Muggiebul wroeg oor rakbie PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 23 August 2011 15:00
Untitled Document

“Altyd iets om voor dankbaar te wees. Altyd ‘n ietsie positief te kry in elke treurige situasie,” sê Geel Harry Sonskyn anderdag in die drinkgat.

Geel Harry is die een wat glo onlangs ‘n hengske klomp geld iewers gewen het, of só sê hulle.
Harry lê dié positiewe eiertjie knap ná ou Muggiebul Marais se tirade oor die treurige toestand in die land, die wêreld en veral op die rakbieveld.

Muggiebul meen ‘hulle’ lieg, bedrieg, steel, staak en sosialiseer nou ons mooi land baie vinnig moerland toe. En dit lyk hom dit wors deur na ons rakbie toe ook. Veral die staak deel, sê Muggiebul.
“Jy is eintlik reg, ou Geel Harry,” sê Gert Mossie. “Altyd iets positiefs. In die swartste modder speel die witste varkie, mos.”

Hy wens byvoorbeeld amper vir nog ‘n petrolkrisis, sê Gert Mossie. Sy bakkie het tot gister toe nog op daai vol tenk diesel geloop waarvoor hy met die ‘krisis’ moes loop tou staan, sê Gert. Dink nou net hoeveel R50 note hy gespaar het, want hy gooi altyd net R50 se diesel in en deesdae hou dit nie baie lank nie. Seker is iets verkeerd met die ou bakkie, sê Gert.

En kyk nou weer toe ‘hulle’ anderdag die nuwe Gautrein se kabels gesteel het, sê Gert. ‘n Gatslag vir die mense wat in Jaansberg moes gaan werk het, maar aan die positiewe kant het die mense van die Gautrein gelukkig busse gereed gehad om hulle te vervoer.

Maar ongelukkig het dié busbestuurders toe ook gestaak, maar gelukkig was daar baie van daai treinryers wat eintlik glad nie wou gaan werk het nie, maar ongelukkig is ‘n klomp van hulle toe gefaaier, maar gelukkig gaan die regering nou vir nog meer werkloses toelaes betaal, sê Gert.

Ongelukkig, sê Gert, sal die skrale vyf miljoen mense wat belasting betaal, nou nog meer moet opdok om vir 15 miljoen toelaag-ontvangers te sorg.

En die oorblywende 30 miljoen mense in die land kry ongelukkig niks nie, maar gelukkig kan hulle kabels steel om aan die lewe te bly. Sien, altyd iets om positief oor te wees, nes Geel Harry sê, sê Gert Mossie.

“Gmff,” sê Muggiebul. “Wat kan nogal positief gesê word oor die toestand van Springbokrakbie?”
“Wel,” sê Gert Mossie, “met die volgende wêreldbeker sal ou Jôn Smit sekerlik op die pawiljoen sit, want dan is hy ook lankal geregtig op ouderdomspensioen.”

 

© 2019 Die/The Bronberger