Oor grassny en haka?s PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 17 October 2011 07:59
Untitled Document

“Aah, die lente. Dié tyd van die jaar wat die vernuwing van alles daar buite die bloed uitbundig deur die are laat borrel,” sê Gert Mossie en hy vat ’n lang teug van dit wat ewe uitbundig in sy glas borrel.

“Gmf, ja,” sê Jan Pot, “dit is ook die tyd van die jaar wat die kikuyu twee keer ’n week gesny moet word en alles in en om die huis reggemaak moet word. Dit is nou as jy die vrede in en om die huis wil bewaar,” sê Jan.

Laat hom nou dink aan laas naweek, sê ou Fred Kurper. Hy sit toe maar so op die stoep en kyk of die weer nie wil draai sodat hy kan viswaters toe nie, sê Fred. Maar toe sy vrou, Annetjie, nou die derde of vierde keer met die grassnyer hier voor hom verbysukkel, toe voel hy só sleg en kry hy só skaam dat hy maar opstaan en sy bier in die kombuis gaan verder drink.

Hy weet hulle het besluit om vir die volgende drie maande glad nie rakbie te praat nie en hy wil streng gesproke ook nie rakbie praat nie, sê Groot Piet Petoors. Hy wil net sê dat hy so met die wêreldbeker saam ’n nuwe persepsie oor die ‘haka’ gekry het, sê Groot Piet.

Seker met dié dat die ding met die wêreldbeker saam so gereeld onder die oog gekom het. Dis die All Blacks, Samoa, Tonga en Fiji. Sewentien wedstryde - sewentien vervloekte haka’s!

Die veronderstelling is dat dit ’n skrikwekkende Maori oorlogsdans is wat die vrees van die duiwel en sy grootmoer in die opponente moet jaag, sê Piet. Maar as jy lank en genoeg daarna kyk, soos wat nou die geval was, is die hele petalje eintlik erg belaglik en kan dit op sy beste as effe koddige, sydelingse vermaak deurgaan.

So amper in die klas van daai kaalboudige ouens met die rokkies en die lang horings (met permissie) wat voor elke wedstryd op genoemde horings blaas. Ligte, bykans verleentheidskeppende vermaak, sê Groot Piet.

Veral daai vierkantige ouens van die eilandspanne is nogal kwaai potsierlik in hulle uitvoering van die haka. Dis ’n geswaai van die arms, gefladder van tonge en ’n woeste gestamp van die gestewelde voete onder aan die bak, boomstompbene.

Dit alles terwyl die vierkantige gesigte op die vierkantige lywe na alle kante toe getrek word om soos mismaakte rubbermombakkies te vertoon.

Lyk vir my kompleet soos ’n span ‘Sponge Bobs’ op steroids wat vir ’n Sumo stoeigeveg opwarm, sê Piet.

Nee, wat. Hy verstaan glad nie meer hoekom mense kan dink die haka is intimiderend nie. Dit sal hom geensins verbaas as die een of ander span wat aan die ontvangkant van die gekkespul is, binnekort onbedaarlik gaan uitbars van die lag nie. Dan kan hulle dit die ‘haha’ noem.

Hy gaan ook nie oor rakbie praat nie, sê Gert Mossie. Hy wil net gou vertel wat sy vriend Allies wat daar in Ossieland bly, vir hom vertel het net ná die tragedie van Wellington se eie 9/11.

“Man, jy het geen idee watse pyn en lyding hierdie oorwinning vir my inhou nie”, skryf Allies vir Gert. “Vir die volgende ses weke gaan die ghym aan die groot klok gehang word. Die derms gaan stukkie vir stukkie uitgeryg word in die media, van hoe suksesvol en hoe vernuftig die klomp was.”

“Dag na dag, uur na uur sal dit in my boerekeel afgedruk word. Ek verwag selfs ’n onderhoud met die laaitjie wat die lemoene halftyd aangedra het, en wat sy persepsie is van die superspan,” sê Allies uit Ossieland.

“Dan die outjie wat die emmertjie sand of skopring aangedra het, en waar hy homself sien 10 jaar van nou af. Hoekom dink hy die plastiese ring is beter as ’n emmertjie sand, en of hy bekommerd is dat sy loopbaan nou in gevaar is? “Dis om van siek te word.

Vervlakste Springbokke. As hulle nou gewen het, was alles oor en verby nog voor die stadion se hekke gesluit was vir die nag. Daar sou nooit ooit weer ’n haan daarná gekraai het nie.”

 

© 2019 Die/The Bronberger