeg het, gejaag.

'n Polisiehelikopter is ontbied, gevlieg deur supt Fred Viljoen, wat sowat 200km/h
moes vlieg om by te bly. Die lig het in Cullinan se rigting en toe na Bronkhorstspruit
beweeg waar dit skielik die lug in opgeskiet het. Die helikopter is agterna. Op 'n hoogte van 10 000 vt en 'n temperatuur van -7ºC het hulle besluit om tou op te gooi.

Die Johannesburgse Lughawe het bevestig dat hulle radarstelsel iets geregistreer het op die plek waar die lig was.

Kontak
Bronbergers wat dalk ook die Grub-gesin se oranje ligte in ons kontrei gesien het, is welkom om ons te kontak by 012-734-0522 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .. Kontak Cristo Louw van die Suid-Afrikaanse VVV Hulpbron by 084-302-2660, This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .of besoek die webtuiste: www.saufor.com. Kontak sterrekundige Berto Monard by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .en vir Richard Wade van die Nkwe-rif Sterrewag by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2019 Die/The Bronberger