Ons loop ons teen ?n lekkerte vas PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 17 October 2011 08:03
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

As jy aanhou afbeweeg met Cullinan se Oaklaan, loop jy jou naderhand vas teen die diamantmyn se staalhek. Sou jy dan besluit om jou sommer net daar onder die ou eikeboom by ‘n tuisgemaakte tafeltjie van Albizia tuis te maak, loop jy jou bes moontlik teen een van die uitsonderlikste kuier- en eetervarings van jou lewe vas.

Robert Scott Denton en sy vrou Lientjie Wessels Denton het die geskiedkundige skakelhuisie van klip en sy voortuintjie op die westelike punt van Oaklaan, in ‘n baie spesiale restaurant omskep. Die omskepping is kunstig gedoen, want dis wat Lientjie is – ‘n kunstenaar. Jy kan dit sien aan die dekor en meubels en jy kan dit sien en proe aan die disse wat sy optower.

Robert speel kelner die dag toe ek en Metgesel ons sit in die vol koelte van die ou boom in die voortuintjie van Albizia loop sit. Soos gemeld is dit heel gepas vir die straatjie waarin die plek is, ‘n eikeboom. As jy gewonder het, Albizia is ook ‘n boom. Daai een wat baie van ons as ‘n ‘platkroon’ ken en wat veral in die Laeveld en KZ-Natal floreer.

Met die nodige te-drinke in plek bring Robert die dag se spyskaart aan. Dit is met die langhand geskryf op ‘n bladsy wat uit ‘n skryfblok geskeur is. Omtrent elke dag skryf hy ‘n nuwe spyskaart, sê Robert.


Robert Scott Denton voor Albizia in Cullinan

Dit wat hy op die spyskaart skryf hang telkens af van watter produkte in seisoen, vars en plaaslik beskikbaar is en veral van waarvoor Lientjie die betrokke dag die inspirasie en lus het om voor te berei.
Gewoonlik sal die spyskaart bestaan uit vier of vyf voorgeregte (volgens Robert is dié voorgeregte meestal substansieel genoeg om as hoofgereg te dien), twee of drie hoofgeregte en twee of drie nageregte.

Dis duidelik dat Lientjie nie juis een vir die konvensionele is nie. Met my oog op die handgeskrewe spyskaart dink ek so by myselwers dat sy ‘n dapper kok is. Een wat nie bang is om smaakkombinasies en bestanddele te toets en te trou nie.

Metgesel bestel Lientjie se weergawe van ‘n ‘pizza’ en sy kan nou nog nie uitgepraat raak daaroor nie. Lientjie vertel later dat sy gebruik maak van Turkse platbrood wat jogurt bevat. Dié word dan oondgebak en as die vulsel eers in plek is word dit weer gebak. Díe dag se vulsel was ‘n kombinasie van komkommer, gemarineer in lemmetjiesap en vanilla, mozzarellakaas, vars koljander en brosgebraaide spek. Metgesel het ekstra van die ander in die spek se plek gevra en gekry. Dit is ‘n groot en besonderse ete en kos R75.

Ek bestel ‘n kruisskyf (rump), half-rou (medium to rare) en kan met oorgawe sê dat Lientjie se rump en bykosse op daardie dag een van die bestes is wat ek op enige ander dag tot dusver ervaar het. Die vleis was reg gaar, of reg rou – afhangende van hoe jy daarna wil kyk – en onder die geurigste sousie voorgesit.


Saterdae en Sondae word ontbyt op Lientjie-styl voorgesit

Robert vertel later dis ‘n ‘polenta bagna gauda’ sousie en is gaaf genoeg om aan ‘n agtergeblewene soos ek te verduidelik dat dit ‘n kruierige ansjovissie-suurlemoenbotter-sousie is. Bykosse was onder meer ‘n spinasie en parmesan heerlikheid en ‘n papajaslaai wat vir my vreemd en werklik uit die boonste gestoeltes was. Dit kos R140.

Die kuier by Albizia was ontspanne en gemoedelik, dalk oor die eienaars self die bediening gedoen het en die kos was ‘n ervaring. Die kanse is skraal dat jy die disse waarop ons besluit het, gaan kry as jy jou draai by Albizia gaan draai, maar ek is seker dit gaan ewe uitsonderlik en aangenaam wees.

Die plek is net oop van Donderdag tot Sondag en ook op vakansiedae. Die Dentons vra dat jy asseblief moet bel en bespreek voor jy kom. Hulle het nie kaartgeriewe nie, maar kontant sal in die haak wees, sê Robert. Die nommer is 082-531-6141.

 

© 2019 Die/The Bronberger