Johanna Brandt: Siener, skrywer en baas-spioen PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 17 November 2011 06:09
Untitled Document

Spioen, siener, sieketrooster en skrywer Johanna Brandt was een van die min oorlogstydse geheime diens-werkers wat nooit uitgevang is nie. Niemand het vermoed dat Johanna en haar ma die Tweede Vryheidsoorlog se suksesvolste spioenasie-ring vlak onder die Britte se neuse bedryf het nie.

Die ring is gestig op Johanna se ma en medepligtige, die weduwee van Warmelo, se Pretoria-plot, genaamd Harmonie. Dit was in die omgewing van die hedendaagse Sunnyside, waar die Normaalkollege se koshuise later gebou is.

Dié plot was egter omring deur Britse troepe en Lord Kitchener, Lord Roberts en die hertog van Westminster se hoofkwartiere was ‘n klipgooi ver. Niemand het vermoed dat dié twee oënskynlik hulpelose vroue nie regtig van alle kontak met die buitewêreld afgesny is nie.


Boere-spioen, Johanna Brandt
Foto: The Project Gutenberg eBook

Uitbreek
Johanna was in haar vroeë twintigs toe die oorlog uitgebreek het. Sy is op 18 November 1876 op Heidelberg, Transvaal gebore as die tweede jongste van sewe kinders van die Hollandse dominee, Nicolaas Jacobus van Warmelo, en sy tweede vrou Maria Magdalena Elizabeth, ‘n nooi Maré.

Toe haar pa in 1892 dood is, het Johanna en haar ma in Europa getoer. Op ‘n opvolgende Hollandse toer in 1897, het Johanna ‘n Hervormde dominee, Louis Ernst Brandt, ontmoet met wie sy later getroud is. Dit is dié kontak met die Nederlanders wat vir Johanna die ideale manier was om ongesensorde nuus oor die werklike gebeure van die oorlog na die buiteland te kry.


Johanna in haar verpleegster-uniform. Sy was ‘n vrywilliger verpleegster by die Irene Konsentrasiekamp
Foto: up.ac.za

Kamp
Aan die begin van die oorlog het Johanna en drie van haar broers as vrywilligers aangesluit. Johanna was een van die ses onbetaalde vrywilliger-verpleegsters by Irene Konsentrasiekamp. Terwyl sy in die winter van 1901 by dié kamp was, het haar ma se eerste avonture met spioenasiewerk begin.

Die ses verpleegsters is kort daarna deur militêre owerhede uit die kamp verban en Johanna het by haar ma, Maria, op Harmonie ingetrek. Sy het ‘n ouer suster gehad wat in die Kaap gebly het, en Johanna het agtergekom dat enige briewe wat sy en haar ma soontoe stuur, gesensor word.
‘n Tydverdryf om die Britte te uitoorlê en ongesensorde briewe na haar suster in die Kaap en Ernst in Nederland te kry, het vinnig gegroei tot ‘n spioenasie-ring. Eers is briewe in porseleinpoppe se lywe of vals bodems in geskenkkassies en siggarethouers weggesteek.


Die adres op dié koevert toon geen teken dat ‘n onsigbare brief aan sy agterkant geskryf is nie
Foto: The Project Gutenberg eBook

Onsigbaar
Later het Maria die plan van ‘onsigbare briewe’ beraam. Sy het wit koeverte versigtig oopgestoom en ‘n brief in suurlemoensap aan die binnekant van die koevert geskryf. Die koevert is dan weer aanmekaargeplak, en ‘n onskuldige brief is daarin geplaas. Die onsigbare brief sou sigbaar word as jy met ‘n warm yster daaroor stryk.

Op dié manier het die onsigbare briewe die wêreld aan die brand gesteek. Paul Kruger, wat toe in Holland was, het só inligting gekry oor wat in Pretoria aangaan. Johanna het ook ‘n berig oor die haglike toestande in die Irene Konsentrasiekamp aan WT Stead deurgekry, wat dit in die ‘Review of Reviews’ in Engeland geplaas het. Saam met Emily Hobhouse se ondervindings, het dié berig bygedra tot ‘n afname in die Britse publiek se oorlog-ondersteuning.


Johanna se ma en medepligtige, Maria Magdalena Elizabeth van Warmelo, ‘n nooi Maré
Foto: The Project Gutenberg eBook

Smokkel
Maria en Johanna het ook gehelp om jong mans uit Pretoria te smokkel om by die kommando’s aan te sluit. Hulle witkoevert-briewe het inligting oor Britse troepe-bewegings en ammunisie aan die kommando’s besorg. Die smokkel-proses het begin toe Koos Naudé en Willem Botha skelm by Harmonie opgedaag het. Blykbaar was Koos die kaptein van die geheimedienste en daar was ‘n prys van £1,000 op sy kop.

Dwarsdeur die oorlog het Johanna ook ‘n geheime ‘wit dagboek’ gehou wat in onsigbare suurlemoensap geskryf is. Eers agt jaar nadat sy dié dagboek begin skryf het, het sy oor die woorde gestryk om hulle sigbaar te maak.

Ook haar liefdesdagboek, wat haar gevoelens oor Ernst beskryf, was in suurlemoensap. Johanna se gewone pen-en-ink dagboek is bygehou om die Britte te bluf. Dit het oop en bloot op haar lessenaar gereed gelê het vir die deursoekers van die huis om te lees. Die dagboeke is later gekombineer en gepubliseer as ‘The war diary of Johanna Brandt’, geredigeer deur Jackie Grobler.


‘The war diary of Johanna Brandt’
Foto: up.ac.za

Trou
In Junie 1902, knap ná die vrede van Vereeniging, is Johanna Nederland toe om met Ernst te trou. Die troue was op 28 Augustus en Johanna was so bekend vir haar spioenasiewerk, dat gelukwensinge van alle oorde ingestroom het – vanaf Paul Kruger tot die Nederlandse Koningin Wilhelmina.

Johanna en Ernst het terug gekeer na Suid-Afrika en Ernst het predikant by die Nederduitsch Hervormde gemeente in Pietersburg geword. Blykbaar moes hy die hele noord-Transvaal bedien en dié gebied was groter as Nederland. Johanna en Ernst het sewe kinders gehad.


Johanna was elke oggend 5 uur in Harmonie se tuin. Die meeste van haar dagboekinskrywings is onder dié ses wilgerbome gedoen
Foto: The Project Gutenberg eBook

Boeke
In 1905 het Johanna se eerste boek – ‘Het Concentratie-Kamp van Irene’ – die lig gesien. Haar bekendste boek - ‘Die Kappie Kommando, of Boerevrouwen in Geheime Dienst’ – is in 1913 in Amsterdam gepubliseer deur J H De Bussy & Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers-Maatschappij. In dié boek vertel sy van haar en Maria se oorlog-spioenasiewerk.

Die boek se Engelse vertaling – ‘The Petticoat Commando, or Boer Women in Secret Service’ – het dieselfde jaar op die rakke verskyn en is vreemd genoeg deur Mills & Boon in London gepubliseer.

Met die 1914 rebellie in die Unie van Suid-Afrika, is die Nasionale Vroueparty in die Transvaal gestig. Deel van dié party se doel was om die rebelle te help bevry en na hulle gesinne om te sien. Johanna was sekretaresse vir die party se eerste kongres wat in Johannesburg gehou is.


Johanna het later wêreldwyd bekend geword vir haar druiwe-kuur wat glo selfs kanker kon genees

Visioene
Johanna se ma, Maria is op 7 Desember 1917 in Pretoria oorlede. By haar sterfbed het Johanna ‘n aantal profetiese visioene gehad. Dié visioene is in 1918 gepubliseer as ‘Die Millennium, een voorspelling’. Verdere voorspellings is in 1920 as ‘Die smeltkroes’ en in 1936 as ‘Paraclets, or Coming Home Mother’ gepubliseer.

Dié werke bevat almal voorspellings wat waarsku oor ‘n donker toekoms vir Suid-Afrika. Soos ander sieners voorspel Johanna ook “die nag van die lang messe” wat blykbaar die vorm van ‘n nagaanval op Johannesburg sal neem.

‘n Engel het glo aan Johanna verskyn en in vyf visioene aan haar dié reeks ontstellende gebeure openbaar. Dié verskrikking het Johanna in een enkele nag heeltemal grys laat word. Sy was ook so verbysterd dat sy vir dae lank nie eens met haar man daaroor kon praat nie.

Toe sy weer kon praat, het sy dadelik begin werk maak van haar visioene. In Maart 1918 het Johanna die boodskap wat sy gekry het in Engels, Sesoeto, Zoeloe en Xhosa laat druk en onder die swart bevolking versprei as waarskuwing om nie in die geweld van haar visioene betrokke te raak nie.


Johanna en Louis Ernst Brandt se verlowingsfoto
Foto: up.ac.za

Genees
Iewers net ná hierdie tyd het Johanna maagkanker gekry wat sy op ‘n kontroversiële manier self genees het. In die 1920’s sien haar eerste boek oor gesondheid - ‘The Grape Cure’ – die lig. Dié boek het wêreldwyd bekend geraak.

Die eerste fase van die dieet behels ‘n vas van 12 ure elke dag, gevolg deur 12 ure waar net druiwe of druiwesap ingeneem mag word. Dié etery volg egter nie die patroon van maaltye nie; die pasiënt moet vir 12 ure aanmekaar druiwe eet.

Johanna is op 13 Januarie 1964 in Nuweland oorlede. In 2000 het die Poskantoor ‘n reeks seëls vrygestel om dié wat in die Tweede Vryheidsoorlog geskryf het, te vereer. Johanna het op die R1.30 seël gepryk, saam met Sol Plaatje en die Anglo-Boere-Oorlog Medalje.

 

© 2018 Die/The Bronberger