Ou Poon stap ?n negejaar-pad saam met ons PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 22 September 2011 11:30
Untitled Document

In die nege jaar wat sedert die heel eerste uitgawe verloop het, het ou Poon en sy vrinne se praatjies in Die Bronberger baie gewild onder ‘n groot groep lesers geword. Ons het gaan terugblaai en haal hier lukraak aan wat ou Poon oor ‘n aantal uiteenlopende onderwerpe te sê gehad het.

Ou Poon Julie 2003 – oor suinigheid: “Die suinigheid van Trens van Rensburg, só sê hulle, was ‘n ding in die bloed. Sy oupa, ou Vrek van Rensburg, en sy pa, Klein Vrek van Rensburg, kon net so vernuftig op hulle pennies sit.”

Oktober 2003 – oor die platteland: “Jy kan maar vra, wat maak die platteland plat? Dit is daardie geroeste windpomp wat met sy eentonige tjierts, tjierts, tjierts die skrale blinkwatertjie tot in die slykdam spoeg-en-sluk, spoeg-en-sluk. En dit is die bekslaanhek wat jy net op ‘n baie sekere manier sonder enige ernstige beserings kan oopmaak en kan toemaak.”

Januarie 2004 – oor die verkiesing: “Ja, dit is ‘n nuwe jaar met nuwe hoop en nuwe verwagtinge en met ‘n verkiesing wat op die koop toe voorlê. Ou Poon wil vandag iets voorspel en dit is dat daar op die politieke front nie eintlik iets gaan verander nie. Dieselfde leiers van dieselfde party sal maar weer nutteloos in die magsstoele loop sit. Dit is immers volgens die Sjinese vanjaar die jaar van die aap.”

Maart 2004 – oor trou: “Toe sy kleinseun hom laas week vra: ‘Oupa wat se ding is ‘n oujongkêrel?’ Toe kon hy met gesag antwoord: Ou seun, ‘n oujongkêrel is ‘n ou wat diep en ordentlik oor ‘n ding nadink voor hy dit doen. En dit dan nie doen nie.”

April 2004 – oor plotpeste: “Die nuwe monstervlieg kom sit met ‘n duidelike ‘doef!’ Dan vlieg hy soos ‘n wafferse 100 meter-atleet uit die blokke om met sy siesige pote ‘n blitsige draai oor jou bakkies te nael voor hy homself weer, met jou neus as aanloopbaan, soos ‘n bliksemstraal lanseer.”

April 2005 - oor die KKNK: “Goed moeg vir die murgtappende massaloopsessies en lekker moerig vir die sieldodende rumoer het ek gelukkig ‘n heel rustiger vorm van vermaak ontdek. In ‘n koeltetjie, eenkant in ‘n hoekie het ek my sit gekry waar ‘n vriendelike kelner vir my ‘n koue Duitse bruisdrankie op aanvraag aangedra het.”

Julie 2005 – oor ontwikkeling: “Hy verlang na die ou dae toe die wêreld nog oop en vriendelik was; toe hy nog rustig op sy plothuis se voorstoep kon sit en kon sien wie klop doer onder in die leegte by die weduwee Viljee aan.”

April 2006 – oor die weer: “Die wind het anderdag só kwaai hier oor die Bronberg opgesteek dat die plomp rooi hennetjie dieselfde eier drie keer gelê het.”

Desember 2006 – oor modes: “Dit was in die dae toe ‘n man eerder sonder ‘n broek as sonder ‘n hoed op straat gevang sou word.”

Januarie 2007 – oor meganiese valskerms: “Eers lyk dit vir my soos ‘n reuse lammergeyer met ‘n mofskaap in sy kloue. Maar toe kom die gedoente nader en ek sien dis jou werklikwaar ‘n valskerm met ‘n man aan sy drakant. Op die man se rug is iets vasgemaak wat soos ‘n outydse staatsdienswaaier lyk en soos ‘n ‘weed-eater’ skree.”

Desember 2007 – oor die Kerstyd: “Een van die diepgewortelde tradisies wat oor donkiejare heen al ‘n onafskeidbare deel van plotmense se Kerstyd geword het, is om koers te kies na die groot dorp se winkelsentrums toe om te loop soek vir parkeerplek.”

Februarie 2008 – oor produktiwiteit: “En as hy so moeg is wil hy sommer net so in sy stoel gaan sit en sit, sê vinnige Fanie. Dan sit hy net en sit. Dan sit hy nie en dink nie.
“En weet julle hoe snaaks is dit, noudat ek daaraan dink? Elke keer as ek so moeg is en ek gaan sit om te sit en nie om te dink nie, dan, as ek net so rukkie gesit en sit het, kom my vrou en dan vra sy: Waaraan dink jy nou?”

April 2008 – oor die woordjie ‘gat’: “Sou die ding jeuk beteken dit ook nie dat dit gekrap wil word nie, maar wel dat die eienaar daarvan s’n brand om iets onbesonne aan te vang wat hom waarskynlik syne gaan laat sien. En dit kan veroorsaak dat ’n leedvermaker syne aflag. ’n Volksvreemde sou waarskynlik hiervan nie kop of . . ., wel, hy sou nie verstaan nie, maar vir ons praters van die wêreld se jongste taal, maak dit perfekte sin. Om een skoon te maak, het byvoorbeeld niks te doen met goeie badkamermaniere nie, maar dui eerder op ’n baie haastige vertrek. Probeer ’n bietjie om die skoonmaak-een te vertaal en jy gaan joune straks afsukkel.”

Junie 2008 – oor rugbytaal: “Kom ons vat, net ter illustrasie, ’n fiktiewe stukkie Afrikaanse radiokommentaar en sit dit in Ingels om. Dit kan dalk só klink: “JP Pietersen takes the hanging kick beautiful out of the air out (onthou dis fiktief), and lays thongs down next to the sideline down on the other side pavilion. But he walks him tight against Bakkies Botha, who lifts his poles and spreads him to the ground where he makes hard acquaintance with mother earth about ten steps from the Bull’s quarter line. And there lies Pietersen - out like a candle!”

Augustus 2008 – oor ouma se huis: “Die rooibaksteen-huisie was perfek vierkantig met ’n rooi sinkdak en ’n rooi Cobra-gepoetste stoep waar varings in verfblikke weerskante van die stoeptrappies waggestaan het.”

September 2008 – oor strooibiljette: “Hoeveel mense vat die vervlakste goed en veral, hoeveel mense lees dit uiteindelik?  Vir my voel dit, elke keer as iemand een in my hand wil stop, asof hy of sy wil sê: “Dê! Gooi jý die blêddie ding weg!”

Januarie 2009 – oor naamsverandering: “As ou Shakespeare nou ’n paar eeue later in Suid-Afrika gelewe het, sou hy geweet het hoe min waarde daar werklik in ‘n naam steek. Hy sou hom in ’n tydperk in ’n land bevind het waar name met koorsagtige spoed verander word; waar ’n Roos ast’ware met ’n pennestreep ’n Poelpetater word, vinniger as wat jy Polokwane kan sê.”

Julie 2009 – oor koffietradisie: “Vaderkoppies vir koffie was sommer baie groter as die res. Dit was ’n trofee wat erkenning gegee het, op ’n daaglikse basis, aan die stomme mens wat desnoods die ‘hoof’ van die huis was.”

Oktober 2009 – oor sêgoed: “Nee, hy lewe nog dat dit vrek, dankie. Só sou oom Frikkie altoos sê, sou jy hom vra hoe dit dan gaan. Oom Frikkie, ook nou al jare reeds saliger, het in die lewe ’n hele paar ‘sêgoed’ gehad. Vra jy hom byvoorbeeld: “Wat sê jy nou?” soos wat mense mos maar lief is om te vra, dan sou hy dadelik antwoord: “Nee, ek sê maar wat jy sê, maar wat sê jý nou eintlik?” En sou jy hom langs die pad raakloop en vra waarheen hy dan op pad is, sou oom Frikkie sê: “Nee, ek stap sommer vir ’n walk.”

Junie 2010 – oor vuvuzelas: “Geen pryse vir dié wat kan raai wat die woord ‘vuvuzela’ beteken nie. Dit is ’n Zoeloewoord wat beteken; ‘om ’n verskriklike geraas te maak’. Maar die volle betekenis behoort te wees; ‘om ’n vreeslike geraas te maak sonder enige rede op aarde en dan te dink almal dink jy is oulik terwyl almal jou eintlik wil foeter of iets krasser wil aandoen.”

September 2010 – oor rugbyreëls: “Ek praat van die versie wat die skeidsregter deesdae opsê voor daar geskrum word: “Crouch..! Touch..! Pause..! (eintlik is daai een ‘Paaauuusss’) Engage!” My dilemma is; hoe sê ’n mens ‘krouts, tats, enghyts’ in regte Afrikaanse rakbietaal? Ek het alles binne my vermoë gedoen, selfs woordeboeke geraadpleeg en verafrikaansing probeer, maar dit bly half snaaks, half verkeerd en heeltemal skeef klink. Luister ’n bietjie: “Buk! Vat aan! Verposing! Verloof!” Ek sien terloops die dikstertmêrrie praat ook van ‘engageer’.

Maart 2011 – oor sportkyk: “Dis ’n hoogs gespesialiseerde wetenskap wat jarre se bloedswetende opleiding verg voor jy kan kwalifiseer om selfs jou bas op daai sportkykrusbank neer te plak. En dan moet jy ast’ware eers graad vang en minstens jou meesters baasgeraak het, voor jy verdien om jou bek van daai rusbank af te mag oopmaak. As jy die ref byvoorbeeld vloek, moet hy verstaan hoekom hy ’n dinges is, anders maak jy dalk van jouself een.”

 

© 2019 Die/The Bronberger