PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 14 December 2011 06:08
Untitled Document

Hier wys ons vir jou hoe Kersbome, Kerskaartjies en Kerspersente in 1911 gelyk het. Ons vertel jou van ‘n man wat op Kersdag 1911 gebore is, een wat net voor Kersfees daardie jaar oorlede is, die eerste lugpos in Suid-Afrika wat knap ná Kersfees afgelewer is en die eerste mense wat naby Kersfees 1911 op die Suidpool aangekom het.

Gebore
Die Suid-Afrikaner Noel Langley, wat op Kersdag 1911 in Durban gebore is, het Charles Dickens se boek in 1951 aangepas vir die film ‘A Christmas Carol’. Ander films waarvoor hy die draaiboek geskryf het strek van ‘Pickwick Papers’, ‘Ivanhoe’ en ‘ The prisoner of Zenda’ tot die bekende ‘The Wizard of Oz’. Hy is gekies vir dié fliek oor die kinderstorie wat hy geskryf het, ‘The tale of the land of green ginger’. ‘Desbarollda, the waltzing mouse’ is sy enigste ander kinderboek.


Kersbome


So het ‘n Kersboom in 1911 gelyk
.
.

Kersfees 1911 in die McCoy-tuiste. William, James en Robert sit onder die Kersboom in Knox County, Tennessee

Oorlede
Argitek Sytze Wierda is knap voor Kersfees, op 10 Desember 1911, oorlede. Hy het ‘n belangrike rol in die Zuid-Afrikaansche Republiek se argitektuur gespeel. Sytze was verantwoordelik vir die ontwerp van die Paleis van Justisie en die Ou Raadsaal by Kerkplein, die Nieuwe Goewermentsgebou en die Staatsmodelschool in Pretoria. Hy het ook 'n aantal brûe in en om Pretoria ontwerp, soos Leeubrug oor die Apiesrivier en 'n brug oor Sesmylspruit in Centurion. Die voorstad Wierdapark in Centurion is na hom vernoem.

Kerskaartjies
In 1911 is dié Kerskaartjie deur ‘n Amerikaanse plaaskind na sy nefie gestuur. Soos baie ander poskaarte van daardie tyd is die kaartjie in Duitsland gedruk en die posgeld was een Amerikaanse sent.

Dié Kersfees poskaart, gestuur op 23 Desember 1911, het verskyn met ‘n gedig, genaamd ‘Night before Christmas’: “The children were nestled all snug in their beds, while visions of sugarplums danced in their heads.”

‘n Hollandse Kerskaartjie wat in 1911 gestuur is, lees as volg: “Christmas is a jolly time for all folks to be pleasant. I’m sending you der little card ‘stead of a great big present.’ Ja, dit is “der little card”.

Die kaartjie is deur F Sander Co gedruk en in 1911 deur iemand se ‘Aunt Mary’ gestuur. Dit lyk asof Kersvader sy slee verloor het en duimgooi.

Lugpos
Suid-Afrika se eerste lugpos aflewering het net ná Kersfees 1911 plaasgevind. Op 27 Desember 1911 het Evelyn Driver 'n eenmotorige Bleriot-vliegtuig met 729 poskaarte aan boord van Kenilworth na Muizenberg in die Kaap geloods. Dit het in die beginjare maar moeilik gegaan om 'n gereelde diens aan die gang te kry. In 1911 was daar ook heelwat debatte in die Parlement oor Suid-Afrika se eerste poswet, en veral oor die probleem rondom die definisie van wat 'n brief is of nie is nie. Daar is ook heelwat aandag gegee aan die koste van die vervoer en hantering van pos, en die voorstanders van 'n ''penniepos'' het tevergeefs daarvoor geveg dat die postarief vir briewe op een pennie vasgestel moes word.

Kerspersente
Die vier-jaar-oue Brit, Joyce Freeman, op Kersdag 1911 met haar pop

Dié Duitse seuntjie wys tipiese seunskind-speelgoed op ‘n 1911 poskaart met die bewoording ‘Frohe Weihnachte’

Buchanan’s Scotch Whiskeys is geadverteer as die ideale Kersgeskenk vir mans in 1911

En vir arme vrouens was die “Koningin van Kersgeskenke” in 1911 glo ‘n Bissell matskoonmaker

Kersfees voorblad
Die voorblad van ‘Donnybrook Courier’ in noord Dakota op 15 Desember 1911. Kersvader vlieg in ‘n lugskip oor ‘n klomp kinders en gooi speelgoed af so ver hy gaan

Suidpool
Hulle sê dat Kersvader en sy helpers op die Noordpool woon. Knap voor Kersfees 1911 het die eerste mense op die Suidpool aangekom toe die Noorweegse Antarktiese ekspedisie om 3 nm op Donderdag 14 Desember daar aangeland het. Die leier van die ekspedisie was Roald Amundsen, vergesel deur Olav Bjaaland, Helmer Hanssen, Sverre Hassel en Oscar Wisting. Die Britse Antarktiese ekspedisie, gelei deur Robert Falcon Scott, was terselfdertyd op pad Suidpool toe. Scott het op 17 Januarie 1912 daar aangekom en uitgevind dat hulle voorgespring is deur die Noorweërs. Op hulle terugtog het Scott en sy vier kamerade almal omgekom van uitputting, verhongering en koue.

 

© 2019 Die/The Bronberger