Die regte plek vir ?n groot dors PDF Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 14 December 2011 06:34
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuier-plekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal
self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

As jy ook dié vakansie tuis bly of as jy ledige vakansiedae het voor jy weggaan of ná jou terugkoms, gaan jy ook bes moontlik soos ons, ‘n draai by die nuwe, groter, beter Dinokeng wildtuin maak. Of jy gaan die baie wat die historiese Cullinan te bied het, beproef, of die natuurpaaie van De Tweedespruit en Brandbach verken.

Nou, as jy dit wel doen en jy bevind jou dalk op die Kwamahlangu-pad anderkant R&R slaghuis en dis warm en jy raak honger en jy raak veral dors, moet jy net nie verby die afdraai na Sandwani Game Lodge ry nie. Want hier kry jy ‘n onpretensieuse kuierplek waar die welkom warm is en die drank amper verniet is. Hulle noem dit die Wawiel Pub & Restaurant.

Ons val in by die Wawiel op ‘n lekker hetige, dors November-Sondag. Vriend Robert Denton het my van die plek vertel. Hoe meer jy daar drink, het Robert gesê, hoe meer spaar jy.

Die kroeg en eetplek is lekker ruim en redelik koel, soos wat dit meestal in die hitte onder ‘n grasdak is. Twee senior pare is besig om hulle Sondagmiddagete by die tafeltjies af te handel en ek en Metgesel maak ons by die toonbank tuis. Hulle het nie rooiwyn nie, maar kry later regte rooiwyn van die Kaap af, sê die vriendelike, gesprekkige kroegvrou. Dis warm genoeg en Metgesel bestel een van daai goed wat droog is maar gedrink kan word. Hy kos net ‘n aksie meer as dit waarvoor ek hom laas by die bottelstoor kon aankoop.


‘n Lekker ruim kuierplek met ‘n vriendelike kroegvrou

My whisky, van die soort wat die ou moet kry oor hy die kroegsleutels met sy visstok gevang het, kos R8 per sopie. Dis ‘n prys wat ek laas, ek dink in 1988, by ‘n kroeg daarvoor betaal het. Mooi, dink ek by myselwers, hier spaar ek vandag ‘n plaas se geld.

Maar lank voor ek genoeg vir die plaas kon spaar raak ons honger. Die spyskaart gee nogal ‘n groot keuse, maar Robert het gesê hy beveel die basiese pizza aan. Dié Margherita kos R30 en word van ‘scratch’ af op die perseel gemaak. Ek weet nie hoekom nie, maar ek besluit om die Regina met ham en sampioene te bestel teen R46.

Toe die gedoente aankom is dit duidelik heeltemal te oordadig vir een normale mens om baas te raak. Oordadig met die kaas en oordadig met die ham en baie vullend, maar nie sleg op die tong nie. Ons vat meer as die helfte huis toe.

Jy kan ontbyt eet vir tussen R25 en R45, alles van die spek en eier soort. Verskillende variasies van kruisskyf en beeshaas (fillet) word bedien, ‘spare ribs teen R50 of R80 vir 500 g, ‘n verskeidenheid slaaie, vis en hoender, broodjies en burgers – die gewone sal jy by Wawiel kry.

Metgesel is nie een wat kla nie. Sy bestel die hoender-schnitzel met sampioene en gebakte aartappel en kry die een met romerige kaassous en tjips, maar sy sê dis oukei. Die schnitzel is woestyndroog en taai, ek weet ek het geproe, maar Metgesel sê dis ook reg. Sy is buitendien nie baie honger nie. Dit gaan huis toe vir die honde.

Ons het desondanks lekker gekuier by die Wawiel en ek is seker die ander geregte is meestal nie in die aard van dié dag se schnitzel nie. Die wildplaas bied ook allerlei ander buitelugaktiwiteite, sou jy belangstel in meer as om jou dors te les. Jy kan 082-782-1045 bel om meer uit te vind.  

 

© 2019 Die/The Bronberger