Doodstraf vir ongeteldes? PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 17 November 2011 06:03
Untitled Document

Hy hoor oor die draadloos hulle sê 99 persent van die mense is nou al met die sensus-dinges getel, sê Gert Mossie. Maar wat hy wil weet, is hoe op aarde weet hulle dit?

Want, sê Gert Mossie, as hulle presies weet dat presies 99 persent van die mense getel is, dan moes hulle mos al die tyd presies geweet het presies hoeveel mense daar is en as hulle dit geweet het, dan was die hele simpel getellery mos in die eerste plek nie eers nodig nie?

“Gmf,” sê Groot Piet in die hoek. Hy wat Groot Piet is, het geweier om al daai persoonlike vrae te antwoord. Hy ken ry regte, sê Piet. Hy weet van sy ‘raait to remyn saailint’ en al daai goed. Daarom het hy net sy naam, nommer en rang gegee en basta met die res. Dan is hy ook mos getel. Vir wat wil hulle al die ander goed weet, wil Groot Piet weet.

Hy kan verstaan dat ‘hulle’ wil weet hoeveel mense in die land is, sê Allen Prentjies, maar hoekom hulle wil weet hoeveel stofsuiers daar is, slaan hom heeltemal dronk. Hy weet ook nie, sê Gert Mossie, dis tog seker nie oor hulle wil weet hoeveel stofsuiers hulle nog moet bou sodat elke mens een kan kry nie. Dan sou dit mos meer politieke sin gemaak het as hulle al die kleinhuisies getel het.
Uit die perd se bek hoor hy dat hulle ‘n spesiale taakmag binne die sensusopset op die been gebring het om president Zuma en Steve Hofmeyer se kinders te tel, sê Gert.

Al wat hy weet, is dat hulle ‘n helse lot ouens sou mis tel, as hulle nie ook die mense in al die kroeë getel het nie, sê Groot Piet. Hy hoor een van die feite wat die sensustellery opgelewer het, is dat daar amptelik net sestien mense in Krugersdorp-Wes is. En dit, sê Groot Piet, is toevallig agt ma’s met pasgebore babas. Hulle het glo op die dag van die Curriebeker-finaal loop koppe tel in Krugersdorp-Wes.

Wat hom pla, is dat dit lyk of baie van die sensusopnemers skaars kan lees of skryf, sê Gert Mossie. Die knaap wat hom kom tel het, sou nou nog daar gewees het as hy hom nie gehelp het om die vorm in te vul nie. Dis nie wat hom die meeste pla nie, sê Groot Piet. Wat hom pla, is of hulle kan tel.

Maar Groot Piet moet ligloop met dié dat hy weier om inligting vir die tellers te gee, sê Gert. Hy kan voor ‘n hof gesleep word en ‘n hengse straf opgelê word.

Hy wonder tog watse straf hulle vir ouens soos ou Piet sal gee, sê Allen Prentjies. Eintlik maak die doodstraf in dié geval perfekte sin. Hang al die ouens wat weier om getel te word, dan is jy mos seker jou telling is ‘op die ou einde van die dag,’ soos ou Naas sou sê, in die kol.

*
Vriend Jonathan laat weet daar uit die verre vreemde die volgende: “Ek sien gister hier ‘n kar met ‘n ‘bumper sticker’ wat sê: “Ek mis Gauteng.”

“Toe breek ek maar die kar se venster, steel die radio en los ‘n briefie wat sê: “Ek hoop dit help.”

 

© 2019 Die/The Bronberger