PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 21 May 2008 00:00
Untitled Document

Daar is ’n soort hout wat so giftig is dat dit selfs lank nadat dit droog is, skade kan aanrig. As jy vuurmaak met dié hout, sal die rookwolke giftig wees en die vleis wat jy oor die kole braai sal diarree veroorsaak. Selfs die skaafsels van dié uitgedroogde hout kan jou blind maak.

Die ironie van die saak is dat dié hout een van die heel mooiste houtsoorte is om meubels mee te maak. Dit is ’n hout wat vir baie lank ’n soet, spesery-agtige geur afgee en wat selfs gebruik word om insekte weg te hou. Ons praat van die tambotie. Sy melksap is baie giftig as die hout vars gesny word. Tog is dié melksap tradisioneel as medisyne aangewend. ’n Druppel melksap vat tandpyn blykbaar onmiddellik weg.


Tambotiehout se mooi patroon

Die boom se bas is gebruik om maagpyn te behandel, maar groter dosisse daarvan veroorsaak skade aan inwendige organe en het al menige sterftes veroorsaak. Die tambotie, Spirostachys africana, is ’n medium-grootte, semibladwisselende boom met ’n ronde kroon. Sy bas is donkerbruin tot swart, dik, rof en netjies gekraak in reëlmatige blokke wat in die lengte in rye rangskik is.

Die jong, rooi blare is duidelik sigbaar tussen die ouer, groen blare in die lente. Die boom blom van Augustus tot September voor die nuwe blare verskyn. Die manlike blomme lyk goud-kleurig oor al die stuifmeel daarin, en die vroulike blomme is bloedrooi. Die vrug is ’n gelobde kapsule wat met ’n plofgeluid oopbars van Oktober tot Februarie.


Die tambotie is ?n medium-grootte boom

Springboontjie
Die tambotie is bekend as ’n‘springboontjie’ boom omdat die ryp vrugte oorgeneem word deur larwes van ’n klein, grys mot, Emporia melanobasis. odra die sade in segmente opbreek en van die boom afval, lyk dit asof die stukkies onder op die grond rondspring in die hitte van die dag. Dit gebeur omdat die larwes rondruk, wat die saad sentimeters in die lug op kan laat spring.


Die tambotie se ?springboontjie? sade

Die tambotie is ’n gewilde voedselbron vir diere. Tarentale, fisante en duiwe vreet die vrugte terwyl koedoes, njala, rooibokke, blou-ape, olifante, bosbokke, kameelperde en elande die blare aan die boom vreet. Swart renosters vreet die jong takke. Duikers, rooibokke en njalas vreet ook die droë blare wat van die boom afgeval het.

Die tambotie se hout is tradisioneel gebruik vir heiningpale, dakbalke, houtsneewerk, wandelstawwe en om krale mee te maak. Die hout is so sterk dat gewere daarvan gemaak is en daar is met tambotie-pyle gejag. Die giftige melksap is aan die pylpunte gesmeer. Die aktiewe bestanddeel in die melksap is bekend as diterpene excoecarin.

Groei
Die tambotie is redelik droogte- en rypbestand, maar groei baie stadig. Hy groei maklik van saad, maar dis moeilik om sade te kry wat nie deur larwes ngeneem is nie. Die sade moet versamel word voor hulle van die boom af val. Hulle moet dan in hours wat met riviersand gevul is, gesaai word sonder om hulle te bedek met sand. Druk hulle net in die sand tot hul gelyk is met die oppervlakte en hou vogtig.

Die tambotie is ’n beskermde boom.

 

© 2019 Die/The Bronberger