Spogbriewe wys nege jaar se meelewing Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 22 September 2011 11:42
Untitled Document

Oor die afgelope nege jaar het Die Bronberger ‘n groot aantal merkwaardige briewe ontvang. Lesersbriewe is ‘n barometer waarmee ‘n publikasie se gewildheid en die meelewing van sy lesers gemeet word en dit het sommer vroeg in sy bestaan reeds duidelik geword dat die Bronnie se kwiklesing deur die dak wil klim. Daar is briewe wat vermaak, skok, ontstel, en ook ‘n hele klomp briewe wat die Bronnie se lof besing. As deel van ons verjaarsdag-uitgawe ‘brêg’ ons ‘n bietjie met uittreksels uit nege spogbriewe – een vir elke bestaansjaar.

Giving an identity to a community

Mervyn Woodrow from Mooiplaats writes in September 2003:
I have been meaning for some time now to write and thank you for The Bronberger, to congratulate you on the sustained quality of your magazine, to applaud your firmly independent editorial policy and to express the sincere hope that you persevere for many years to come.

I wonder if you are fully aware of your manifold achievements? As I see it you have, i.a. entertained and informed, have provided a service (gratis nogal), the fruits of which cannot readily be measured but hopefully will become increasingly appreciated in the years ahead.

You have given an identity to a diverse community - no mean achievement - and it is now up to that community to rise to the challenge and prove itself worthy. On the occasion of your first birthday we salute you. Keep up the good work.

Dankie vir gesinstydskrif

Mariana Delen van Faerie Glen skryf in April 2004:
Baie dankie vir ‘n lekker-lees tydskrif wat ek sonder enige vrees vir gevolge maar in my huis kan laat rondlê waar my kinders enige tyd daardeur kan blaai. Ek kan dit deesdae nie meer waag om enige vrouetydskrif naby my kinders te laat rondlê nie omdat daar soveel vulgêre goed in is. Gelukkig kry ons nou Die Bronberger wat die hele gesin kan lees en nog iets leer daaruit ook. Baie dankie dat julle vir stadsmense soos ons vertel van ons berg, die veld, diere en voëls in ons omgewing. Dit laat ons deel voel van iets. Hou so aan.

My nuuskameraad

Annarie Brits van Faerie Glen skryf in September 2005:
Met ‘n koppie warm koffie in my een hand en Die Bronberger in my ander hand, stap ek buite toe. Op die stoep maak ek myself tuis en begin my verlustig in die omgewing se nuus. Ek hap die woorde bietjies-bietjies af en kou dit fyn totdat die storie deel van my is.

Sedert ons twee jaar gelede plotseling in die Bronberg-gebied aangeland het, raap ek elke maand pligsgetrou ‘n kopie van Die Bronberger op. Nee, twee. Een vir myself en een vir my familie in die Vrystaat wat opgewonde wag vir nuus van hierdie kant af.

Die Bronberger was die eerste nuuskameraad waarop ek my hande kon lê, aangesien ek so gou as moontlik my voete wou vind en die omgewing beter wou leer ken. Al die uitgawes word netjies in ‘n boksie in my tuisbiblioteek gebêre.

Die Bronberger is kleurvol, stylvol en taktvol. ‘n Mens kan sien elke woord en elke sin word, soos ‘n kosbare kleinood, versigtig opgevou en in ‘n lekker-lees storie neergelê.

Julle is die suurstof waarmee die Bronberg-gebied sal aanhou asemhaal en ek weet nou . . . ek hoort hier . . . hier duskant die Bronberg . . .

‘n Lekker-lees blad

Marì Mostert van Montanapark skryf in Mei 2006:
Dankie vir jul lekker-lees-blad. Ja, dit swerf so ver noord as Montanapark. My dogter en skoonseun woon in Rietvlei View, en hulle ‘leen’ vir my hulle Bronberger.

Ek stel belang in die stukkies geskiedenis wat julle gereeld publiseer. Plante en voëls lê my ook na aan die hart.

Nogmaals dankie vir julle blad. Doe so voort!

My gunsteling leesstof

Paul Brandt van Wapadrand skryf in Januarie 2007:
Ek wil net graag weet waar my Bronberger is. Dit voel soos jare dat ek laas een in die hande gehad het en ek mis my gunsteling leesstof nou baie. Julle moet tog net in vredesnaam nie besluit om Die Bronberger te stop nie.

Ek en die vrou kan nie wag dat ons Bronberger elke maand in die posbus sy verskyning maak nie. Dan stry ons gewoonlik oor wie dit eerste gaan lees en sy wen altyd. Dankie vir ‘n puik tydskrif en doen asseblief so voort.

Julle het deursettingsvermoë

Gert Vorster van The Small Five skryf in September 2008:
Baie geluk met nog 'n jaar. Kan nie glo nie, want dit was net 'n paar maande gelede Die Bronberger se vyfde herdenking. Julle het sommer 'n groot sprong gespring hierdie jaar.

Ek leer baie by die diere en een dier wat werklik deursettingsvermoë het, is die skilpad. Hy gee net eenvoudig nie moed op nie. Om eiers te lê (dit is nou by die 'sy' en nie die 'hy' nie), is omtrent 'n heeldag se storie. Ook wanneer hy oor 'n hindernis wil kom. Hy hou net aan en aan totdat hy dit regkry. Ek kry die indruk dat daar ook iets van die skilpad by julle is.

En daarmee volstaan ek om dankie te sê vir julle vir nog 'n jaar. Moet nooit die eienskap van die skilpad verloor nie.

Verslindbare inhoud

Jo-Mey Dreyer van Vriende van Faerie Glen Natuurreservaat skryf in Oktober 2009:
Ek het uiteindelik weer ’n uitgawe van Die Bronberger in die hande gekry. Hulle is maar skaars hier in ons geweste. En dit nogal die pragtige verjaarsdag-uitgawe! Veels geluk, man. Dit is ’n ware fees. Die kwaliteit is uitnemend, die inhoud verslindbaar. Gaat so voort!

Dankie vir puik artikels

Michael Combrink, skoolhoof van Laerskool Witpoort skryf in Augustus 2010:
Graag wil ek namens die onderwysers en kinders van Laerskool Witpoort Die Bronberger redaksie bedank vir puik artikels wat maandeliks verskyn. Die onderwysers en kinders gebruik baie van die inligting in werkopdragte, veral in navorsingsopdragte oor ons omgewing. Dankie ook vir Die Bronbergers wat maandeliks by ons skooltjie afgelewer word.

“Dit wil gedoen word”

Alwyn Nel van Perth skryf in Junie 2011:
Wel, dit is nou al ’n geruime tyd dat ek Die Bronberger lees. As ek reg onthou was ek een van die eerste lesers wat die Bronnie aan-lyn gelees het. Sedertdien het die publikasie van krag tot krag gegaan, en “dit wil gedoen word”, soos die Afrikaanse spreekwoord sê. Knap gedaan, julle!

Vir ons wat nie meer binne die grense van die RSA lewe nie, is dit nie altyd so maklik nie. Ons verlang na ons mense, ons kultuur, en ons mis ons taal geweldig. Hier vul Die Bronberger ’n geweldige gaping, want dit hou ons in voeling met ons land en ons taal.

 

© 2020 Die/The Bronberger